Vol 141: Nooit te oud om te droom nie

Aangespoor deur ‘n inskrywing op Te Bang en ‘n “waaghalsige” ding wat ek gister op dié rype ouderdom aangepak het. Ek besef net weer…mens is NOOIT TE OUD OM TE DROOM nie. En natuurlik daardie drome te laat waar word nie. #nevertoooldtodream

Dankie liewe @ChristaGroenewald dat jy hierdie bewuswording met ons almal gedeel het. 

Ons kan tog so maklik vasgevang raak in die swaar van die lewe, in die What Is the Purpose of Life. Altyd opsoek, altyd besig om te wonder hoekom ons so swaar moet kry. Sommiges kla, ander is lekker slagoffers. En die hemele weet, daar is genoeg om oor neerslagtig te wees!

Drome vir die toekoms

Net vanoggend, toe ek uitdraf by die voordeur en ‘n diepe dankbaarheid my kom omvou, besef ek: Die doel van hierdie lewe is tog sekerlik om te “ontwikkel”  ~ amper soos ‘n outydse film. Of soort van bietjie soos ‘n pondokkie wat gebou raak soos die geld inkom. Elke keer nog ‘n kamertjie by, nog ‘n dakteël opgeplak. En so, word daar ‘n woning staan gemaak, stadig maar seker. ‘n Lewe.
Of dalk soos The Meaning of Life Is a Ham Sandwich sê, ons heg ‘n betekenis aan elke liewe ding in ons lewe. Ons het hierdie onuitgesproke “betekenis” aan elke gebaar, elke gebeurtenis gekoppel. So bv sal ek “liefde” altyd koppel aan klein gebare van omgee, soos die pakkie 1kg wors en sakkies vrugte wat my ma altyd saam met ons gestuur het. Lankal uit die huis, met lekker stewige salarisse…maar moederhart het geweet, daai pakkie wors, daardie sakkie aartappels stop ‘n gat vol. Dit wys sy gee om. Dis maar ‘n klein voorbeeld, maar dit was liefde.


Toe ek jonger was, het ek sommer baie drome gehad. Sommige het waar geword, ander het weer alle stoute verwagtinge oortref. En sommige het soort van aangepas, verander en ‘n nuwe vorm en grootte aangeneem. 

So watter betekenis koppel ons aan drome. Is drome net vir die jonges van dae? Met ‘n lewe wat nog voorlê? . #nevertoooldtodream

Hoe lyk ons drome nou?

Was so pas vir ‘n mammogram. Dit was net ‘n roetine ondersoek, so ek het rustig en gemaklik daarin gegaan. Ek was ook deeglik bewus van die feit, dat daardie dr vir verskeie ander vrouens ‘n heel ander boodskap moet kom gee. Die feit dat ek moet gaan en ook soveel ander toetse nou as roetine moet ondergaan, is ‘n teken. ‘n Teken dat ‘n dodelike siekte om elke hoek en draai kan skuil. Dis nou nie meer die 20’s of 30’s wat ons hier van praat nie. Dinge kan nou vinnig verander. Die einde is net effe meer van ‘n werklikheid.

Nou die effe “waaghalsige” ding wat ek gister aangepak het, was ‘n uithou rit met my perd. Dit was weliswaar net ‘n 20km, maar dit was nogsteeds ‘n groot ding vir my. Vir die wat al die verhaal ken, gaan na die volgende paragraaf😝. Vir die wat nie weet nie, hier is die verkorte weergawe(jy kan oral oor op my blogs hiervan lees.) Vandat ek kan onthou, was my droom om ‘n perd te besit. Waar ek aan die idee gekom het, weet niemand nie. Daar was nie ‘n perd in sig, geen TV of interessante stories wat my dié droom kon laat droom nie. Maar dit was daar. My baie praktiese ma, het eenvoudig geweier. Daar was die paar praktiese uitdagings van skool koshuis deur die week, ‘n dier wat dag en nag moet eet en so aan. Ek het wel die droom soort van waar gemaak..het op 23 begin lesse neem en so aan-en-af gery. Toe my geliefde moeder sterf en ons ‘n paar rand erf, het ek besluit…nou is dit mos haar kans om vir my daardie perd te koop.  As ek vir julle sê dis seker een van my grootste en langste drome wat waar geword het, dan lieg ek nie. En mense, mense is dit elke oomblik en sent die moeite werd!

So OUER MENSE mag ook maar droom! #nevertoooldtodream

#nevertoooldtodream
#nevertoooldtodream

Laat ons droom, laat ons droom!

Ek loop soek die internet vol, lyste en lyste van moontlike drome vir die wat ophou droom het. En ek weet hoekom ons ophou droom. Want alles moet afgeskaal word, alles moet weggesit word vir eendag wanneer die spreekwoordelike anderdinges die waaier gaan slaat. En ek wonder, wat as ek vandag hier omkap. Of erger nog, ‘n gevreesde siekte optel…dan wat. Dan gaan ek met hierdie drome sit..of het ek enigsins drome nog oor??

Ek hou nogal van Forbes se artikels. Laat my seker bietjie meer geleerd voel as ek dit i.p.v. die Huisgenoot lees. 😝. Maar hierdie artikel,
You’re never too old to dream
het nogal ‘n paar goeies hoor. Dis nou as jy ook wonder hoe jou drome mag lyk! Maar as jy nie ‘n ouer grootmens is nie, dan is jou ander drome seker nie nog nie uitgeleef nie. So gaat aan, liewe jongeling.

Nou ja, kom ons droom so ‘n bietjie. En ‘n droom moet mos iets groots wees. 

Berge uit…

Fisiese uitdagings is seker een van die opwindendste dinge wat ek aan kan dink. Nou ja, ek is mos maar een van daai wat hou van beweeg. Die een positiewe ding wat die gevreesde pandemie teweeg gebring het, moet verseker wees die hoeveelheid mense wat begin stap het. In berge, groepe is gesig, roetes word gestap saam met vriende. Dit voel vir my, dis ‘n bedryf wat ‘n ontploffing moes beleef het, danksy die vrotsige spul. 

Nou hier is my droom….ek wil graag ‘n @wynvlieg pelgrimstog vir ons op die been bring. Nou nie die Camino de Santiago nie. Maar ‘n naweek stap roete, waar ons bymekaar kan kom. So bietjie praat oor die lewe, maar meestal net ons stap, stap. Ek wonder wie stel belang in so iets? As jy een van hulle is, asb. los ‘n boodskap. Of op Facebook of hieronder by die “comment” deel. 

Verander van rigting…

Die stories van mense, soos @ChristaGroenewald hierbo, wat sommer met ‘n nuwe beroep begin het. Wat aftrede sand in die oë geskop het en die wêreld op sy kop gedraai het, is altyd so inspirerend. Maar ook maar waar die meeste van ons bly nè. Te veel moeite, te oud, te veel geld en so gaan dit aan. 

So hier is my droom….ek laaik mos die mens en die se kop en wat daarin aangaan. Ek is doodseker ek kan êrens vir iemand van waarde wees. So bietjie help om ‘n ander perspektief te kry, om weer rigting te kry of sommer net “in-die-oomblik” te leer leef. Maar daarvoor moet ek ‘n kwalifikasie kry! So dit beteken weer leer. Dink julle dis die moeite werd? Sal ek ‘n kliënt of twee kan kry?🙈

Laat die kreatiewes onder ons uitstyg..

Nou ja, dis toe nou ‘n droom wat ek al so soort van, half-en-half laat waar word het. Ek het begin met hierdie blog en sover doen ek dit nog vir myself. Dalk skuil daar ‘n boek êrens, maar ek wil nou ook nie wees soos elke Jan Rap en sy maat wat in Afrikaans ‘n album uitbring nie.  Net omdat mens in die koor op skool gesing het, beteken dit nie ‘n solo album is waar jou heil lê nie. En net so het ‘n blog jou nog nie ‘n SKRYWER gemaak nie!

Maar die punt is dit, hoeveel van ons doen enige iets kreatief? Nou dat daar meer tyd is, nou dat daar minder kinder verpligtinge is…wat van nou? En daar is g’n iets soos mense wat nie kreatief is nie. Nie almal is Pablo Picasso nie, nee. Ek kan nie teken om my lewe te red nie. Maar daar is ongekende hoeveelheid voordele om ‘n Creative Outlets te vind. 

Wat is joune?

Gaan besoek daardie plekke…

So baie mense raak net meer-en-meer huisgebonde. Die roetine is al so in ons ingeprent, dat ons baie male nie meer ‘n ander een wil oorweeg nie. Hoekom is ons geneig om naweek na naweek, dieselfde ou bekende plekke op te soek?  Hoekom kan ons nie ons horisonne so effe verbreed nie. Ek verstaan ons kan nou nie almal ons wens lysies najaag nie. Maar aarde, mens kan sekerlik darem uitry…nuwe plekke sien, ander dinge probeer. Of selfs net om ‘n ander blok stap.

Ek wou nog altyd graag Indië besoek. Daar lê ‘n bekoring daar wat ek dink êrens uit my DNS spruit. Die plek het nog altyd ‘n magiese aantrekkingskrag gehad vir my. Dus is die droom om vir my groot 50ste, ‘n trippie soontoe te bespreek. Susters en wie ook al ‘n geldjie het, saam te sleep(nou moet ons net hoop EK kan dit bekostig!😂) . #nevertoooldtodream

So wat is die punt….

Drome as jy jonk is, het op soveel vlakke te doen met ambisies. Ambisie om die hoogste sport te bereik by die werk, om die groot huis te hê, om die regte kar te ry, om jou kinders deur goeie skole en naskoolse plekke te kry. 

#nevertoooldtodream

As mens ouer word, dan verdwyn die ambisie so ‘n bietjie. Dit voel al vir my asof ons dan eers regtig by ons kern uitkom. Asof die droom meer gaan oor ondervindings, oor ander uithelp, oor die wêreld ‘n beter plek maak. 

Ek wil so bitter graag hoor wat julle drome is. Moet my nie teleurstel nie. Steek die platforms aan die brand met julle idees. #nevertoooldtodream

Alles gebeur hier onder op www.wynvlieg.com, of skryf ‘n brief na vryheid@wynvlieg.com.

2 thoughts on “Vol 141: Nooit te oud om te droom nie”

    1. Oh liewe Liza dan moet jy gaan! Ons was so ‘n paar jaar gelede en my word, dit was seker een van ons lekkerste vakansies. En glo my, ek het al wyd getoer. Ons was Tofo toe, huis gehuur op die strand. Dood geeet aan die seekos, lekker geswem in die warm water, paar uitstappies gehad. Eenvoudig heerlik gewees! Stuur fotos as jy wel gaan!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *