Vol 129:  Saam met die hoenders!

Dis 5 uur in die oggend, geen wekker gestel, maar my liggaam se klok sê dis opstaan tyd. My Circadian rhythm is al so gekondisioneer, dat dit klokslag om 5 uur in die oggend sê ~ staan op suster, die oggendstond het goud in die mond!

Wel eintlik is dit my blaas wat teen daai tyd sê, staan op, maar dalk is dié ook al so gekondisioneer om dan leeg te maak😝 Eerste ding om voor dankbaar te wees in die oggend, dat die blaas nog werk! #jointhe5amclub

My brein is so bedraad, of dalk oor die jare gevorm deur die noodgedwonge herhalinge ~ The Neuroscience Behind Habit Change ~ dat ek my vrek sal sukkel om dit te verander. Ek is ‘n oggend mens.  Want sien my brein is deur ‘n paneelklopper se werkswinkel vir nou al amper 50 jaar.

#jointhe5amclub

Eers was daar die opstaan met die sonsopkoms op die plaas. My pa het reeds 5 uur opgestaan, die koffie so deur die vlak gejaag en dan wou sussie op. Want sy wou daai klein trommeltjie met die gekookte eier, die koffie fles en die emalje bekertjie bo-op pak. Sy wou self haar marmite soetsuurdeeg toebroodjie eet en hoenders kosgee saam met haar Ma. Gretig om die dag te begin en niks op uit te mis nie. Maandag oggende was spesiaal, dan moes die groter kinders die vroegoggend geleentheid dorp toe, koshuis toe, vang. Almal om die tafel, dogters wat mor en kla ~ effe meer voet slepend as die kleinsus, want die “hok” het gewag. Kleinsus sou later jare verstaan, dat ‘n Maandag oggend opstaan om skoolkoshuis toe te gaan nou nie juis mens met ‘n huppel in die stap laat nie!


Ek is ‘n oggend mens

Wel nie juis in my tienerjare nie, toe wou ek oor ‘n naweek net slaap. My ma het die gewoonte gehad om as die son sy kop lig, jou kamer binne te storm met ‘n “Môre-môre, dis opstaantyd. Die son sal jou gat ook warm bak.” Ek wou net so ‘n bietjie inlê, want dit was gedwonge opstaan op ‘n Maandag, saam met die hoenders, om die skoolbus te haal. Dit was ‘n vyfdaags, vroegoggend wakker geskreeu word deur die sirene by die koshuis. (Daai ding sal tot vandag toe my nog aan ‘n straf kamp se sirene laat dink, geen mens kan rustig ‘n dag in met daai geloei nie!) Maar die patroon was reeds vasgelê! 

Dit was offisieel. Ek was ‘n oggend mens gemaak en laat staan. #jointhe5amclub

Tot die baba gekom het, met die koliek en die nooit slaap. Ek sou wat wou gee om in die oggend net nog te slaap. Hulle sê mos nie verniet, slaap wanneer jou baba slaap nie. Wel, as die klein stront die hele nag wakker is en nét mooi wanneer mamma moet op, te gaan werk, dan slaap boeta darem ‘n hond uit ‘n bos. Ek het soos een met ‘n permanente babbelas gevoel. Toe was ek nie ‘n oggend mens nie. Toe was ek nie ‘n mens nie!

#jointhe5amclub
#jointhe5amclub

O aarde en toe volg die tydperk met die liefde vir die @wynvlieg en sy trawante. Ek is nie enig in my soort as ek sê, dit laat mens met ‘n lomerigheid nie. Ek was een van daai wat sommer vroeg moes bed toe in die aand, want die wyn het sy tol geëis en wou rus. Nee man, nie vallende dronk nie, net reg vir slaap. How Does Alcohol Affect Sleep? It’s Worse Than You Think~ moerse baie is die antwoord! Hier teen 2 uur in die oggend, as die etanol jou stelsel verlaat, is jy lekker wakker akker. Net om die volgende oggend te wens die wekker gaan NOOIT af nie. Jou roes te lê en afslaap. 

Maar al daai dae is iets van die verlede! Voor daar nog die idee van THE 5AM CLUB: OWN YOUR MORNING. ELEVATE YOUR LIFE was, voor iemand dit neergepen het. Was ek reeds daar. Het so ‘n paar keer gestruikel oor die jare heen, maar nou is ek weer terug. Reg vir die ding! #jointhe5amclub

Wat gebeur so vroeg in die oggend?

Die ding van so vroeg in die oggend wakker wees, is dít. In die meeste huishoudings is daar maar min “hoenderhane.” Daar is min mense wat al 5 uur in die oggend wil op. Dit gun jou dus die tyd, om onverstoord op te staan en tyd vir jouself te hê! Voor die malle gejaag van die dag begin. Voor enige iemand iets van jou verwag. #jointhe5amclub

Dis JOU tyd! Net joune om die dag mee af te skop. Benefits of a Morning Routine. Want sien met daardie “stiltetyd” in die oggend, kan jy by jou self in-check. Seker maak alles is in orde in jou binnekamer. Jy kan mediteer, oefen, jou Bybelstudie doen, jou dankbaarheids joernaal voltooi. Mense dink ek lieg as ek dit sê, maar sonder daardie vroegoggend opstaan en my rituele, val my dag letterlik uitmekaar. Dis een groot gemors en gejaag na wind! 

