Vol 136: Die Klap

Ek kon my mos nou nie inhou nie!

Wat veronderstel was om ‘n bietjie lig, ‘n bietjie oordadige glorie te bring, ontaard toe in ‘n sirkus. Ai nee man, die wêreld is al so voos, ons wou net iets aanskoulik sien vir ‘n slag. Al was dit om mense in peperduur rokke op ‘n rooi tapyt af te sien wandel. En ‘n goue beeldjie te ontvang, met ‘n tranerige toespraak daarby. #biteyourtongue

En toe die groot gedoente. Ek praat natuurlik van die Will Smith Slaps Chris Rock in the Face Onstage at Oscars. Skande, skade en Twitter ontplof! 1.15 miljoen inskrywings! 

Kyk daar is legio temas wat hier bespreek kan word.

Eerstens dat die Oscars die nuus oorheers, vir al die verkeerde redes. En dit terwyl daar onskuldige mense in die Oekraïne vir hulle lewens veg.

Tweedens die vraag na What Is Toxic Masculinity – die identiteit wat ons samelewing tot vandag nog mans mee opsaal.

Derdens die Verbal and Physical Abuse Often Go Hand-in-Hand ~ wat ten toon gestel is vir die wêreld om te sien. Van een van die groot rolmodelle van die glans wêreld.

Vierdens natuurlik die onsmaaklike opmerking van Chris Rock, die ongenaakbare gespot met Jada se siekte, wat net uitgeloop het op Will Smith wanted to ‘protect, restore respect’ for Jada but it wasn’t ‘channeled in the right way’: experts.

En om van die stereotipering, wat nou weer op almal se lippe is, nie eers te praat nie.


#biteyourtongue

@MarcLottering

Maar dit het my natuurlik aan die dink gesit ~ soos altyd!

Hoe gemaak?

Soos ek die petalje dophou op die nuus, wonder ek so in my stilligheid, wat op aarde het die man besiel om nie sy “woorde” te gebruik nie? Wel hy het eintlik, maar dit was so ‘n bietjie van ‘n nagedagte en toe ook nou nie die mees opbouende woorde nie. #biteyourtongue

As ek Jada was het ek verseker my kop onder die vragte materiaal van my rok weggesteek. Want as ek haar so bekyk, dink ek sy is sterk genoeg om haarself te beskerm. Maar dis nie eintlik die punt nie ~ ek wonder toe meer oor Emotional self-regulation.

Die man was duidelik de moer in. Ek reken meer omdat hy uitgevang is deur vroulief dat hy vir die grap lag, wat sy glad nie snaaks gevind het nie.(Klaar in die bollie) En toe gedra hy hom soos ‘n jong olifant op hitte. 

Nou ja, ou Will is natuurlik op kamera vasgevang en nou kan ons hom lekker bespreek. MAAR hoeveel van ons sukkel nie ook om ons emosies onder beheer te hou nie? 

Our Basic Emotions is deel van ons lewe. Dit maak ons mens. Anders was ons nog ape in die woud of bobbejane langs die pad. Elke liewe dag gaan ons deur ‘n magdom emosies…van die oggend se vroeg opstaan, dalk ‘n beklemming vir ‘n stresvolle dag wat voorlê, of die verligting van ‘n rusdag wat oor ons spoel. Vir die wat bietjie diep in die bottel gekyk het, dalk ‘n angs of skuldgevoel oor die goed wat hulle kwytgeraak het die vorige aand. Ander raak erg geïrriteerd in die verkeer, party van ons mis ons kinders of dalk ouers wat nie meer met ons is nie. As jy in jou menopouse is, dan sal jy weet hoe hierdie lot wipplank kan ry🤪!

Ons almal verloor dit soms soos in HEELTEMAL! #biteyourtongue Maar wanneer moet ons bekommerd raak?

Die trêffikkop van ons emosies

As daar gepraat word van emosionele regulasie, beteken dit nou ook nie mens moet die water onder die eend uitpluk nie. Emosies moet gevoel en gewys word – ons is nie die Britse koningin nie. Net in my vorige blog inskrywing, Vol 135: Uiteindelik Groot het ek daarna verwys. Emosies is daar om deurgewerk te word. Dis ‘n teken dat ons wil groei, dat ons vorentoe beweeg en mooi groot raak. 

Want as jou emosies jou begin beheer, is jy in diep waters! En as jy hulle die hele tyd versuip of van hulle weghol nog te meer.

Maar hoe hou mens die lotte op hok, dat hulle net uitkom wanneer hulle moet en dan hulle soos beskaafdes gedra? #bite your tongue

Wel daar is dies van ons😝, wat gebore is met ‘n hoër emosionele intelligensie. Net meer bewus van hulle eie innerlike werkings, hulle ervarings van situasies asook die gevoelens van ander. Laat ek nou maar erken, my emosionele intelligensie is definitief hoër as my IK. Maar ek sukkel ook soms om my emosies te reguleer. Ek kan ook goed bitsig raak as ek nie my sin kry nie. Ek kan super ongeskik raak as iemand of iets my irriteer. Die rede hiervoor is maar meestal dat ek oorweldig is, of dat iemand besig is om ‘n ou ingeburgerde vrees se rofie af te krap. 4 ways to improve emotional intelligence within your team stel my darem effe gerus, want ek is ten minste BEWUS daarvan, ek probeer myself BEHEER, ek neem die GEVOELENS van die omstanders in ag en ek probeer AANPAS. Maar ek moet maar waghou en sekermaak ek is nie veroordelende nie, of dat ek dalk meer praat as wat ek luister nie. 

Die goeie nuus is natuurlik, dat mens nie gebore word met ‘n stel emosies, geruk en gepluk raak en dan op die ou einde net so “gemaak en gelaat staan” is nie. Dis soos om jou spiere by die gym te gaan oefen, eers net flappende arms, later darem so ‘n bietjie definisie. 

So gemaak en so gelaat staan

Ek moet altyd so skelm by myself lag kry as mense vol bravade probeer voorgee hulle is heel gemaklik met hulle bombastiese of oor angstige of traak-my-nie-agtige houdings oor die lewe. Want elke liewe een van ons het ‘n begeerte om in te pas by die samelewing. Elke liewe een van ons wil behoort. Wil goeie verhoudings hê, wil tel. 

En as ons emosies met ons weghol, as hulle die kitaar slaan kan dit ons verhoudings ongelooflike skade berokken. Ons weet almal alte goed dat Understanding Emotions Is Important to Your Relationship. Hoeveel keer kon ek al nie my frustrasie of onderdrukte woede beheer in my verhouding met Mnr G nie. En dan raak ek dinge kwyt wat liewer ongesê kon gebly het, of beter nog, in ‘n baie meer konstruktiewe manier aangespreek kon word. Ek vind dis gewoonlik wanneer daar onopgeloste kwessies tussen ons is. Dis asof die “gekweste” kind binne my weer wakker gemaak word, of die tiener wat haar man moet staan. 

Maar so kan ons emosies – as hulle ons lewens regeer, ook ons persoonlike lewe hel maak. Om in die diepe put van hartseer te bly leef, of altyd te voel ander doen ons in. Of konstante angs te hê en beheer oor alles te probeer uitoefen, kan ‘n mens lam lê. Ek weet daar is mense wat medikasie vir angs, depressie en dies meer nodig het en dit is goed. Maar ek vind ook dat ons baie male eerder in daardie wêreld sal ronddraai, want dis tog veel makliker as om net verantwoordelikheid te vat vir ons emosies. 

So as jy nie elke dag wil voel of jy soos ‘n tweejarige kind vloer moere gooi, of heeltemal uitmekaar val of permanent in iemand se hare is nie. Dan moet daar plan gemaak word. 

Dink net aan al die rus en vrede. En ‘n klein geheimpie ~ bietjie meer beheer😆

Reg om te begin

Goed die oefenkamp begin hier ~ paar dinge wat mens aan kan werk. Gereeld, elke dag, elke oomblik! Rome is nie in een dag gebou nie nè!

Skep ruimte ~ g’n mens is nou só goed dat hulle die emosie kan sien aankom en in sy spore laat stop nie. Dis soos ‘n brander wat oor mens breek. So stap nommer een is, om eers net asem te haal. Die emosie soos daardie brander oor jou te laat spoel en dan eers ‘n reaksie te gee. Seker daar waar die rooinek uitdrukking vandaan kom. Lekker lag ek vir die “desperate poging!”  

bite one’s tongue

phrase of bite

  1. make a desperate effort to avoid saying something.
#biteyourtongue

Klouter uit jou kop uit ~ ek lewe in my kop. Daar gaan duisende der duisende gedagtes deur my kop op ‘n dag. Dis soos een groot geklets. Ek moes myself mooi aanleer om daai lotte stil te maak en te probeer uitwerk wat in my liggaam aangaan. Met emosies is dit PRESIES dieselfde. Nog ‘n gunsteling van my, Unwinding Anxiety: New Science Shows How to Break the Cycles of Worry and Fear to Heal Your Mind beveel aan jy “voel” jou emosies. Luister mooi na jou liggaam…is jou hart aan die weghol met jou, voel jou bors benoud, fladder daar dalk ‘n vlinder in jou maag. Of dalk is jou hart so lig soos ‘n veer. 

Want daardie gevoel in jou liggaam is ‘n baie goeie aanduiding van wat jy mee te doen het op die emosionele vlak. Plus as jy nie so gefokus op die kop dinge is nie, help dit ook om die intensiteit van die emosie eers te laat verbygaan. 

Slim nè😁

Noem dit by die naam ~ as jy so ver gekom het om daai emosie te voel, roep hom op die naam. Probeer uitvind of dit woede, hartseer, geluk….wat ook al is. En dalk nie op die mees elegante manier nie. Maar moenie net daar stop nie, grawe bietjie dieper. Probeer uitwerk wat agter daardie emosie sit, is dit ‘n seerkry, teleurstelling, verworpenheid, jaloesie, oorwinning of dalk ‘n vrees? 

Aanvaarding ~ Definition of Self-Compassion: is hier die wagwoord. Wees genadig met jouself. Hê deernis en probeer ook verstaan. Aanvaar dat almal êrens hierdie emosies het. Dat mens nie altyd ‘n deksel op alles kan sit nie..dat emosies goed en reg is. Want hulle is soos klein boodskappers, wat vir jou die lewe probeer analiseer. 

Laaste maar nie die minste nie

Viktor E. Frank het die volgende gesê:

“Between stimulus and response there is a space. In that space is our power to choose our response. In our response lies our growth and our freedom.”

Ons het maar almal ‘n bietjie THE FUNDAMENTAL ATTRIBUTION ERROR: WHAT IT IS & HOW TO AVOID IT, in kort beteken dit eintlik maar net ons is effe meer vergewensgesind teenoor onsself, as teenoor ander. 

So volgende keer, voor jy reageer teenoor iemand anders, maak dit bietjie meer persoonlik. As die een soos ‘n poepol in die verkeer ry…i.p.v. om onmiddellik obsene goeters te skree, dink dalk: “Daai persoon is net so ingedagte soos ek soms is” of “Daai persoon is dalk ook laat vanoggend en gestres..net soos ek.” Probeer jou in die ander se skoene plaas. 

#biteyourtongue

En wees nuuskierig…want as jy regtig braaf genoeg is om die dryfveer agter die emosie te gaan soek, sal jy agterkom daar skuil dalk iets negatief daar. Iets wat jy probeer vermy. En die oomblik as jy dit aan jouself erken, kan jy dit dalk in ‘n positief omskep.  Dink maar hier aan jaloesie in die werkplek. Baie keer is ‘n mens jaloers op iemand anders se sukses en wens jy, jy kon ook soos hulle wees. Dalk, net dalk as mens hulle as rolmodelle sien, i.p.v. die vyand het jy ‘n bondgenoot vir altyd.

So, die antwoord is dus….haal asem, voel, erken en vind ‘n ander paadjie uit. #biteyourtongue

As jy dalk iets te sê het hieroor, of die klap😝 los ‘n boodskap hier onder op www.wynvlieg.com, of skryf ‘n brief na vryheid@wynvlieg.com.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *