Vol 142: Waar is al die mooi heen?

Julle seker gewonder of ek oor die langnaweek onder al die kos versmoor het.

Tot ‘n mate kan ek seker my stilte toeskryf daaraan ja ~ te veel lekkertes, te veel lui rondlê ~ alles verorber wat voorkom, fuif tot watter tyd aand met vriende en sommer net vir kwaadgeld rondlê.  Want almal doen dan niks, almal is besig met niks.

Met al daai tyd op hande sou mens seker hoop ek trek die skootrekenaar nader en bespeel die sleutelbord met die grootste vreugde. Maar êrens verlede week het ek my fut verloor. My lus vir skryf sommer net weg. Dalk was dit die skielike dood van die hond, of die oninspirerend taak van raadsvergadering verslae aanmekaar slaan. 

Ek weet nie, dalk was dit sommer alles saam gegooi in die smeltkroes van die lewe. Maar vir die eerste keer in ‘n lang ruk moes ek erken, lose (one’s) mojo

#stopandsmelltheroses

Half opgewonde toe ek besef, ek het writer’s block. Opgewonde, want as jy mooi gaan lees, sal jy sien dit is net vir skrywers(soos in die regte soort) beskore. Dalk het ek uiteindelik opgedaag by die werklikheid. Wittebrood is verby!

Hoe oorkom ek hierdie struikelblok

Groot verrassing🤪, ek wend my tot die internet en gaan soek die redes. Ek laaik nie van mense in die steek laat nie en dit wil darem voorkom of daar so af en toe iemand is wat die klomp nonsens van my lees! 

 15 of the most common causes of writer’s block – and how to cure them, is die beste een wat ek kon vind. Of sal ons sê, dit het my die meeste verduidelikings vir die huidige toestand gebied.

Moontlike redes tot kommer, sluit dinge in soos:

  • Te veel verantwoordelikhede. As ek nie daai verslag hoef te geskryf het nie, of kliënte gelukkig gehou het, of ‘n perd gehad het, of naweke aan kos en vriende hoef te gewy het nie. Dan sou daar dalk ‘n groter begeerte tot skrywe gekom het. Of dalk het ek net nie meer probleme om op te los nie😝.
  • Dalk het die dood van die hond(later meer hieroor) weer die idee van groot verandering op die horison kom vasmessel. Nog ‘n lewensfase wat afgesluit is, het soos lood kom lêplek kry. 

Maar weet julle wat, ek moes maar raap en skraap om iets uit die 15 redes tot die huidige toestand te vind. 

Tot ek hierdie video gekyk het, Joshua Bell’s ‘Stop and Hear the Music’ metro experiment | The Washington Post. Moet nie net daar verby flits nie, luister, kyk en neem waar. Want toe slaan dit my soos ‘n nat snoek, regdeur die gesig. Erns tussen die verantwoordelikheid en die baie vakansiedae, het ek opgehou om die mooi in die lewe raak te sien. #stopandsmelltheroses

#stopandsmelltheroses

Die eksperiment

Die greep wat julle hopelik nou bekyk het, was deel van ‘n studie ~ Important Studies – Violinist at the Metro

In kort…Joshua Bell, ‘n uiters begaafde violis, staan in Washington DC Metro stasie en speel van die mees ingewikkelde stukke musiek, op sy Stradivarius ~ wat ongeveer $3.5 miljoen werd is. Tydens die 45 minute wat hy sy “uitvoering” daar hou, het daar ongeveer ‘n 1000 mense verby hom geloop. 7 mense het gestop en luister, so rondom 20 het ‘n geldjie uitgehaal en in sy viool tassie gegooi. Maar die meeste het nie eers in sy rigting gekyk nie. In teenstelling daarmee, het hy dae tevore, ‘n uitvoering aan ‘n stampvol teater gelewer. Die koste van die kaartjies? $100 ‘n stuk.

So die vraag wat hierdie eksperiment, deur die Washington Post gedoen, wou beantwoord was dit:

Where, how and when do we perceive beauty? What prompts us to stop to appreciate it? Do we recognize talent in an unexpected context? Pearls Before Breakfast: Can one of the nation’s great musicians cut through the fog of a D.C. rush hour? Let’s find out.

#stopandsmelltheroses

Ek reken ek is nie, en was nie meer so begeesterde met hierdie geskrywery nie, bloot omdat ek die mooi begin mis kyk het. Alles het net so wasig begin raak, saam gevloei soos waterverf op kladpapier. Die gejaag om alles op die skedule in te pas, selfs die naweke, kom met klompe verwagtinge. Of dalk is dit omdat ek nou begin agterkom, die meeste mense gee eintlik minder as hoender bollie om of ek iets skryf of nie!

Die sleutel tot my geluk

Natuurlik is die sleutel tot enige werklike langslewende geluk, soos die artikel dit stel ~  The Key To Happiness Is To See Beauty in Everything (Even Ugly Things)

Seker maar dankbaarheid wat daar lê en wegkruip. Dankbaar en tevrede met dit wat die lewe jou bring. Manlief sê my nou die dag, vandat hy opgehou het om goed te jaag of te kommer oor die dag van môre en net elke dag geniet, het ‘n vrede oor hom kom neerdaal. Rustig en salig en lekker. 

