Ek is wat mens sal sê ~ in die pylvak. Laaste jaar in die veertigs, daai laaste kans voor die GROOT 5O.
Die arme veertigs dra ook maar swaar aan die verwagtinge. Laat ons nou maar eerlik wees, voorspellings dat die What are the Roaring Forties net die bes moontlike tyd van jou lewe kan wees is nogal vollop!
Ns. toe vind ek vandag eers uit die “roaring forties” is: “a tract of ocean between roughly 40 and 50 degrees latitude south characterized by strong westerly winds and rough seas.” Seevaarders gebruik hierdie winde om gemaklik windaf te seil. Seker maar van daar wat die uitdrukking kom. Wel dat dit ‘n gebrul, gebulk en soms meer van ‘n gekners van tande is, dis vir blêddie seker. Die veertigs is nie net ‘n windaf geseilery nie. #lifereallydoesbeginatforty
Want sien, soos die ou uitdrukking sê ~ die gras lyk dalk hier groener, want in jou veertigs is daar ook heelwat meer stront wat jy op ‘n hoop kan hark! Dalk is mens maar net meer soos die Die lappop van ouds,
“Al die goeters op die ashoop hou gou vergadering
en besluit om lappop te bekroon,
as die ashoop koningin.
Van toe af bly die lappoppie so trots tevrede daar
en al haar onderdane bedien getrou vir haar.”
So wat het ek daar geleer
In my veertigs het ek vele dinge geleer…van julle is al ver by hierdie mylpaal verby. Dink ook seker, ja ai my kind, gaan die lewe jou nog ‘n paar lesse leer😝. Ander weer is nog daar waar al die pyne en skete hulle nog nie begin pak het nie en wonder oor die gepreek wat gaan volg. Maar gun my maar die verhoog ~ veels geluk liewe maatjie. #lifereallydoesbeginatforty
Ek het geleer…
1. Om ‘n masker te dra hoort in die Middeleeue by ‘n bal. Vir soveel jare het ek voorgegee NIKS kan my pla nie, klip hardegat. Ek het niks van enige iemand nodig nie…ek is ‘n onafhanklike wese. Moenie met my mors nie. Wat ‘n groot klomp bollie. Ek is ook net mens. Ek soek ook aandag, ek soek ook liefde en verdien dit. Laaik nogal ‘n bietjie koestering
2. Ek is ‘n Omnivert and ambivert? What are the similarities and differences. Maw ek is bietjie van ‘n verkleurmannetjie. Ek kry my energie verseker van mense, maar ek het ook BAAAAAAAIE alleentyd nodig om te herlaai. So ek draai my mantel so bietjie na die wind. En dis ook ok.
3. Ek laaik van mooi klere. Self expression with clothing is my vorm van kuns. Ek is een van daai vreemde wesens…voel op my gemaklikste in iets stylvol, maar meer aan die aweregse kant. Altyd iets vreemds aan…soos ‘n broek wat lyk of ‘n poep daarin vasgevang is😝. Maar ter verdediging van my klerekas ~ daar is darem ook heelwat siele wat bakhand staan vir ‘n stukkie wat ek nie meer opwindende vind nie. #Life really does begin at forty.(Veral met jou klerekas, want dan is die geldjies vir jouself ook bietjie meer)
4. Ek is nie ‘n sosiale snobis nie, maar ek kan eenvoudig my nie met dom (en veral dom astrante) mense ophou nie. Ek het probeer, ek belowe. Maar ek kan dit nie eers goed wegsteek nie.
5. Ek het gedink ek is vet. Goed, baie dae val ek nogsteeds vir daardie belaglike stem in my kop. Comparison is the Killer of Joy en vir hom moet ek gereeld nog op sy plek sit. Ek is al beter…as ek in die spieël kyk, bewonder ek nou my kurwes en die halwe blokkies maag. Maar die donner maak nog sy verskyning as ek iemand anders betrag wat duidelik ‘n paar kilogramme afgeskud het. Of as ek myself in ‘n foto sien. Ek is gesond, ek kan beweeg en dis wat tel. Ek het ‘n wonderlike liggaam. #lifereallydoesbeginatforty.
6. Ek het ook talente en ek hou van kreatief wees. Ek mag maar skryf as ek wil. Dis nie aldag net maanskyn en rose nie…dinge vloei nie aldag so lekker nie. Daar is ook maar trolle daarbuite, ek raak ook onseker en wonder of enige iemand OOIT die blogs lees. Dan herinner ek myself daaraan….dis net vir my. Dis die kans wat ek het om nuwe dinge te leer, my hart op papier te sit en boonop ook nog die geleentheid het om kliphard na klassieke musiek te luister.
7. Ek mag al my emosies voel. Ek het niks om te vrees nie. Mense, mense, mense daardie een het my lank gevat om onder die knie te kry. Eers het ek emosies vir jare verdrink, weggelag, toegeplak of met ‘n pak skyfies afgesluk. Die wyn was vir die pyn…maar het op die ou einde meer emosionele pyn veroorsaak, as wat ek die wonder van die druif kon waardeer. Ek is daardeur. Ek voel nou alle emosies. Ek plak niks meer toe nie. En boonop mag ek die “verbode vrugte” van die lewe geniet!
8. Diëte is vir die voëls. En nie eers die voëls volg diëte nie. Ek het nie nodig om elke dag van my lewe te oefen om kos te mag verdien nie. Daar is ook nie ‘n hongersnood oppad nie. Ek bly myself afvra… nude_nutritionist. En die antwoord is ‘n klinkklare NEE.
9. Ek het vir te veel jare, te veel tyd in my kop spandeer. Aarde ek kon dinge om en om draai. Ek kon die skuldgevoelens goed laat posvat. Ek kon vir ure ‘n argument ontleed. Kyk waar ek kon anders of sus of so. Ek was tog so bekommerd oor hoe iemand my dade of woorde kon ervaar…maw hoe ek sou lyk in die oë van ander. Nou is ek gawer met myself. Wat is, is. Wat was, was.
10. Ek is ‘n goeie mens. Ja ek was verseker al ‘n teef in my dag des lewens. Ek was ook al nydig op my tyd. Ek kan die houe en die ongevraagde woorde ook maar vinnig uitdeel, as ek vasgevang voel. Ek het al mense seerder as seer gemaak. Maar ek glo vriendelikheid en medemenslikheid kos net mooi niks. Ek weet dat elke glimlag iets kan beteken. Dat ‘n R20 noot vir my kleingeld dalk is, maar vir ‘n ander ‘n hele bord kos. En ek sal bly veg vir die wat onderlê!
11. Die meeste mense se geraamtes en kneusplekke uit die verlede bepaal hulle gedrag. In ALLE OMSTANDIGHEDE. Die ou kwaaie, was dalk geboelie as ‘n kind. Die grootprater verskuil dalk ‘n bang inner kind. Die beheer vraat probeer nogsteeds daardie kritieke afgestorwe ouer, tevrede stel…stil maak. Die ewige gewer wens iemand wil hulle raaksien. Ons het almal ons kneusplekke. Die dag wat ek gemaklik geraak het met myne en hulle ruiterlik kon erken, het ander sin ook minder van ‘n bedreiging geword.
12. Die een was ‘n bitter pil te sluk🤣…maar almal dink nie soos ek nie. Daar is suurstof diewe ook in ons midde nodig. 😜 Die wie se lewensuitkyk net tot sosiale media, ‘n koue drankie en sigaret strek. Ek hoef nie my “wonderlike lewenslesse” te deel nie. Ek moes diepe ondersoek doen en besef Why You Should Stop Giving Advice, What to Do Instead, and A Surprising Reason Why You Should Give Advice. Onder andere omdat ek het net soveel asem oor😛 het en dan julle arme siele het, wat hier lees. #lifereallydoesbeginatforty
13. Een van die grootste lesse was sekerlik dan ook, “Vulnerability Is Not Weakness” and 4 Other Lessons from Brené Brown. Ek aanbid nou die skool en denke van Brenè Brown soos iemand van een of ander sekte. Klou aan elke woord, want sy het my kom verlos van soveel ou bagasie. Soveel so, dat ek my so ‘n klein bietjie met ink laat beslaan het….om te onthou… “Vulnerability is not weakness. It’s the most accurate measurement of courage.” Sy stel dit so mooi… “Choose courage over comfort, vulnerability is the courage to show up and be seen when we have no control over the outcome.”
14. Daar het al baie kakkerige goed in my lewe gebeur. En laat ek nou maar eerlik wees, die laaste 9 jaar was nie altyd maanskyn en rose nie. Ver daarvan. Maar ek weet ook niks was nog ooit so erg, dat ek nie ‘n pad daaruit kon vind nie. Daar is altyd, maar altyd ‘n goue randjie. En as ek nie een kon sien nie, dan het ek gehuil en gehuil en gehuil en gevloek en geskel of duisend maal my suster gebel om te kla. Twee is beter as een as daar ‘n krisis is.
15. “Waarvoor wag jy?,” was seker een van die mees belangrike vrae wat ek die afgelope 2 jaar gevra is. Sien toe ek weer met my perdry lesse begin het, spreek ek eendag my wens om my eie perd te besit uit. ‘n Mede ruiter wou toe kwansuis weet wat my terughou. Hoe lank wil ek nog wag? Nou ja die res is geskiedenis. En vir haar sal ek ewig dankbaar bly. #lifereallydoesbeginatforty
16. Ek hou nogsteeds van tjoklate koek, beskuit en brood. Ek eet nou al hoendervlerkies, maar sal nooit die aartappelslaai bak by die braai plat duik nie. Ek moet maar liefs verby uie, knoffel en bone hou….daar is gevolge ongelukkig!
17. My kind is sekerlik een van die dinge waarop ek die trotste in my lewe is. Ons is al diepe driwwe deur. Ek moes al die lig baie helder skyn vir hom. Daar is dae wat ek sy nek nog wil omdraai, maar ek is trots op die man wat hy uitgedraai het. En dat hy dink oor die lewe, dat hy meer wil weet. En dit maak my nogsteeds effe bang, dat hy sy vlerke dalk eendag wyd sal wil sprei.
18.Ek hoef ook nie so rigied te wees nie. Ha-ha-ha….nou hoop ek Mnr G lees glad nie die een nie! Maar die wêreld sal ook nie heeltemal inmekaar tuimel as ek so bietjie skiet gee nie. As ek ook kan ontspan en ‘n dag in die veld geniet, of ‘n trippie in die gramadoelas nie. Verveling sal my nie doodmaak nie😝.
19. Ek laaik ‘n tikkie selfondersoek. En dit gaan ek nie opgee nie. Ek gaan bly vee voor my eie voordeur, al wil ek dit soms onder die mat vee.
Veels geluk liewe maatjie
Ek dink daar is nog baie lesse wat kom. Vrede maak met die lewe. Dinge gelate aanvaar.
Maar vir nou gaan ek eers tjoklate koek eet vir ontbyt. Ek gaan met my perdry vrinne ‘n vroegoggend rit deur die wingerde vat en Tafelberg aanskou. Ek gaan ‘n moerse duur ete saam met hartsvriende geniet en dan salig gaan slaap.
Want ek kan. #lifereallydoesbeginatforty en ek gaan hom met ‘n gejuig eindig.
Stuur alle verjaarsdagwense, geskenkbewyse aan vryheid@wynvlieg.com. 🤪 Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.
Lekker verjaar geniet jou cjoklade koek ontbyt en jou duur ete saam jou vriende.
En laaste embrace 49 vir die hele jaar hy is joune.⚘⚘⚘⚘
So oneindig dankie! Sover gaan dit baie goed met die 49’s!!
Hi daar, ek is ook 49 vanjaar en sal teen einde Nov. 2022, 50 slaan met ñ force. Ek kan my verseker met baie vereenselwig wat jy hier neergepen het. Ek kan ook onomwonde verklaar dat die 40’s, vir my beter was as die 20’s en 30’s. My lewe het ook letterlik op 40 begin. Dis eintlik ñ baie lekker tydgleuf in mens se bestaan. Ek meen jy is volwasse genoeg om jou man te staan, groot genoeg om nie almal se bollie op te vreet nie, braaf genoeg om standpunt in te neem, deurleef genoeg om (redekik) wyse besluite te kan neem en oud genoeg om verantwoordelikheid vir jou eie lewe en jou kind(ers) se lewe te aanvaar. Sterkte en geluk met die afdraende pad van hier af!
Baie dankie eerstens vir die lees van die blog en tweedens vir die wense! Ek dink die groter wysheid kom so in die laaste paar jaar van die 40’s! Mag jou 50ste ‘n fees wees. Hoop daar is iets groots en goeds beplan!
Ek is 60plus. Dis wonderlik dat jy voor jou 50ste jou lewenslesse toepas. Ek sukkel steeds.
Dankie dat jy neerpen wat vele mense voel.
Dis n gift en dankie dat jy deel.
Ek voel soms Ek leer dieselfde les paar keer oor! 🤣 Maar dis vir my so lekker dat ek met alle eerlikheid kan skryf en dat mense aanklank vind. Asb asb bly ook joune deel.