Die naweek is ek met die groot vraagstuk gekonfronteer….wat maak dit alles regtig saak?
Wat maak al hierdie soeke na ‘n beter lewe, die gesonder probeer eet, die meer bewus lewe…alles, net alles. Wat maak dit alles saak? Want soos ons weet, die dood bly vir niemand van ons gespaar nie.
En ja, ons kan almal baie filosofies of selfs traak-my-nie-agtig daaroor praat…moet mos van iets doodgaan. Ons weet op een of ander rasionele vlak die dood is onafwendbaar. Maar tot hy jou in die gesig kom staar, of iemand na aan jou kom wegruk sonder waarskuwing. Of soos in ons geval, ‘n gesonde man…op elke liewe vlak, met die terminale K kom slaan. Tot jy iemand moet hoor sê: “Ek weet dis net ‘n kwessie van tyd, so ek gaan nou maar my lewe net geniet, so veel ek kan.” Hard baklei om tot by die aanvaarding te kom en al doen hy hom moedig voor, kan mens dit sien in elke omhelsing van ‘n kind, in die laataand soen van sy vrou. In die stap in die oggend, in die waardering vir elke oomblik. Die lewe gaan aan, maar elke oomblik is nou kosbaar. Elke oomblik is een nader aan die totsiens. #introspectionisamust
Ek is ook so effe deur een van die lesers oor die vingers getik . My Facebook inskrywing vir Vol 137: Hoekom Tog So Groen het tereg gelyk of ek nie introspeksie doen nie, maar eerder ander probeer beskuldig van afguns.
So liewe leser, na hierdie naweek besef ek net weer. Al wat ‘n mens in hierdie lewe oor kan hou, op kan bou, is dat jy altyd, maar altyd dood eerlik met jouself sal wees. Want hoe ongelooflik hartseer gaan dit nie wees as ons dalk met die naderende dood gekonfronteer word en besef ons gee al die jare óf voor, óf ons blameer of ons ontduik. #introspectionisamust
Wat beteken eerlikheid?
Ons word van baba dag af geleer hoe belangrik eerlikheid is, dis ‘n kwaliteit wat ons as samelewing hoog op prys stel ~ 12 Reasons Why Honesty Is Important In Life
Maar die meeste van ons speel lekker wegkruipertjie met onsself. Ons is kwansuis eerlik met onsself, maar eintlik flous ons onsself om elke hoek en draai. Ons oortuig onsself dat ons nie beheer het oor sekere omstandighede nie, of ons verkleineer ons eie gevoelens.
Want sien in baie gevalle, weet ons al te goed, as ons dood eerlik met onsself moet wees, sal dit dalk baie dapperheid en aksie verg. #introspectionisamust
Want sien die meeste van ons is bangbroekig. Absolute eerlikheid met onsself sal ‘n Courage verg, wat min van ons glo ons het. Tot ons natuurlik aan die diep kant ingegooi gaan word en ons nie anders kan as om te swem nie. Vat maar byvoorbeeld ‘n egskeiding. Kyk mense, been there, done that en het sommer ‘n reeks van T-hemde om dit te bewys. Dis nie ‘n pretpark nie. En dus bly soveel mense in slegte, afbrekende verhoudings. Want die vrees vir die onbekende, die finansiële implikasies, die alleenwees…kyk selfs om verantwoordelik te wees vir daai swartdrom wat uitgevat moet word, kan mens in ‘n 9 Warning Signs of a Codependent Relationship laat vashaak.
Want sien dapperheid bring ongelukkig pyn mee. Dapperheid is nie een van daardie lekker voel tipe goed nie.
Waar het ons so bang geraak vir die waarheid?
Ons loop maar almal met klompe bagasie van ons kinderdae rond. Elke goedkeuring, afkeuring, elke illusie wat geskep is, of verwerping laat ‘n merk. Dit word deel van ons identiteit en dan vind ons uit How Your Subconscious Mind Is Running Your Life And How To Fix It.
En vir die meeste van ons is daar êrens langs die pad, die boodskap…”as jy perfek is, is jy geliefd.” Dit hoef verseker nie in soveel woorde gesê te word nie. Maar dis daar as jy nie gekies word vir die skool koor nie, as jou harde leerwerk nie ‘n sertikaat by die prysuitdeling verdien nie. As jy nie die eerste opgeraap word om na ‘n funksie te gaan nie. En wat doen ons dan, ons begin uitwerk hoe ons hierdie wêreld kan oorleef.
Ons begin vir onsself lieg. Ons begin glo dit wat ons is, wie ons is, wat ons het om aan te bied is nie goed genoeg nie. En ons begin voorgee.
Tot op die dag wat jy sê…DIT STOP NOU HIER! Dit is nie tot diens van my meer nie. #introspectionisamust
Hoe lyk dit?
Glo my vry, dit wat vir jou waar is van jouself, bly altyd die middelpunt van jou hele bestaan. Dit beïnvloed elke liewe besluit, elke liewe kans wat jy waag of nie waag nie. So as dit die geval is, moet dit nie die suiwerste, dapperste weergawe van jouself wees nie? So het ek byvoorbeeld lewenslank geglo ek is vet. Geglo ek is nie begeerlik genoeg nie. Dit wie ek is, nie goed genoeg om liefgehê te word nie. So wat doen ek toe, ek oefen myself in ‘n koma, maar dan eet ek ook maar weer myself in nog ‘n verdere koma in. En die verliefdgeit van die wynglas, was ook maar net een van die lekkertes wat my meer gewild en geliefd laat voel het. Lig en vry! Net om die volgende dag myself te stenig oor ek nie ook matigheid voor oë kan hou nie. Nou het ek uitgevind, ek is toe glad nie so dik soos ek gedink het ek is nie. Barbie sal ek wragtag nooit wees nie. Maar as ek my liggaam elke dag lief het en How to Listen to What Your Body is Telling You…dan is ek besig om die beste lewe te lewe. #introspectionisamust
Ek het ook besef, dat as ek eerlik met myself is, raak ek effe vreesloos. Ek was goed met die gewoonte om altyd te verdedig of aan te val of weg te kruip. Vader alleen weet hoekom, maar ek het geglo my keuses tel nie. Dat om die vrede te bewaar moes ek eerder die goeie, gedienstige Martha wees. En dan kon ek myself alte lekker in selfbejammering toevou. Want ek probeer altyd so hard, ek trek altyd aan die korste end, niemand verstaan of waardeer my nie. Kom toe agter, dis die kwaad vir myself wat maak dat ek soos ‘n teef tekere gaan. Dis daardie kwaad wat maak dat ek eerder sal aanval, as om net my punt te maak. Doodkalm, sonder ‘n verskoning of ‘n beskuldiging wat in die agtergrond skuil. En dit werk wragtag! Ek voel vreesloos. Ek voel ek mag! #introspectionisamust
Ek vermoed ons skuil maar almal so bietjie agter public opinion. Ons probeer inpas, aanpas en daardie ewige begeerte van inpas, maak dat ons menige maal onsself kruisig. Maar die dag wat ons besef ons is ons eie unieke persoon, met ons eie bou, ons eie geaardheid en ons eie bydrae wat ons kan lewer, dan kan ons vreemd genoeg inpas. Toe ek jonger was het ek die “patetiese” ou meisietjies op skool verpes. Daardie wat soos die Damsel in distress opgetree het en die tienerseuns het oor hulle voete geval om tog net so een te kys. Ek het dit verpes, maar heimlik was ek jaloers. Want ek wou ook die een wees wat gekys word. Min het ek geweet, eintlik was ek besig om weg te kruip agter ‘n muur en dit terwyl daardie jonge dames eintlik maar net weerloos was. En weerloos is aantreklik.
Wees bewus, self bewus
Ek was al my lewe lank redelik bewus. Bewus dat ek ‘n magdom menigte emosies ervaar, dat ek dinge met meer van ‘n intensiteit as ander mense ervaar en heeltyd met vrae in my kop rondloop. Maar wat ek nie so lekker kon kleinkry nie, was What is self-awareness? En wat dit nou eintlik beteken. Dis nie net die bewustheid van emosies nie, maar wel wat mens daarmee maak.
Ek was tog so goed daarmee om my eie ware self…#introspectionisamust
- Ongeldig te verklaar…dis nie so erg nie, daar is ander mense met wie dit erger gaan. Of, dis ook nou nie so wonderlik nie.
- Te veroordeel…self kritikus op sy beste…jy sal tog nooit maer genoeg wees nie, jou verstaan van mode is ook maar hoofstroom. Daai soort van ding.
- Aangeval te voel ~ as daar dalk ‘n swakplek in my wapenrusting was, sou ek eerder aanval as my eie kwesbaarheid blootstel.
- Geforseerd gevoel het om iets te doen, wat my ongemaklik laat voel het. Mens noem dit seker groepsdruk. O en daai grense stel ding het ek gevrees. Want wie is ek om nee te sê?
- Uit vrees vir die gevolge van opstaan vir my eie, ware self en dit wat vir my belangrik is, maar eerder stil gebly het. Konflik is nie my ding nie, maar nou probeer ek met eerlikheid na myself kyk en dit wat ek wil hê en dan paar keer asemhaal en dit ook opper.
Waar staan ons nou?
Ek weet net dat ek eendag wil kan terugkyk en weet ek het nie die heeltyd iemand anders se lewe gelei nie. Ek wil weet ek het nie vir myself gelieg nie.
Ek is nog ver daarvan af. Ek lewe verseker nie elke liewe dag my beste, este lewe nie. Ek lieg nogsteeds alte lekker vir myself. Ek gee voor ek luister na my liggaam, ek probeer eerlik wees in elke liewe situasie en hel ek probeer kwesbaar wees. Maar kry ek dit altyd reg? Nee natuurlik nie.
Maar weet julle wat, solank ons net probeer!
As jy dalk iets te sê het hieroor, los ‘n boodskap hier onder op www.wynvlieg.com, of skryf ‘n brief na vryheid@wynvlieg.com.