Maar dêmmit mense, ek wil skryf. Ek wil mense verheug, hulle twee keer laat dink of sommer net hulle koppe knik in erkenning van ‘n waarheid of ‘n gedeelde menslikheid. En nie soos die studente van ‘n vooraanstaande universiteit, vir wie ek oor die wonders van bemarking die week moes gaan vertel nie. Kyk as jy nou ooit wil voel of jy met ‘n muur praat – raak ‘n dosent! Niks wat die entoesiasme oor ‘n onderwerp so uit jou kan suig soos ‘n groep 21 jariges nie!

Dit daar gelaat, ‘n oplossing vir hierdie blokkasie moet ek vind!

Tyd vir my om te….

#stopandsmelltheroses

Raak weer soos ‘n kind

Ja, ja, partykeer grens ek so bietjie aan die kênsgeit, maar die keer is dit nie rede om spot te dryf nie. Dis waar. 

Ek spandeer te min tyd met kinders. Is te blêddie ernstig en altyd aan die lesse uitdeel.  Dalk is dit tyd om ‘n paar lesse oor die mooi in die lewe te leer by die wat die minste ondervinding van die lewe het. 

Kinders het hierdie Why children differ in motivation to learn: Insights from over 13,000 twins from 6 countries ~ hulle sien die wêreld en alles daarin, soos ‘n nuwe sikspens. En ons het almal daardie kind hierbinne. 

Ek sal weer my oë moet oopmaak vir die klein wonders, uit my maag lag en “modderkoekies” bak sonder enige rede. Dalk lê daar ‘n paar goeie stukke weggesteek agter ‘n kinderlag, of ‘n stoutigheid. #stopandsmelltheroses

Sal moet terug rapporteer. 

Word met ‘n doel wakker

Kan sommer sien waar die week skeef begin loop het. Een oggend, net nog ‘n halfuur wou slaap en die gym toe maar verpas. Wat ‘n fout ~ die hele week was so ‘n doellose geworstel. Alles voel so hak en tak.  

Ek sal moet weer in die gewoonte kom van iets vind in daai eerste oomblikke van ‘n oggend wat my inspireer, wat my siel vervul. Joga was ook pad af die laaste tyd…beserings, of sommer net luigatgeit. Hoe dit ook al sy…ek sal moet terug na die goed wat my siel voed. #stopandsmelltheroses

Dalk het my fonteintjie net droog geloop? Maar dit sal ook aangespreek word. Want die leë dop, sonder eers ‘n druppel olie, gaan nie die wêreld aan die brand steek nie. Dalk eerder soos daai mislike motreëntjie wees, wat net almal se hare laat kroes. 

Kyk net rond poepol, kyk net rond!

Ek weet almal besing altyd die natuur. Dis ‘n onderwerp op almal se lippe ~ How Does Nature Impact Our Wellbeing? En hoe meer vreemde klere jy dra en allerhande magiese sampioene gebruik…hoe groter is die kans dat jy die natuur sal verafgod. #stopandsmelltheroses

#stopandsmelltheroses
#stopandsmelltheroses

Ek spandeer oorgenoeg tyd in die natuur, maar ek het my lekker rituele laat vaar. Die sit in die son, voete in die lug met die skootrekenaar letterlik op die skoot. Voëls wat in die bome hulle longe uitkwetter en die kreatiewe sappies vloei. Daai is die goed wat ek nou verwaarloos het. Of opgeoffer het ter wille van …langnaweke! 

My mojo, ek gaan hom vind

Nou ja, met die mojo in die drom, is hierdie dan nou ook my storie. Ek hoop nie julle is dood van verveeldheid nie. (Hulle sê ook dat die meeste mense nie ‘n blog ordentlik lees nie, maar sommer net so hier en daar grondvat deur die teks.) Ek hou vir julle dop!

Maar as jy joune ook êrens verloor het, dalk loop ons hom saam raak. Ek sal net myself weer moet loop vind, my musieke speel, my wonders wonder en om vadersnaam my nie oorgee aan kos en net leeglê nie. 

Die naweek gaan ek tonne tyd spandeer net om na die natuur te luister, foto’s van allerhande goetertjies te neem, die wind in my hare te voel as ek galop. Ek gaan ‘n lawwigheid aanpak of dalk net skaterlag. Ek gaan vir ‘n slag weer #stopandsmelltheroses.

Ek weet nie of jy ook al so sonder drif gevoel het nie. Ook gewonder het hoe jou talente onder die maatemmer beland het nie?

Indien wel, laat hoor van jou en wat jou kuur was. Skryf na vryheid@wynvlieg.com of los sommer net ‘n oplossing of twee by www.wynvlieg.com.

2 thoughts on “Vol 142: Waar is al die mooi heen?”

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *