Aan die begin van die jaar was ek te vasgevang in my eie krisisse. Ek was moeg, bekommerd oor die verplasing wat vir my voorlê en so ‘n ligte, openbare identiteitskrisis beleef. #wherehasallthejoygone.
Ek het dit oral om my gesien ja, maar my eie sorge het dit uitgedoof. Daar was geen wegkomkans van al die ellende in die wêreld nie. Oral was mense vuisvoos van Covid en dié se drag slae, wat net aanhou-en-aanhou kom het. Eskom se beurt krag wat nie ‘n einde wil kry nie, selfs sprake van ‘n fase 8. Die nodelose gesteel of wanbesteding van ons belasting geld, vermanings van elke analis dat ons in ons peetjie is. En toe besluit daai gek in Rusland om die hele wêreld om ver te werp. Vir die wat gerus was, dat hierdie oorloggie vêr van eie bodem is, kom slaan die petrolprys, die kospryse, die werkloosheid, die stygende inflasie, moontlike rentekoersverhogings met mening.
En ek kan nie meer met my alewige positiwiteit, die realiteite ignoreer nie. Te veel mense rondom my is besig om te sink. Ek kan dit sien in die desperate gedeel van spreuke oor What Is Resilience? Your Guide to Facing Life’s Challenges, Adversities, and Crises ~ aanhou, uithou, vasbyt. Maar die meeste mense is nou pê. Uitgelewer en aan die wonder of daar ooit lig aan die einde van die tonnel nog is. #wherehasallthejoygone
Ek voel so magteloos, hierdie is nie meer ‘n situasie vir blote bemoedigende woorde nie. Maar ek is nie in staat om almal finansieel te kan ondersteun, of om elke hoek ‘n brood te koop of elke liewe drenkeling te help nie. Dit voel of die waters net hoër en hoër styg, en die vloedwaters al nader kom.
Dit is letterlik Groundhog Day 2022 forecast: How many more weeks of COVID-19 ~ met ‘n tsunami van ‘n oorlog en die impak op die wêreld wat daarop volg.
Waar is die geluk heen?
Dis vir my moeilik om mense te sien swaarkry. Moedig die stryd voer, maar ek weet hulle slaap niks, die bekommernis oor ‘n veilig toekoms lê vlak. Die rou diep en die verlatenheid strek soms wyd. Ek moes net êrens ‘n kers kry om aan te steek. Troos om aan te bied.
Ek loop toe Karen Walrond se The Lightmaker’s Manifesto: How to Work for Change Without Losing Your Joy raak. Want om eerlik te wees, was ek bang. Bang dat my geluk ook gesteel kan word. Want hoe voel mens nie skuldig om gelukkig te voel, te midde van al die hartseer en onreg wat in die wêreld aan die gang is nie. Hoe kan mens meer help?
Ek hoor oor-en-oor van mense wat sukkel om die huur te kan betaal, ouer mense wat wonder hoe hulle gaan oorleef met die bietjie geld wat oor is, enkel ouers wat benoud raak oor die onderhoud opdroog. Die gewonder oor siekte, die afskaal, die toename van ongelooflike armoede onder die mees weerloses in ons samelewing. Ek sien hoe al die bekommernisse so swaar op my vriende, kennisse, vreemdelinge se gemoed rus en ek wonder: Hoe kan die mensdom nog die geluk in die alledaagse vind? En ter selfde tyd opstaan en baklei vir dit wat belangrik is? #wherehasallthejoygone
Goed slaan ons plat langs pad en wat is die ding wat die meeste van ons doen ~ ons hanteer dit. Want ons moet maar. En dan kort voor lank, val al ons skanse af en besef ons, ons het al ons “geluk” langs pad verloor.
Die vraag is, hoe kan ons genesing bring? Vir onsself, vir ander, vir die wêreld.
Wat van almal anders?
Ek is verseker grootgemaak in ‘n huis waar daar altyd klem gelê is op ander mense met wie dit swaarder gaan. ‘n Goeie lewensles, want die doel daaragter was dankbaarheid. Dat ons moet dankbaar wees vir dit wat ons het. Dat ons altyd meer sal hê as iemand anders.
Ek vind myself effe ontsteld met my moedeloosheid. Want hoe kan ek moedeloos voel, effe benoud oor die wêreld, my kind se toekoms. Dit terwyl daar mense, soos ek en jy is, wat aan die begin van Maart nog ‘n huis gehad het en nou is daar niks. Terwyl daar mense in hierdie land van ons is wat elke dag onder die broodlyn leef en ek soek ‘n stuk tjoklate koek of wonder watter verjaarsdag geskenk ek my man kan koop.
Ek voel skuldig, skuldig dat ek geluk kan vind en so baie om my is verpletter.
Brenè Brown(ja weer sy😜) skryf in haar boek, Braving the Wilderness, die volgende:
“A wild heart is awake to the pain in the world but does not diminish its own pain. A wild heart can beat with gratitude and lean into pure joy without denying the struggle in the world. We hold that tension with the spirit of the wilderness. It’s not always easy or comfortable, sometimes we struggle with the weight of the pull, but what makes it possible is a front made of love and a back built of courage.”
Die een ding wat Karen Walrond gesê het, het my laat stilstaan.
“Everything has a rhythm, I’m starting to believe that is the natural order of things. Is ebbing and flowing. It’s reason we have ebbing and flowing tides, we have waxing and waning moons, we have seasons. “
So twee goed wat vir my uitgestaan het:
- Ons kan ter gelyke tyd sterk, en sag wees. Ons kan met liefde na onsself en ander kyk, maar ook dapper genoeg wees om die onvoorspelbare aan te pak.
- En alles in die wêreld kom en gaan. Dinge bly verander en ons moet onsself dit tyd gun om stil te staan ~ voor dit golwe te groot raak.
So dit wil my voorkom, dit lê in die “laat gaan!” 😳 Oor afstand kry en om dan in te spring en te help. Of daai hulp nou vir myself beskore is, of ‘n ander. So kan ek die wêreld ‘n beter plek maak.
Loshande!
Om te laat gaan, beteken soms vir my om net heeltemal af te sluit van al die negatiwiteit in die media. Om eerder na die “goedvoel” stories te luister. I.p.v. om elke dag gekonfronteer te raak met die politiek en negatiewe publisiteit, volg ek eerder Good Things Guy. Ek probeer eerder uitvind waar ek ‘n positiewe bydrae kan maak. Dalk kan ek ‘n vriendin uithelp deur ‘n kind by die skool op te tel, of vir iemand ‘n koopbewys vir kos aan te stuur. Dit help nie die nuus oor die ekonomie, of die strydende politieke partye of die aller aakligste moorde, woes my geluk uit nie. Ek kan ‘n verandering maak, al is dit hoe klein.
Mense, midde ‘n krisis, se breine het ‘n gewoonte om in ‘n maalkolk te beland. #wherehasallthejoygone
What Happens In Your Brain When You Lose Focus verduidelik mooi, hoe hierdie die brein se natuurlik beskerming is. Dalk kan ‘n mens van nut wees vir ‘n ander in krisis, deur weer ‘n visie, ‘n toekomsplan te help skep vir hulle. Net dalk ‘n ander scenario te skep, sodat hulle ‘n weg uit die tonnel kan sien.
Ek weet ek het al soveel daaroor gepraat, maar om Vol 77: Dankbaarheid’s Maand te wees, bring hoop. Dit gee ons iets om aan vas te hou. Om weer die mooi in die lewe te kan sien en ‘n toekoms. Elke oggend en elke dag, maak ek ‘n punt daarvan om te kyk na dit waarvoor ek kan dankbaar wees. Maak jou vriende dankbaar dat jy hulle vriend is. Dat hulle jou aan hulle kant het. Wees daardie vriend wie se knoppie hulle op kan druk. Daardie vriend wat sal aandring op ‘n laat middag stappie, omdat jy weet hulle het ‘n kop skoonmaak nodig.
Die mooi in die lewe
As dinge bitter donker is, as die rekeninge instroom en die spaargeld begin uitloop. Dan is dit soms moeilik om die goeie en mooi in die lewe raak te sien. #wherehasallthejoygone
Maar gaan kyk gerus op jou selfoon, gaan kyk na die mooi foto’s wat jy geneem het. Die mooi oomblikke wat jy vasgevang het. Dalk herinner dit jou aan al die mooi wat jy ook in jou lewe het. En maak ‘n punt daarvan om elke dag iets moois af te neem. Al is dit ‘n herfsblaar, ‘n mooi bord kos. Jou kind se glimlag, of die hond wat saliglik lê en slaap. Maak ‘n album vir jou van die mooi, en waardeer dit.
En dan natuurlik, die een ding wat ons bly vergeet is om Be Kinder to Yourself. En in die geval, dink ek om daardie tyd saam met ons familie te spandeer. Om uit ons mae te lag vir simpel grappe, om net te gesels. Om te oefen of self dalk die kamer te uit te verf. Hierdie is dinge wat ons help om meer deernis te hê ~ vir onsself, maar ook om ons self te voed.
Dalk dus
Al is die lewe een groot vullishoop op die oomblik. #wherehasallthejoygone. Al lyk dinge donkerder as donker, is al waaraan ons kan vashou die “goeie dinge” in die lewe.
Elke liewe dag moet ons bly soek na, die oomblikke skep waarin ons kan sê: DIT WAS GOED.
Mag ons almal geluk, dankbaarheid, waardering, lag en die mooi in die lewe najaag. En as ons dit nie heeltemal so nodig het nie, mag ons dit vir ander kan skep!
As jy nog raad het om die mooi te vind, skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com. Of los ‘n boodskap op www.wynvlieg.com.