Groen, John Deere Groen. Dis hoe die groen oog monster hom kom tuismaak so tussen ons. Dit verstom my nog daagliks hoe mense van ons ouderdom, waaragtig nog so afgunstig op mekaar kan wees.
En dan wil ek my verstout om te sê, die makker is nogal taamlik aktief by dies wat voor in die kerkbanke hulleself sit maak. Seker nog nie gehoor dis een van die Seven deadly sins nie. #whydoweenvyso
Envy se beskrywing is raakvat ~ dis daai emosie wat kom posvat as een persoon iets begeer wat ‘n ander reeds het. Of dit nou materieel is, of sukses of status van oorsprong. Maar hê wil ons hê. Het Jakob dan nie hoeka vir Esau ook loop staan en verneuk uit sy erfporsie, oor presies hierdie einste emosie die oorhand gekry het nie? #whydoweenvyso
Nou vir wat sukkel ons so?
Laat ons nou maar eerlik wees. Hierdie afgunstigheid en jaloesie wat ons so pootjie is allermins ‘n positiewe ervaring. Dis nie juis die tipe emosie waarop ons trots is nie. Dis ‘n pynlike ervaring en meeste van die tyd wil ons onsself net ‘n klap teen die kop gee daaroor.
O ja, en tegnies gesproke is daar ‘n verskil tussen afguns en jaloesie. Net om dit vinnig uit te klaar…hier is dit!
Dis ‘n saak van oorlewing
‘n Fassinerende stukkie werk, as jy tyd het op ‘n Saterdag middag, is The Evolutionary Psychology of Envy and Jealousy . Sien, afguns kom van ons oeroue oorlewingsdrang af. Dis die emosie wat ons ons kompeterende voorsprong gee. Nou gedra baie van ons ons nóg steeds soos grot manne en vroue. Vroue begluur mekaar van bo tot onder om tog net seker te maak hulle is nie 2g dikker of in ‘n kakker uitrusting nie. Om nie te praat van die botox nie ~ die een spuit meer as die ander. Mans aan die ander kant meet weer die note af, of die sukses op die besigheid veld. Soos waffers stiervegters van ouds. #whydoweenvyso
Gelykheid, wat ‘n edele gedagte
Nou is daar ook die argument, Envy dat ons afguns ‘n manier is om die wêreld ‘n meer gelyke plek vir almal te maak. Wel in die geval van afguns seker meer van ‘n gelyke plek vir onsself.
Dink maar net aan kinders in ‘n huishouding, as die een dalk net een soetding meer as die ander kry of glo ma trek die ander een voor. Dan bars alle hel gewoonlik los. Daar is families op families wat rondloop met sakke vol bagasie en vir jare al nie met mekaar praat nie ~ oor hierdie einste ding. Daardie ervaring dat jy ‘n onreg aangedoen is, dat jy aan die korste end moes trek en dat die speelveld nie gelyk was nie. En viola, afguns dans ‘n riel. #whydoweenvyso
Dalk is daar nog hoop
Dit wil voorkom, of so sê ‘n paar studies, dat daar wel twee verskillende tipes ~ Leveling Up and Down: The Experiences of Benign and Malicious Envy ~ “afguns” is.
Die eerste tipe is die kwaadwillige soort. Dis nou daai afguns waar jy eintlik nie die ander persoon enigsins die prestasie, of die besitting of die geluk gun nie. Jy wil hulle met alle geweld saam met jou aftrek. Seker maak hulle val ‘n groot val. Amper soos Josef in die put. Sy broers wou hom verseker daar los vir die dood. Ek dink nie ek het al sulke afguns beleef nie. Wel naby gekom en met woorde probeer kwes.
Die ander tipe is die meer mak weergawe. Dis die soort afguns, wat jou motiveer om beter te wees. Om ook bo te probeer uitkom. Dis nou daai afguns wat ek voel teenoor ‘n ander hardloper, wat DUIDELIK harder as ek geoefen het. En kom daai wedloop, is die persoon strate voor my. In daai oomblik het ek ‘n begeerte om myself eerstens onder die gat te skop, maar dis ook ‘n motivering om my gat in rat te kry. Alles gedryf deur my afguns(of sal ons sê gesonde begeerte) om ook sonder ‘n gehyg die afstand kaf te draf nie. #whydoweenvyso
Wie suffer die meeste
Who’s the ‘enviest’ of them all is ‘n deeglike studie wat gedoen is onder 1600 mense, tussen ouderdomme 18 – 80. Dis nie ‘n groot verrassing om uit te vind, dat mens die meeste gevoelens van afguns in jou tienerjare ervaar nie. Nog ‘n interessante ontdekking was dat mense meer geneig is om afgunstig te wees van hulle eie geslag.
Tieners se afguns is maar meestal van romantiese aard ~ wie is die gewildste en alles wat daarmee gepaard gaan. Maar hoe ouer ons raak, hoe meer begin dit gaan oor geld en status. Tog so hartseer ~ want die eindstreep bly die eindstreep. En ons kan tog niks saamvat soontoe nie! #whydoweenvyso
Maar dat dit wel In Pain and Joy of Envy, the Brain May Play a Role te weeg bring is so waar soos wat die padda manel dra!
Die ewige aan-knoppie
Surprise!!!! Green with Facebook Envy, Red with Twitter Rage ~ tree die kryt toe. Ons hoor gereeld hoe ‘n permanente gekuier op sosiale media, depressie kan aanwakker. Maar nou wil dit voorkom, dat die dryfveer agter die depressie, meestal afguns is.
En dis heeltemal te verstane, want ek is sommer die week lekker afgunstig op my vriende wat duidelik geen finansiële verpligtinge het nie. Toer die wêreld vol en dit terwyl ek probeer uitwerk hoe ek my tenk gaan volhou! Dit voel mos maar altyd of iemand dit net lekkerder as jy het as jy so na hulle Instagram inskrywings kyk!
Ek het nou maar ‘n nuwe strategie, seker deel van my “positiewe” afguns. Ek gebruik ander mense se oulike inskrywings of foto’s as ‘n manier om so vanuit my voorkamer te reis. En weet julle wat, nog ‘n ontdekking wat ek gemaak het…..hoekom is mens dan nie afgunstig op mense, soos byvoorbeeld Charlize Theron nie, maar wel op jou bure wat in die Kgalagadi Transfrontier Park in die stof kamp? #whydoweenvyso
Wees op jou pasoppens
Daar is ‘n vreeslike, vreeslike gevaarlike vorm van afguns. Die tipe wat rassisme dryf, wat wêreld oorloë kan aanwakker.
What’s behind prejudice is ‘n vieslike ding. Soms vrees ons iemand anders se sterkpunte so, dat ons geen gevoel van bewondering of warmte kan optower jeens hulle nie. Ons sien hulle as ‘n bedreiging, as ‘n euwel wat in ons pad staan en al ons kanse op voorspoed in die wiele gaan ry. Dink maar net terug aan die begin van die tweede wêreld oorlog, dink maar net aan apartheid. As ons ‘n vooropgestelde idee het, as vrees daaragter sit en ons eie vooroordeel ons gesonde verstand oorneem. #whydoweenvyso
Dan, dan is afguns VERSEKER een van die Seven deadly sins.
Ek vra mooi
Ek hoop van harte, dat as jy vandag hier lees, jy sal onthou jy is al mooi groot. Dat afguns jou niks in die sak gaan bring nie. Tensy dit jou natuurlik aanspoor om harder aan jou eie dinge te werk.
Afguns is net eenvoudig nie ‘n mooi “look” op mense bo ‘n sekere ouderdom nie!
As jy dalk iets te sê het hieroor, los ‘n boodskap hier onder op www.wynvlieg.com, of skryf ‘n brief na vryheid@wynvlieg.com.
Pingback: #introspectionisamust | Wat Is Tog Die Punt Van Dit Alles?