Dis dalk hierdie hartverskeurende tonele uit die Oekraïne, van wildvreemde mense, wat so te sê, a.g.v. omstandighede, oornag vriende word.
Of dalk ouers wat hulle kinders oor grense heen wegstuur met vriende omdat hulle moet agterbly om te veg, of na bejaarde ouers moet omsien. Ek weet nie, dit breek my hart in duisend stukke, maar gee my ook soveel hoop vir vriendskappe. Vir die mens se vermoë om te kan uitreik, ‘n konneksie te wil en kan maak. Luister gerus hierna…dis nie vriendskap nie, maar dit wys samehorigheid, menslikheid Prayer of Ukraine FLASH MOB – London. En dis boonop net mooi vir my.
Vandag staan ek in dankbaarheid. Dankbaar vir die goeie vriende wat ek met die hand uitgekies het. En selfs die wat my gekies het. Ek hoop julle lees almal vandag hier en weet dit… sonder julle sou ek al maller as ‘n gans gewees het. #theimportanceoffriendship
Wie het tog vriende nodig
Ag regtig, ek het ook al mense gehoor wat dink hulle is verhewe bo die vriendskap van ander. So tipe van ‘n eiland so doer op hulle eie. Magtig en onaangeraak deur die lewe. Wel, dis sommer net ‘n groot klomp stront, soos meeste van ons weet. Want The Importance of Friendship is nie te onderskat nie.
Soos die voet dokter my nou die dag inlig, na hy die paar “pragtige” knopperige, plat voete van my gade slaan: “Hulle sê mos nie verniet jy kan jou vriende kies, maar nie jou gene nie, nè.” Moet saamstem met die man ~ gelukkig vir my natuurlik het die meetsnoere vir my ver en wyd geval🤣. Nie wat die mooi voete betref nie, maar wel die familie. Ek is een van die gelukkiges, wat my familie(wel die naaste aan my) ook as my vriende kan tel.
Maar alle grappies op ‘n stokkie, ek is oor die algemeen vriendelik. Want my ma het altyd gesê ~ vriendelikheid kos niks. Maar manlief meen ek is ‘n snob. Hy sit natuurlik die pot HEELTEMAL mis. Ek is nie ‘n snob nie. Ek kyk nie neer op mense nie, ek stel net eenvoudig glad nie belang daarin om my of enige iemand anders se tyd te mors, deur voor te gee ons verkies mekaar se geselskap nie. Ek is dus kieskeurig oor my vriendekring. En darem dankbaar om te kan rapporteer, dis nie beperk tot net een vriendin nie😁! Hoe sê hulle ~ soort soek seker maar soort. #theimportanceoffriendship
Terug by die hoekom. Die hoekom wat skuil agter my begeerte om verrykende vriendskappe te hê. Wel eerstens is vriende daar om al die lekker dinge in die lewe te deel. Om te gaan koffie drink en goed te skinder, of dalk daai uitstappies berge oor, of na die naaste groot winkelsentrum. Ons koek en tee, of hang by die gym uit. Ons maak herinneringe reg daar langs die sportveld of by ‘n snoepie. In ons goue jare, dalk oor ‘n album of breipenne en die kerkbasaar.
En dan natuurlik, is vriende daar om jou deur die moeilike tye te dra. Vaderland weet, hoeveel hartseer verhale het ons nie al oor die jare met ons vriende gedeel nie. Van verlepte verhoudings, tot kinders se streke(groot of klein), tot gevreesde siektes kon ons gaan afpak by vriende. Dalk moes jy al ‘n oornag skuilplek vind, of stoorplek vir jou goed. Vriende het baie maal die gewoonte om in te tree, daar waar die familie se skaam en ordentlikheid hulle weghou…die “ek meng my mos maar nie in nie.”
Versigtig oor die klippe
Ek luister so na van die jonger generasies hier in my nabye kring. Staan soms verstom oor die katterigheid, die getjommel met vriendskappe. Maar ‘n baie onstandvastige storie die vriendskappe van hulle. Wat my meestal opval is wat die sielkundige, Caroline Anderson in hierdie artikel, why we crave friendship beskryf as ‘pop psychology.” Dis die geneigdheid, wat met die koms van sosiale media geskep is, om tog soveel moontlik aanhangers as moontlik te hê. Dan moet ek seker ook eerlik wees, hierdie blog is seker tot ‘n mate ook maar só ~ ‘n soeke na nog aanhangers, ‘n uitbreiding van “vriendskappe.”🙈
Dis vir my hartseer, want dis asof die soeke na ware vriendskappe verlore geraak het. Of mense mekaar wantrou die meeste van die tyd en nie vertrou dat daar wel mense daarbuite is wat vriendskap waardevol ag nie. Wat sonder rede, net sal ondersteuning en liefde gee. Jou waardevol ag.
Ons weet almal dat soos ons deur die lewe gaan, ons omstandighede vir ons vriende bring. Friendship chemistry: An examination of underlying factors is ‘n ding. So het ons vriende wat by elke lewensfase inpas en dan stadig maar seker dryf mense uitmekaar. Soos ons belangstellings verander of ons lewens fases net aan beweeg, verander dinge. Maar daar is tog daardie vriendskappe wat die toets deurstaan. Daardie vriendskappe wat ons nooit verlaat nie.
En dis daardie vriendskappe wat ek vandag wil besing. #theimportanceoffriendship
Die blatante eerlike een
Dis nou daai staatmaker vriendin, wat nie rondloop met die heuning kwas nie. Sy draai nie doekies om nie en jy kan altyd op haar staatmaak om vir jou die reine waarheid te vertel. Sy is eerlik, reguit en bedoel dit met die grootste opregtheid.
