As jy soos ek al ‘n paar keer om die maan is, of sal ons sê twee keer verby die kansel, dan het jy al bietjie meer realisties geraak.
Met ‘n lotjie ander mislukte verhoudings ook agter die blad, dalk meer sinies. Dan weet jy die liefde is ‘n wonderlike ding, maar hy staan maar meestal en dink waar die muishond stink!
Want stink is daar maar baie stink ook nè! #loveisnotenough
Of jy jonk en verlief is en glo in unconditional love – of dalk nog net te veel romantiese flieks agter jou blad het. Dalk is julle een van daardie paartjies wat al 20 plus jare getroud is, met ‘n kroos wat so amper, amper uit die huis is. Die wat almal in die voorstede gade slaan en inskiklik kopknik oor die goeie, gelukkige paartjie wat daar gaan, met hulle wandel skoentjies aan. Miskien is jy een van dié wat in jou goue jare jou sielsgenoot raakgeloop het. Vir die wat nou al wil begin soek, hier is die top wenke 😜 ~ You Can Find Your Soulmate at Any Age Of dalk swem jy nog êrens in die moeras rond, tussen die aanlyn-verhoudings toeps of webblaaie, soos “Die hoekie vir eensames” van ouds. Liefde is wonderlik, maar ons weet almal dat daar waar die mens betrokke is, is niks ongekompliseerd nie. #loveisnotenough
Reg om geoes te word
Vir die wat op hierdie Valentyn se dag hunker na ware liefde, na daardie gevoel van toegeneentheid, respek, warmte, ‘n holte vir jou hart en ‘n plek om te behoort. Wel
Love is ‘n komplekse storie.
Die goeie nuus is egter, What Oprah Knows for Sure About Real Love, dat liefde oral om is. Reg om gepluk en in water gesit te word. As jy gelukkig is kan dit steggies maak en groei.
When you make loving others the story of your life, there’s never a final chapter, because the legacy continues. You lend your light to one person, and he or she shines it on another and another and another.
Na my paar omwentelings en die gade slaan van verhoudings, het ek ‘n paar goed wys geraak. Liefde is wonderlik, liefde is noodsaaklik en om lief te hê sekerlik een van die mooiste goed in die lewe. Maar liefde is nie genoeg nie. #loveisnotenough
Hoe vind mens die ridder op die wit perd?
Glo my vry, ek is nie deel van die groot debat ~ The Great Debate: Is Valentine’s Day a waste of time and money nie. Ek is pens en pootjies in die ding. Ek glo ons moet soms, al is dit met te duur blomme of soetsappige kaartjies, gedwing word om voorraad opname te maak. Om vir iemand so ‘n bietjie romanse te bring. Want soos Oprah tereg gesê het ~ deel dit uit en die lig word keer op keer weer aangesteek. Soos ‘n vlammetjie wat in ‘n veldbrand kan ontaard.
Maar ek dink ons sit dalk die pot effe mis. Want dat dit harde werk is, dis vir bleddie seker! Sê so op die voorraand van die dag aan Mnr G ~ as dit ook nie vir my was wat soos ‘n foksterriër vasgebyt het nie, was ons twee dalk ook al in die asdrom😜
So die man op die wit perd, hy kom nie meer daar by die plaas hek ingejaag nie. Hy gaan jou nie van jou voete kom afslaan en behendig op die perd se rug tel, om met jou in die sonsondergang in te verdwyn nie. Sien as ‘n ruiter, is daar soveel onromantiese dinge aan daardie idee ~ eerstens is dit donners moeilik om sommer so opgetel te word. Dis nie net vir lig en spring nie. En dan om bloots daar op die perd se gatte te sit op ‘n galop, sal jy jou sit moet ken suster! #loveisnotenoughforyourtositpretty
Die reine waarheid
Die probleem met hierdie verafgoding van die konsep van liefde is dat dit onrealistiese verwagtinge skep. Dis soos ‘n jong paartjie, wat opgewonde die koms van die eerste baba afwag. Almal vertel hulle met so ‘n weet-dit-alles houding, dat hulle lewe NOOIT weer dieselfde gaan wees nie. En met elke liewe sel in hulle liggame glo hulle die mense is verkeerd. Die ou babatjie gaan mos hulle verhouding versterk. Nou ja, vir die van ons wat al daardeur is, ons bly maar net stil.
Want sien die verwagtinge word soms deur die roos kleurigheid oorskadu. #loveisnotenough
Liefde beteken nie jy is een honderd persent versoenbaar nie. Kyk so bietjie terug oor al die verhoudings wat jy al in jou lewe gehad het. Van daardie eerste fladdering, tot die mannetjie op hoërskool wat jou ma se hare laat rys het. Ek het die kunstenaars tipe gehad, op die prulle ouderdom van 21 was dit opwindend en die man het behoorlik my hart laat bokspring. Was glad van bek ook boonop. Maar laat ons nie vergeet hy was nie die een-vrou-op-‘n-slag tipe ou nie. Nee, nee sy ego het ver en wyd gesoek. Was hy goed vir my, BITTER BAIE DUIDELIK nie! Blameer hom nou nog vir die 15kg wat ek opgetel het a.g.v. van hom. (Darem weer afgeskud so oor die jare heen.)
Om hals oor kop verlief te wees, is wonderlik!! Daarmee gaan niemand stry nie. Maar daardie tipe liefde word met die emosies gedoen. En om iets in gemeen met iemand te hê, iets wat jou gaan waarborg dat jy dié een gevind het ~ The No-Bullshit Way to Find “The One” ~ is ‘n rasionele besluit.
Kyk bitter mooi watter waardes die persoon het wat jy reken jy die res van jou lewe mee wil spandeer. Hoe hulle ander mense hanteer, hoeveel respek hulle vir ander, maar ook hulleself het. Want dis daardie klein jakkalsies, wat dalk nou so aantreklik is, wat die wit blits uit jou gaan irriteer as albei langer in die tand raak. #loveisnotenough
Om op te maak is bedwelmend. Gaan dit nou nie hier uitstip nie, maar wie het nie al na ‘n moerse argument, ‘n goeie opmaak sessie beleef nie. Dis asof ‘n mens al die liefde en aanvaarding en behoort uit daardie persoon wil opteug. In asem en jou hele wese wil gerusstel, alles is ok. Jy is nog geliefd, jy het dit nog, die probleem was nie so groot nie. Net om in daardie einste, toksies siklus te bly verval.
Die geneuk is dit, al daardie vlamme gaan die huisie op die ou einde afbrand. Êrens langs die pad gaan die hitte net te veel raak en iemand gaan of smelt, of net van die “brand” weghardloop.
Maar as daar ‘n ordentlik fondasie is, ‘n rede vir die samesyn en die vasbyt wat dieper lê as ‘n gehyg, sal dít darem bly staan en kan die huisie weer herbou word.
The first lady explained what has stopped her walking away from her marriage is eerlik, opreg en op die man af. #loveisnotenough
As jy in ‘n huwelik, of langtermyn verhouding is en jy het nog nooit gevoel jy wil loop nie…dan is iets vreemds aan die gang. Huwelike en daardie tipe verbintenis is NIE MAKLIK NIE. Maar dit kan so bevredigend ook wees.
“If I had given up on it, if I had walked away from it, in those tough times, then I would’ve missed all the beauty that was there as well,” the 56-year-old added.”
Jy kruisig jouself nie. As jy jou selfrespek, jou vrede en jou siel moet verkoop om iemand anders gelukkig te hou ~ dan is jy nie in ‘n verhouding nie. Dan is jy ‘n slaaf vir iemand anders se behoeftes.
Sekerlik is van die lekkerste goed in die lewe om iets vir ‘n geliefde te doen. Wat ook al jou What Are The 5 Love Languages? Everything You Need To Know is. Is dit nie net wonderlik hoe die liefde werk nie, hoe maklik ‘n mens jou eie begeertes en behoeftes op sy kan skuif om ‘n ander geliefd of belangrik te laat voel nie?
‘n Liefdes ooreenkoms is veronderstel om mekaar se identiteite te seëvier en mekaar aan te vul. Nie om mekaar te vertrap of stenig vir wie en wat ons is nie. Is ons andersheid dan nie hoeka wat ons in die eerste plek na mekaar aangetrek het nie?
Die eerste, belangrike verhouding is met jouself!
My liefdeslewe en intriges so oor die jaar lyk soos ‘n Smörgåsbord. Ietsie van alles.
Want dis mos die punt. Deur jou lewe val jy jou katswink vir soveel verskillende karakters. Dis wat dit so ongelooflik mooi en wonderlik maak.
Maar jy land eers behoorlik op jou voete en het genoeg deursettingsvermoë, as jy regtig jouself lief het. Met al jou hobbels, gate en geraamtes.
My liefste Valentyn, my wens vir jou
Is dat jy vandag liefde kan vind in die wind
Dat die liefdes vure hoog sal brand
Met ‘n onblusbare vlam
Vir al die jare van jou lewe
Be my Valentine #loveisnotenough
Het jy ‘n mooi liefdesverhaal? Pen dit neer en deel met my by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.