Die afgelope naweek was ek mos op ‘n “vroue naweek” weg. Vroeg oggend, toe almal nog slaap, was ek op. Die weskus mis het dig gehang. Ek is daar veld in, met my plakkies oor die duine. Die oggend see gaan beloer. ‘n Skilpad padlangs gekry, hom gegroet. My dag was reg begin. 

Baie van ons vrouens is oorwerk, oorweldig en sommer net bloot gedaan. Ons dink daai glas wyn aan die einde van die dag, die uur of twee voor die TV na die kinders uitgesorteer is, is genoeg selfversorging. Dat ons afskakel, dit verdien aan die einde van ‘n dag. Dat dit die battery sal herlaai ~ maar as ons eerlik is, voel ons eintlik permanent soos ‘n uitgedroogde vadoek. En ons is gegrief. Want ons huismense sit op ‘n hulle gatte en ons doen alles. Ons is eintlik siek en sat om altyd moeg, gespanne en oorweldig te voel. 

So wat is hierdie 5 uur-in-oggend storie 

Wel dit maak seker nie saak of jy nou 5 uur uit die vere kom, of ‘n fraksie later nie. Dis bloot die idee van vroeg op, wanneer jy jou slaap geslaap het. Daai uur wat jy NET VIR JOUSELF opsy sit, om net na jouself om te sien. Geen kosblikke te pak, of eposse te stuur nie. Net jy, met jouself en jou siel in jou hande! 

#jointhe5amclub

Robin Sharma is ‘n man wat ook ‘n monnik geword het. Kan duidelik met ongemak sit en is ook gemaklik met stilte en uitdagings. (Ek weet darem nie hoe mens vir ‘n hele jaar in stilte kan sit nie. My kop sal my mal dryf…maar glo, na ‘n ruk raak alles stil!) 

Hy is dus ‘n groot voorstander van die stil word ding. Die alles inpak wat vir jou goed is, voor die dag sy verwagtinge in jou rigting gooi.  Sy boek stel voor jy moet 20 minute oefen, 20 minute mediteer, in jou dagboek skryf. En dan 20 minute iets nuuts lees of aanleer. 

Maar soos met alle goeie intensies, kan daai een natuurlik by die voordeur uitvlieg as jy dit nie geniet nie. Laat ek nou ook nie hier deur my tande lieg nie. Elke oggend as daai blaas my roep, of die wekker wel afgaan, dan sit ek op daai troon en dink aan elke verskoning ONDER DIE SON, hoekom ek nie my oefen klere moet aantrek en by die voordeur moet uit nie. Dis ‘n onderhandelings proses wat ongeveer 10 minute duur🤪! Maar sodra my voete by die voordeur uit is, ek die voëls hoor fluit, die vroegoggend vars lug inasem, of die son sy kop sien uitsteek..dan lig my gemoed. Dan juig my hart! 

Die geheim lê natuurlik daarin dat ek iets doen waarvan ek hou. En om hierdie blogs te skryf, is ook iets waarvan ek hou. So nou word hulle ook vroeg in die oggend gepen. Soort van my dagboek hou en sommer my ietsie nuuts leer, alles in een. 

Pas dit aan en kyk hoe dit gaan

Ek hoor al klaar hoe die verskonings instroom. Nie ‘n oggend mens nie, so baie om te doen in die aand, gaan slaap te laat, wie gaan die kosblikke pak, hou nie van oefening nie. Oggende is net so ‘n gejaag. Dames en here, die verskonings is uit die aard van die saak geldig. Dis uit die aard van die saak, presies wat ons graag vir onsself wil vertel. 

Want, om ‘n oggend mens te wees, beteken vroeër in die bed in die aand. Beteken bietjie minder van Bacchus se voggies in die aand. Beteken jy kan nie tot watter tyd in die oggendure TV kyk nie. Opofferings is daar wel. 

Maar ek kom elke keer aan die einde van ‘n dag en wonder wat ek met daardie dag op aarde gedoen het. Het ek die minute ten volle benut. Sal dit deel wees van my herinneringe. Het ek myself tyd gegun om na myself om te sien. 

En hoe sê hulle, ‘n goeie begin is half gewin! Want glo my vry, as jy reg die dag binnegaan, kan jy hom met ‘n rustige gemoed afsluit in die aand.

Sien jou môre oggend, op die kop 5 uur! #jointhe5amclub

Is jy ‘n oggend mens of ‘n naguil? Laat hoor van jou by  vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *