Manlief wil die naweek by my week, hoe my tien jaar plan daarna uitsien. Vaderland, ek het nog nooit ‘n tien jaar plan van enige aard gehad nie.
Ek vat hom maar soos hy kom. Gryp die geleenthede aan en so aan jy weet. (Dêmmit, ek loop soek toe op…. How to Create a 10 Year Plan for Your Life, )maar spoeg daai idee weer met die tandeborsel water weg!
Maar die gedagte wil nie laat los nie. Vanoggend, is daar so ‘n opgewonde predikantjie op RSG. (Jammer het die man se naam vergeet, maar sal sy entoesiasme nie sommer gou vergeet nie.) Die man se preek, kom asof dit gestuur is. Die tema, Carpe Diem.
Carpe Diem…holrug gery in ons kultuur. Almal weet dit beteken “gryp die dag aan.” Maar die hele aanhaling is eintlik… “Carpe diem, quam minimum credula postero.” Losweg vertaal is, gryp die dag aan, moenie op die dag van môre vertrou nie. (Why Carpe Diem Is Used Incorrectly)
Ek bly dus by my punt, tien jaar plan is vir die voëls. Vandag is die dag, tik-tok-tik-tok, so gaan die sekondes van die lewe by ons verby. (Moet die naderende verjaarsdag wees wat my so na my asem laat snak😳🤪)
Maar ek weet wat manlief eintlik by my wou weet. Hy wou eintlik weet, wat is dit wat ek elke liewe dag van die res van my lewe wil doen, van nou af aan. Hy meet deesdae alles in 10 jaar! Wat is dit wat my gelukkig gaan maak, wat wil EK doen. Natuurlik hoop hy heimlik dat ek alles sal opnoem wat op sy lysie ook is, en ons leef lank en gelukkig saam. Foeitog, maar hy ook nou al genoeg kere sy kop gestamp om te weet dis hoogswaarskynlik nie die geval nie. Ek is mos maar eiesoortig.
Wat staan in my pad?
Ek dink hard…want wat is dit wat ek vir die res van my lewe wil doen? Sou ek gelukkig wees om die rype ouderdom van 80 te bereik, is ek lank al verby die halfpad merk. Fêk mense, die uurglas loop leeg. Maar ek gaan nie in ‘n paniekerige toestand verval nie, née daai is nie ek nie. Neuk noord, dis die leuse.
Maar ek weet ek lieg eintlik vir myself…want wat ek wel weet, is dat ek nou graag elke dag met my lewe sal wil doen. Dalk nie die hele legkaart uitgepak nie, maar ek weet hier binne my wat rus, vrede en vervulling sal bring. Weg is die gejaag na werk. Weg is die begeerte om benodig te word êrens. Ek wil perdry, ek wil opmaak vir al die jare wat ek uit gemis het op daardie passie. Ek wil my kind se pad vorentoe beleef, ek wil tyd hê om te skryf, ek wil die wêreld gaan sien ~ ander kulture, mense, kosse en geure. Ek wil dalk nog mense help êrens langs pad met hulle sielewroeging. (Maar daarvoor moet ek nog papiere loop kry.)
Maar ek vertrou nie om hierdie te deel nie, want ek het vertroue verloor.
Vertroue in ander. Wat dalk mooi te doen het met vertroue in myself. #Bravingtotrust
VERTROUE
Sjoe, wat ‘n gewigtige woord. Die woord alleen laat so ‘n ligte siddering van emosies deur ‘n mens rimpel. As iemand die woorde: “Ek vertrou jou nie” uiter, is dit soos ‘n aanslag op jou karakter. En wys my die edele wat nie dan gekwets voel en aanvallend raak nie.
So wat de donner het vertroue met my tienjaar plan te doen wonder julle seker. Kluts duidelik alweer heeltemal kwyt!
Charles Feltman, skryf is in sy boek, The Thin Book of Trust: An Essential Primer for Building Trust at Work, die definisie vir VERTROUE is … “choosing to risk making something you value vulnerable to another person’s actions,” en WANTROUE as mens reken dat “what is important to me is not safe with this person in this situation (or any situation).”
Daar lê die ding…die ligte gaan by my aan. Ek vertrou myself in die eerste plek nie om te glo, droom en vereistes te stel vir dit wat ek in my tienjaar plan wil sien nie. Dit lei natuurlik ook daartoe dat ek dapper nie genoeg is, om kwesbaar te wees nie. So ek vermy eerder die vraag. Lag dit af en maak ‘n simpel opmerkings soos…”ek glo in elk geval nie daarin nie.” #Bravingtotrust
Want sien, ek reken die eerste slagoffer van die mislukkings in my lewe of foute wat ek begaan het, was vertroue in myself. Ek het heel moontlik myself begin wantrou elke keer wat ek seergekry het, teleurgestel is, skuldig gevoel het of my selfwaarde bevraagteken het. En nog te meer toe ek ander seergemaak het.
Nou waar begin ek dan…die plan is daar duidelik, maar hoe nou gemaak. Hoe vertrou ek myself en die ontvangers van die boodskap genoeg om ook my sê te sê?
Ek dink daar mag dalk ‘n paar rigting wysers wees langs die pad. Kom ons probeer. #Bravingtotrust
Grense is daar vir beskerming
Wel, wel, wel ons sien daagliks hoe grense van lande geïgnoreer word. Hoe mal, magsbehepte leiers net vat wat hulle wil hê. Hoe mense verskuif word by die duisende. G’n wonder nie, want meeste van ons kan nie eers ordentlik grense stel of ander mense sin respekteer nie.
As ek met vertroue ook my planne en begeertes op die tafel wil sit, vir hierdie sogenaamde tien jaar plan, sal ek my grense moet kan stel. En vertrou dat dit gerespekteer sal word. Maar natuurlik sal ek moet bereid wees om ook die ander kant in te sien. Is enige van ons duidelik genoeg oor wat ons gemaklik mee is en waarmee nie? Tik-tok-tik-tok…so gaan ons lewe by ons verby en ons probeer ander mense gelukkig hou. Ons probeer rondom hulle kampdrade dans. #Bravingtotrust
Betroubaarheid
As ek sê dis een van die waardes waarby ek leef en wat seker vir my die mees belangrike kwaliteit in die wêreld is, dan oordryf ek GLAD NIE!
Die een sukkel ek op die tuisfront so ‘n bietjie mee. Mnr G is bietjie meer van die …”whats the use of the mind if you can’t change it” tipe. Hy kan van plan verander in ‘n breukdeel van ‘n sekonde, ‘n ding wat nog 2 dae seker was, word vandag sonder enige wroeging met die badwater uitgegooi en ons is oppad in ‘n ander rigting. Dit maak my absoluut wild.
Dis nie dat hy onbetroubaar is as mens nie, maar hierdie verandering van rigting kan my soms ‘n sweepslag besering gee. Why are people unreliable… dis maar net dat sy prioriteite verskil van myne.
Maar sien, as dit mos nou een van daardie dinge is wat ‘n mens hoog op prys stel, dan is die kanse dat jy jouself al ‘n paar keer in die steek gelaat het HEEL GOED.(Hmmmm….laat my so bietjie wonder of dit nie die rede tot my aanhang van die ou konsepie is nie!🙈) #Bravingtotrust
Ek het myself al lelik in die steek gelaat, vele nagte na ‘n gefuif wakker geword met ‘n bedonnerdgeit vir myself wat ek nie kon wegredeneer nie. Al weer nie gehou by my voornemens nie. Die diëte was dieselfde storie. Die “hou-jou-mond-dig-toe” voornemens. Ek kan aangaan en aangaan en aangaan.
Dalk is ek bang met hierdie 10 jaar plan, dat ek my sal moet verbind tot dit wat ek wil doen. En wat dan? Wat as ek dan op die ou einde nie betroubaar genoeg is om dit regtig, egtig te wil doen nie? #Bravingtotrust
Vat jou pak soos hy kom
Nog ‘n ding van VERTROUE bou, is as ‘n mens bereid is om verantwoordelikheid te vat vir jou misstappe. Verskoning kan vra daarvoor en tot aksie oorgaan om dinge reg te stel.
Nie juis betrekking op my tienjaar plan storie nie, maar nou dat ek so lekker aan die gang is, raak ek dit sommer aan.
Ons is tog so geneig om aan te val, te verdedig…daai oomblik as ons in ‘n hoek gedruk voel. In plaas daarvan om nie soos papbroeke weg te hol nie, kan ons sekerlik maar ons foute erken. Waar ons dalk mis getrap het, verskoning daarvoor vra en dan daadwerklik tot aksie oorgaan.
Gepraat van…dink ek nou, vele keer trap ons op ons geliefdes se drome of vrese. #Braving to trust. Ons kweek geensins die vertroue dat hulle met hulle mees kosbare, breekbare drome na ons kan kom en dit aan ons kan kom voorlê nie. Nee ons trap dit eerder stukkend en is dan te papbroekig om jammer te sê, om die stukkies te help optel en weer aanmekaar te las nie. Of die drome selfs groter te bou en die vrese diep, ver weg te bêre.
Hê ‘n bietjie inbors toe
As mens VERTROUE wil kweek by jou geliefdes, dan moet mens jou What are our Seven Core Values leef. Dit help nie jy loop blaker dit uit in die kerk se banke nie. Dit help nie jy gee voor jy is so beginselvas, maar as jy tuis is, dan bly dit by hoorsê nie.
Partymaal sal dit ook goed wees vir ons almal as ons die bietjie moeiliker pad kies. Die een wat ons geliefde graag wil stap, nie die pad wat vir ons makliker, vinniger of na meer pret lyk nie.
Want as jy wil voorgee jy glo in regverdigheid, liefde en deernis, kan jy nie begin oordeel die oomblik as dinge nie in jou rigting trek nie.
Oordeel is ‘n vieslike ding. In ‘n verhouding is daar tog nie ‘n siel op aarde wat nie graag hulle drome, hulle tienjaar plan as’t ware, na die tafel wil bring, sonder ‘n vrees vir oordeel nie. Om te kan vra vir dit wat jy die graagste wil hê, om te kan praat oor hoe jy voel en om vir hulp te vra, daar waar jy tekort skiet, dis die ding van VERTROUE. En oordeel bring ‘n einde daaraan. #Bravingtotrust
Vrygewigheid
O gonnatjie Piet. Hierdie is my Achilles’ heel. Dis mos nou as ‘n mens vrygewig is met jou interpretasie van ander se bedoeling, woorde en aksies.
Met ander woorde, as jy die bes moontlike bedoeling daaragter probeer verstaan. Hoeveel te meer sal mense dan nie geneig wees om hulle diepste drome met jou te deel nie. Dalk is ek al ‘n paar keer gebrand, is my idees afgeskiet of minderwaardig geag.
Hoeveel keer in my lewe het ek nie al myself verloën nie. My eie Judas. Om iemand anders gelukkig te hou. Meestal omdat ek aanvaar wou word. Hoeveel keer het ek nie al iets gesê wat ek nie in geglo het nie, net om die vrede te bewaar. Of iets gedoen wat ek nie wou nie, omdat ek wou hê iemand moet glo ek is ‘n goeie mens.
As ek nie vrygewig met myself kan wees nie, hoe op deeske aarde kan ek genoeg vertroue hê dat iemand anders dit op ‘n skinkbord gaan aanbied? #Bravingtotrust
So waar is die tien jaar plan?
Veilig in my kop dankie! Ek is besig om hom te formuleer – want om eerlik te wees, dis begeertes, maar die vertroue is nog effe dun gesaai. Vertroue dat my plan kan inpas in die groter prentjie, of vertroue dat ek dit weliswaar sal doen.
Want sien, dan moet ek betroubaar wees😛. Tik-tok-tik-tok…die tyd stap aan! #Bravingtotrust
Hoe lyk jou vertrouenswaardigheid? Skryf ‘n brief na vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.
Soos altyd is jou woorde nommerpas! Ek glo as ek die kuns kan leer van “let go” sal my tien jaar plan my veŕras! Dan is dit waarlik #bravetotrust
Ek moet sê was so bietjie van ‘n Aha oomblik toe ek besef ek vertrou nie myself en nog minder my man dat my drome en idees vir die volgende 10 jaar geldig is nie.
10 jaar plan, ek weet nie eers of ek nog krag het om aan n plan te wil of kan werk nie….soveel ander dinge wat jou gedagtes, tyd en energie verg…. maar beslis n briek aandraai met hierdie skrywe….. om tyd te maak vir myself….en dalk wie weet…..vorm n plan…. …alles gebeur mos met n doel……
Charlotte dankie vir die skryf. Jong ek dink nie dis so seer dat ons nie weet, hier diep binne ons harte, wat ons graag in so ‘n plan wil sien nie. Dis net ons het vertroue verloor. Vertroue om te droom. Vertroue om te deel. Vertroue om te glo dit kan ‘n werkelikheid word nie. Ons moet net weer ‘n slag GLO, VERTROU en HOOP.