Gelukkig is die een van my ‘n groot diplomaat ook. 😃 ‘n Uitstekende luisteraar en kan die boodskap van eerlikheid ook so sag soos sneeuvlokkies laat neerdaal. Maar daar is altyd wysheid, altyd deernis betrokke. Sy weet ook van watter stoffasie ek gemaak is, so sy weet sy kan maar eerlik wees. Ons weet beide dat “what you see is what you get.” Ons weet ons kan ons diepste seer, ons grootste vrese, ons kwaaiste kwaai met mekaar deel en dit sal ok wees. Ons kan eerlikheid van mekaar verwag, maar verseker as die ander dinges die waaier slaat, dan is ons daar in al ons glorie.
Die versorger
As ek nou so dink, is ek darem ‘n geseënde vrou wat die een betref hoor. Dis nou daardie vriendin(ne) wat altyd besorg sal wees oor jou welstand. Wat sal sekermaak jy is veilig tuis, wat sal opdaag met ‘n hele ete(nie net ‘n bord vol kos nie,) wat sal aanbied om in jou nood vir jou êrens heen te ry. Wat bel op ‘n oggend om net te vra…leef jy nog? Hoe gaan dit nog?
Hierdie is daai mense wat al opgedaag het met die siekte van ‘n ouer en kos gebring het. Wat saam met my sal kwets oor onregverdigheid, wat in ‘n geselskap sal opstaan vir my kind. Wat elke liewe een van my blogs sal lees(of darem ten minste voorgee sy doen 😁) en wat dag of nag daar sal wees, ongeag haar eie omstandighede of besige skedule.
Dan is daar dies, wat jy ondanks taal en kultuur verskille, as van jou beste vriende kan ag. Of hulle ver oor landsgrense heen is, al verstaan hulle jou nie aldag so lekker nie. Hulle is DAAR, hulle gee om, hulle sal jou NOOIT in die steek laat nie. Hulle sal ry oor berge en oor dale, of op vliegtuie klim…net om by ‘n verjaarsdagpartytjie op te daag.
Die grapjas
Daar is wragtag twee mense(en hulle noem ek familie ook) wat in hierdie kategorie val. Ek kan altyd, maar altyd op hulle staatmaak om my te laat lag. Ongeag van die omstandighede, goed of kwaad, snaaks of hartverskeurend…ons kan altyd iets kry om oor te glim(lag.)
Die seker maar ons gedeelde sin vir humor, gekweek aan vader skoot. Maar as die kak behoorlik spat, of mens regtig ingedoen voel of sommer net moerig oor ‘n situasie op tuisfront…dan slaan jy daai lyn. En ek is gewaarborg van ‘n kwinkslag of twee, van ‘n skerp uitlating en ‘n “ag hulle moer ook man.” Dan lag en lag en lag ons, en die wêreld is sommer weer ‘n beter plek.
Mens het meer van dies in jou lewe nodig. Mense om mee saam te lag. Laughter is the Best Medicine ~ seker die dat ons almal nog so mooi rond en gesond is!
Die vertroueling
Nou ja, my grapjas klomp is ook vertrouelinge. Hulle weet hoogswaarskynlik meer van my as enige iemand anders. Maar daar is ook een ander…sy kom ook al saam van toe ek ‘n kind was, wel nog net so amper-amper aan die grootmens begin raak het.
Dis nou daardie vriendin wat al jou diepste geheime ken en wat jy met jou lewe kan vertrou. Een wat nooit ‘n klip sal optel en jou daarmee stenig nie. Die een wie se vriendskap nooit sal wankel nie, want sy het alles van jou gesien. En sy aanvaar jou nes jy is. Nee hel, sy aanvaar jou nie nes jy is nie, sy vier dit!
Ons moet almal so een hê, want anders kan die las van ons eie ou klompie stront te veel raak. En ek weet ek is bitter geseënd weereens, want die meeste mense het maar hulle standaarde. Hierdie is ‘n eenmaal in ‘n leeftyd tipe geluk wat mens slaan, maar hou styf vas as jy so gelukkig is. #theimportanceoffriendship
Of skryf vir my by vryheid@wynvlieg.co.za. Ek ken jou tog in elk geval nie van enige Adams kant af nie en ek is goed met geheime hou!
Jou inspirasie
Dis die persoon wat altyd, maar altyd as inspirasie opdaag. Sy inspireer jou om jou beste self te wees. Om nie ingesuig te raak in die lewe se aaklighede nie, om nie te daal waar jy nie wil nie. Maar wat ook een van jou grootste ondersteuners is, wat jou vertel hoe slim en oulik en wonderlik jy is. Wat jou sal inspireer om hoër hoogste te bereik. En hier praat ek nie van daai soort wat dit sommer net sê omdat hulle of gaaf probeer wees óf net gatkruiperig is nie.
My vriendin is een honderd persent die wysste mens wat ek ken. Sy het soveel kennis, soveel ervaring en ‘n vlymskerp verstaan van die mens in pag. As ek vashaak met ‘n kwessie in my lewe ~ hetsy werk of persoonlik, is sy altyd die een wat lig bring. As ek vashaak in my hoekie van wrewel of voel of die wêreld onder my voete begin wankel, kan ek maar net uitreik. Sy bring altyd ‘n ander perspektief. #theimportanceoffriendship
Lank sal hulle lewe, in hulle gloria
Vriende is net eenvoudig die grootste gawe op hierdie aarde!
Mag jou pad besaai wees met goeies, opregtes en die deernisvolles. Mag julle uit julle magere lag en mag julle mekaar se trane afvee. #theimportanceoffriendship
Het jy ‘n besonderse vriendskap? Skryf vir my daaroor en stuur dit aan vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.