Vol 135: Uiteindelik groot?

Soms wonder ek wanneer is mens nou eintlik “groot.” Julle weet mos, daai plek waar jy meeste van jou lesse geleer het, waar jy soos Salomo veel wysheid in pag reeds het en alles anders soos water van ‘n eend se rug af loop? #growingpains

As jy so duskant 21 is, dan is hierdie lys seker van waarde 10 Signs You’re Finally Growing Up, Whether You Like It Or Not. Paar nuttige wenke daar, maar wanneer jy die 50’s nader en daar nog meer vrae as antwoorde is dan wonder jy bietjie dieper🤣 en langer oor hierdie vraag. Dan is die kook en skoonmaak ding lankal net roetine, om naweke met jou familie te spandeer is ‘n lekker gewoonte en eintlik smag jy na naweke weg met jou vrinne. Slaap is tweede natuur, want die kinders het jou genees van laatnag joligheid. Jy is die een wat almal se dagboeke al jare hanteer en verder is alles roetine.

Wat mens eerder kan verwag hier in jou 50’s is glo meer skete as antwoorde🙈 Ways You Didn’t Know Your Body Changes After 50 ~ stel dit so elegant! Die bene raak meer bros, jou metabolisme gaan staan stil en hoë bloeddruk en hartkwale is jou voorland. MAAR dit bring darem ook glo wysheid, innerlike krag en ervaring. #growingpains


So is ek al groot?

Ek dink daar is ‘n paar ongemaklike waarhede wat mens in daai rigting dwing. 

As mens eers begin nes skop is jy gelukkig om minder tyd met jou vriende te spandeer. Die gesin begin ‘n prioriteit raak en dis lekker om in jou eie tuin rond te krap. Maar daar is ook ‘n verwoedende oor-en-weer kuierry. Naweke weg saam met vriende en so ‘n ligte kommer oor jou gewildheid as jy nie genooi word na die buurt se braai nie. Deesdae dink ek is dit nog erger, want elke bymekaarkoms word oral oor al die sosiale bladsye geplak. Ek moet ook maar byvoeg, almal van ons voel seker op ‘n stadium in ons lewens dat ons nie heeltemal so hoog op die sosiale gewildheidsleer is nie. So al asof ons nie juis die eerste mense is wat daaraan gedink word as ‘n partytjie gereël word nie.

Isolasie strek verder as inperking

MAAR ek besef meer en meer, ‘n teken van my grootword is dat ek baie meer geïsoleerd van ander voel. Veral as ek in die geselskap is van mense wat ek NIKS MEE IN GEMEEN het nie. Ek gaan verskeie kere na ‘n partytjie of braai en wonder, “wat op aarde maak ek hier?” Dis kosbare tyd van my lewe en ek sit en verkwis dit. Vir wat? Om in te pas, om mooi praatjies te maak, my lewe en kalender te vul? As jy wel Understanding the Effects of Social Isolation on Mental Health voel, dink ek moet jy hulp soek. Dink Covid en al die regulasies en die tuisblyery het my net meer en meer laat besef, mens kan jou vriende kies! So doen dit. 

Ek het regtig nie ‘n tekort aan vriende nie. Met my selfbeeld skort daar net mooi niks. 

Maar in my geval is dit nou regtig ‘n kwessie van, WAT IS DIE PUNT om my in geselskap te bevind waar ek glad nie met mense saam stem nie? Mors te veel energie, stap verby, vermy! #growingpains

So die kort en lank is, ek laaik eintlik my stilte. Ek het nie meer ‘n gehoor of ‘n skare nodig om my geluk’s beker te laat oorloop nie.

Die kar het ‘n diens nodig

Nou ja, die grootste teken ~ skyn toe so helder soos die Dawid ster ~ is seker dat ek tot die besef gekom het, dat ek tonne kakkies van my eie het om uit te sorteer. En nou wil ek dit regtig vir eens en altyd doen, soos derms uitryg,  skoonwas en terug pak. #growingpains

Dalk waar hierdie blog begin het. Die wete dat ek nou vir eens en altyd my kak op die lappe moet bring. Dat ek dit moet neerskryf, antwoorde probeer vind en iets daadwerklik aan die saak doen. Een van die grootste eerste stappe was sekerlik die erkenning aan myself dat ek Vol 4: Wynvlieg#Oorit – Ridder Op Die Wit Perd moes vaarwel roep. Ek moes net eenvoudig my verhouding met ‘n kruk heroorweeg. En dit het my die kans gegun om BAIE ander dinge in my lewe te bevraagteken. Met ‘n nugtere gemoed(letterlike en figuurlik🤪) kon ek weliswaar my lewe ordentlik begin bekyk.

In hierdie blog, Vol 14 : Wat Is Jy Bereid Om Die Stryd Voor Te Voer haal ek Mark Manson aan.  Ek doen dit weer, vir die wat dit gemis het. 

“Everybody wants what feels good. Everyone wants to live a carefree life, to fall in love and have amazing sex and relationships, to look perfect and to make money, and be popular and well-respected and admired and a total baller to the point that people part like the Red Sea when you walk into the room. 

Everyone would like that – it’s easy to like that”  Mark Manson

Maar teen die tyd weet ons al almal, die lewe is nie ‘n roostuin nie. Die groter vraag in die lewe is…waarvoor is jy bereid om swaar te kry. Wat is jy bereid om op te offer. En o aarde moes ek my ou ego’tjie mooi op die ashoop gaan gooi. Daardie identiteit waaraan ons so verbete vasklou. Die hardegat, ek-kan-dit-alles-op-my-eie doen maniertjies. 

Ek moes erken ek is ook maar net vlees. En toe ek dit doen, toe Vulnerability: The Key to Better Relationships ‘n prioriteit raak en ek regtig, egtig myself na die partytjie bring, sonder ‘n fasade. Toe begin dinge mooi in plek val. 

Wie wil toneelspeel?

Ek laaik mos melodrama net mooi fêkol. Sê ‘n ding soos hy is, wees reguit en ons kan almal aan beweeg. Ek roem my regtig daarop, dat “wat jy sien is wat jy kry.” En vir nege-en-negentig persent van die tyd is dit heeltemal die waarheid. 

Maar, ek moes darem ook aan myself erken ~ ek hou van ‘n stukkie drama! 

Why People Thrive on Drama and How you can Avoid the Pitfalls slaan die spyker so op sy kop. Ek het besef ons spring alte vinnig as daar net ‘n sweempie van ‘n drama in die nabyheid is, want dit laat ons belangrik, betrokke en besig voel.

En o wee, daai was altyd my probleem. Ek wou tog so graag inspring en die redder wees. Die een wat na die tyd met die louere kon wegstap, wat die verskil gemaak het. Want dink dan nou net, watter goeie getuigskrif sou dit wees. Maar nou steek ek nie meer my neus so in ander se sake nie. Ons het onlangs weer so ‘n melodrama in ons kringe beleef. Almal word ingesuig – dis soos ‘n tornado. Maar nou is ek mos mooi groot, ek besef die is nie my storie nie. Dis nie my probleem om op te los of my energie op te mors nie. Want op die ou einde lê ons almal uitgespoeg soos puin en die lewe gaan aan vir die hoofrolspelers. #growingpains

O en dan was daar die alewige ~ ek is so besig ek kan nie my gat draai nie. Ja shampies, jammer om van jou stront te hoor. 😃. So ‘n drama, so ‘n status simbool. Ons is almal besig, ons kies dit. Nee wag nou kies ek om die hele dag te oefen, perd te ry,  middagslapies te vat, blogs te skryf en lekker kos te eet. Net ‘n jammerte daai universiteits rekening moet nog betaal word! #growingpains

Kort en lank van die saak is, ek het besef, alles hoef nie so ‘n drama te wees nie. Ek hoef nie almal te red of gesien te word as die groot wysgeer nie. Ek kan bloot maar net met my lewe aangaan, die res kan vir hulleself sorg! Kry ek dit reg? 🤣 Daai is ‘n heel ander vraag!!

Ek vra nie meer verskoning nie

Ek onthou nou nog so goed, hoe ek as tiener, my soms vir my “ouer” ma geskaam het. Kyk sy was ‘n vrou wat met AL WAT LEEF EN BEEF gesels het. Al het ons die mense van geen Adam’s kant af geken het nie, sy het ‘n geselsie aangeknoop. Ek wou altyd hol vir die berge!  (En raai wat? Nou doen ek dit natuurlik ook🤪, appel val toe nie ver van die boom af nie!) #growingpains

En toe jare later, as jy met die nuwe liefde opdaag by jou vriende en hy maak ‘n simpel opmerking, dan skaam jy jouself byna dood! En wonder ook sommer of die liefde ooit gaan oorleef. Of as jou wederhelf voor mense een of ander liederlike grammatikale fout maak ~ veral as die rooinek taal ingespan moet word. Wie het nie al ‘n man neerhalend aan sy vrou in ‘n geselskap hoor sê: “ag nee, bly eerder net stil, jy praat nou sommer nonsens” nie? Of iets dergeliks. Duidelik skaam vir die ander een se gedrag. Vir die wat nie weet waarvan ek praat nie, gaan lees hier 9 Signs You’re Embarrassed By Your Spouse en soek hulp!

Maar hier is die ding wat ek myself moes laat besef…. Why All Relationships Mirror The Relationship You Have With Yourself. Daar is soveel verskuil in hierdie waarheid. Ek moes mooi gaan grawe, oor my onvermoë om kwesbaar te wees, hoekom ek so kwaad vir myself was die hele tyd, hoekom ek gereken het ek moes almal anders se optrede regverdig. 

Soms is ons so skaam vir die dom goed wat iemand, met wie ons geassosieer word, kan kwytraak. Maar weet julle wat, die grootword het my geleer, dit maak nie saak hoe naby die verwantskap is nie…ek het nie nodig om iemand anders se stront wat hulle kwytraak te verdedig nie. Dit is nie wie ek is nie. Dis hulle eie keuses. Dis hulle eie reputasies. c’est la vie en in die geval, hulle sin, g’n myne nie!

#growingpains

As hulle hulle soos bobbejane wil gedra, mag almal rondom hulle bôgom. 

Snot en trane, uit die maag gelag

Kan ek net sê, dat hierdie seker een van my grootste lesse tot dusver was. Kyk ek is nie ‘n onemosionele mens nie. Ek kan my goed opwerk, kwaad kan ek kwaad raak, huil kan ek goed huil(meestal op my eie) of lag uit my maag ~ as die grappie goed is. 

Maar wat ek nie goed mee is nie, is die wys van hierdie emosies. En met die gevolg het ek hulle vir bitter lank weggesluk met ‘n lekker glas wyn, of ek prop ‘n pak skyfies bo-op of sommer enige kos wat voorkom. Ek was goed met die weghol van my emosies af. Ek het besef ek het soos ‘n wafferse Olimpiese atleet weggehol van emosies. Ja ek kon hulle voel, maar was ek regtig bereid om te vra wat skuil agter hulle?  #growingpains

Artikels soos hierdie een ~ The Key Skill We Rarely Learn: How to Feel Your Feelings het my laat besef dat daar ‘n groot neurologiese rede vir ons emosies is. En dat ons nie daarvan hoef weg te hardloop nie. Maar eerder onsself moet afvra, wat ons emosies vir ons probeer sê. En dat ons so gekondisioneer is om sommige emosies as “sleg” en ander “goed” te sien, dat ons heel die kluts kwyt geraak het. 

“There is a coin metaphor: Pain is the flip-side of what we value” 

#growingpains

Ek het besef dat baie van die emosies wat ek so vermy het, soos verveeldheid, eintlik ‘n vrees was vir alleenheid. En dat ek doelbewus mense sou wegstoot omdat ek nie geglo het ek verdien om ‘n diepe konneksie te hê nie. 

My vinnige, geniepsige antwoorde wat ek soms gegee het ~ en ja ek doen dit nou nog, was ‘n reaksie uit ‘n onmiddellike emosie.  Ek moet keer op keer nog met myself eerlik wees en myself afvra, waar dit vandaan kom. Wat is die emosie wat daaragter skuil en wat probeer my brein eintlik vir my sê. Gaan kyk maar mooi, vele kere is dit eintlik jaloesie, verwerping, waardeloosheid en daai lotte, wat mens negatief laat reageer.  

So het ons maar almal ons dinge. #growingpains

Hoe groot is jy?

Wonder sommer hoeveel van julle voel al mooi groot? Laat hoor gerus ‘n slag van julle. Los ‘n boodskap hier onder op www.wynvlieg.com, of skryf ‘n brief na vryheid@wynvlieg.com.

1 thought on “Vol 135: Uiteindelik groot?”

  1. Pingback: #biteyourtongue | Vol 136: Die Klap

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *