Vol 143: Wens ek het dié vroeër geweet

Die lewe gooi sy draaie. En so met alles wat oor ons lewenspad kom, skryf ons ons storie.

Sommige dinge sou ons eerder wou begrawe, of dalk wens ons dit het nooit gebeur nie. Ander sou ons graag wou uitrek tot in ewigheid. Maar daar is nie verniet ‘n tyd en plek vir alles in ons verhaal nie. 

#happinesscomesfromwithin

Hoeveel keer in ons lewens het ons nie al gewonder, Why Do Bad Things Happen to Good People nie.  Soveel goeie mense daarbuite, wat die storms net bly treiter. Hierdie is natuurlik ‘n onderwerp bedoel vir ‘n hele blog op sy eie. Maar des nieteenstaande, ‘n ordentlike artikel om te lees. Veral as jy vanoggend voor ‘n massiewe berg staan, wat jy nie heeltemal weet hoe jy hom gaan oor nie! 

Ek glo natuurlik elke liewe siel op hierdie aarde kry sy dag. Elke liewe siel het sy deel van goed en kwaad wat oor sy pad kom. Dis maar net die tydsduur en die tydsberekening wat so effe verskil. 


Maar hierdie is my wens

Ongeag my filosofiese uitkyk op dinge, ongeag die feit dat ek probeer sin maak uit hierdie lewe, wens ek darem soms hier by myselwers ‘n klein ou ietsie. Nou dat ek meer “getannie” en “ge-mama” word op straat, wens ek tog soms dat ek van my lewenslesse vroeër kon leer. 

Dat ek wyser was vroeër. Fêkkit mense, besef julle hoeveel ligter die lewe sou wees. Hoeveel beter besluite ek sou maak, met hoeveel meer entoesiasme ek die wêreld sou kon aanpak. So baie van die dinge waarmee ons ons denke en ure vul, is soos verdomde boeie om ons voete. Ons sleep hulle saam asof ons gevange is in ons eie lewe. 

#happinesscomesfromwithin
#happinesscomesfromwithin

Al daaraan gedink? Wel indien nog nie, hier volg die nuus, gelees deur Haas Kas se Nuuskas!

Min mense gee ‘n dooie duit om

Ons spandeer ure der ure van ons lewe om onsself te bekommer oor wat ander mense van ons dink. En niemand moet vir my die stront kom vertel dat hulle nog nooit omgegee het wat ander mense van hulle dink nie. Daardie 0.000001% van mense is gewoonlik die geniale soort, wat net te slim is…so hulle is in elk geval ons almal een voor. #happinesscomesfromwithin

Ek onthou tog te goed, hoe ek in my tienerjare, na ‘n lekker gesels sessie in ‘n kos huiskamer, die kamer verlaat het en dan gewonder het….wat sê hulle nou van my agter my rug? Het hulle my geweeg en te lig bevind dalk?

Daardie minderwaardigheid gevoel kon ek darem afskud so oor die jare, nou gee ek werklik nie ‘n dooie duit daaroor om nie. Maar om eerlik te wees, ek wonder tot vandag toe nog wat mense van my kleredrag sou sê byvoorbeeld…want sien dis iets waaraan ek waarde heg. 

Ons lei maar almal so bietjie aan die Spotlight effect. Ek vind dit eintlik lagwekkend, maar ons is almal so self gesentreerd. Daar staan ons almal en die een wonder wat die ander van hom dink. 

So of jy jouself nou soos ‘n totale poepol by die partytjie gedra het, of iets sosiaal onaanvaarbaar kwyt geraak het. NIEMAND GEE OM NIE. Almal is te bekommerd oor wat hulle alles aangevang het. Of die kwinkslag wat hulle nie kwyt geraak het nie. 

#happinesscomesfromwithin

David Foster Wallace het die volgende gesê…

“You will stop worrying so much of what other people think of you when you realise how seldom they do.”

Blaam dien geen doel nie

Tensy jy natuurlik in die hof staan en iemand moet verdedig, is die hele konsep van blaam eintlik ‘n nutteloos affêre. Want om te blameer, het nog nooit eintlik ‘n oplossing gebied nie. Dit veroorsaak eintlik net ‘n maalkolk waarin ‘n mens beland en bring nie een enkele oplossing nie. 

Why we put the blame on others slaan die spyker op sy kop, sommer daar in die hoofopskrif al. Ons het almal die geneigdheid om te blameer, maar o wee, dit kom teen ‘n prys. Geen wenners regtig nie. 

Dis ‘n fynere kuns hierdie, aldus die skrywer. Die kuns om ander die verantwoordelikheid te gee vir al die minder aangename goed wat in ons lewens gebeur. Ons loop deur hierdie lewe met ‘n Self-serving bias waar ons al die goeie goed wat gebeur aan ons eie wonderlikgeit sal toeskryf. Maar al die opdraandes voor iemand anders se deur sal gaan lê. 

Blaam trek net ons aandag af. Blaam veroorsaak dat ons nie ‘n oplossing vir die probleem kan vind nie. Ons haak vas! 

Blaam steek die vlammetjie van self regverdiging aan, wat meer skade aanrig as goed. 

Blaam vernietig verhoudings, mense se selfwaarde word verskroei. Vooroordeel en dwepery word op daardie fondament gebou. 

Blaam is nie juis die ding in die wêreld wat vure doodmaak nie, dit gooi net meer petrol daarop. 

My voorstel is dus, vermy die blaam deel en gaan sommer reguit na die oplossing. Vra jouself eerder af…hoe kan ek hierdie situasie regmaak of verander. Minder moeite reken ek!

#happinesscomesfromwithin

Sjoe, eina pyn!👆🏼  #happinesscomesfromwithin

Respek begin by jouself

Die is nou ‘n waarheid wat ek regtig, egtig wens ek het vroeër in my lewe agtergekom het. Mense het die geneigdheid om jou te respekteer, in dieselfde mate wat jy jouself respekteer. 

Lees dit maar weer…want as jy een moerse begeerte het tot aanvaarding en goedkeuring, sal jy jouself male sonder tal dalk in die geselskap vind van mense wat dit glad nie vir jou bied nie. Hoekom nie, want jy tree nie soos iemand op wat aanvaarding en goedkeuring verdien nie. Al ooit gehoor hoe ons praat oor ons figure, ons verstandelike vermoëns of ons stand in die lewe. Daar is die Engelse gesegde…fishing for compliments. Hoe verwag ons mense moet ons respekteer as ons niks van onsself dink nie? #happinesscomesfromwithin

What Is Self Respect and Why Is It Important, bring vir ons ‘n liefde vir onsself. Met al die kinkels en kabels wat ons het. Dit help ons om gesonde grense vir onsself te stel. Dit bring aanvaarding vir die unieke persoon wat ons is, dit help ons om die aspekte wat krap aan te spreek, te groei! Dis verseker nie ‘n behoefte tot aanbidding of aandag nie. 

Maar in my opinie, die belangrikste ding wat self respek ons bied, is die besef dat ons goed genoeg is om lief gehê te word en die respek van ander te verdien. #happinesscomesfromwithin

#happinesscomesfromwithin

As dit die moeite werd is, is daar swaarkry by betrokke

Hoor sommer my ma se stem in my ore: “As dit maklik was my kind, sou almal dit al gedoen het.” 

Ek lees die boodskappe, opgedra aan al die moeders, vandag. Sonder twyfel is daar vele lesse oor swaarkry, vasbyt, aanhou en weer probeer. Dis wat moeders oor alle taal, kultuur en landsgrense heen in gemeen het vandag. Daardie lesse. 

Nothing in the world is 
worth having or worth 
doing unless it means 
effort, pain, difficulty… 
I have never in my life 
envied a human being who 
led an easy life. I have 
envied a great many 
people who led difficult 
lives and led them well.

by
Theodore Roosevelt

Is dit nie waar nie? Van daardie eerste bietjie sakgeld wat jy verdien het as jong kind ~ gewoonlik om nagwa te dryf vir die familie se honde kroos. Tot die deurnag geleer op universiteit om daai graad te vang(of dalk was dit omdat daar te veel aande om gekuier is😝.) Tot die lang stresvolle ure by die kantoor, terwyl jy nog ‘n gesin ook agtermekaar en bymekaar probeer hou. 

Ek staan altyd verwonderd oor die groot suksesverhale in die wêreld. Mense met verbysterende visie en kanalas groter as die beste teël bul. Vra maar vir onse Elon Musk…. Elon Musk Just Revealed a Brutal Truth About Success That Most People Never ~ sukses kom nie sonder baie harde werk en onaangename opofferings nie!

Niks, wat die moeite werd is, word op ‘n skinkbord aangebied nie. Glo my vry! #happinesscomesfromwithin

Goeie verhoudings = ‘n goeie lewe 

Kyk die van julle wat ook al die pad van egskeiding gestap het, sal maar alte goed weet. Dis een van die mees traumatiese ervaringe wat met enige mens kan gebeur. ‘n Verhouding wat op die rotse loop, ‘n lewe wat saam oor gedroom is, die teleurstelling, die verwyt, die vrees oor die toekoms. Dis ‘n ervaring wat vir jou sonder enige twyfel laat besef, die kwaliteit van jou verhoudings, beïnvloed die kwaliteit van jou lewe.  En laat ons nou maar eerlik wees, daai maande of jare wat jou tot daai besluit laat kom het, is waaragtig ‘n nog groter les!

Ag noem dit maar op, stormagtige huweliksbootjie, varkerige baas, familietwis of aangenaaide kinders wat jou nie aanvaar nie. Elke liewe een van daardie troebele verhoudings sal jou hele lewe se kwaliteit opdonner. 

Net so is ‘n goeie opbouende verhouding iets wat jou kan vlerke gee. Why We Really Need Relationships in Life is altyd ‘n goeie vraag. Want jy is nie ‘n eiland nie my vriend! Die mens is ‘n sosiale wese en dus het ons mekaar nodig om te kan oorleef. Ons kies mos ons vriendskappe versigtig ~ ons soek hulle noukeurig uit. Ek sit net weer vandag langs ‘n hokkieveld en kan ‘n boodskap vir my baie goeie vriendin stuur ~ die opwinding deel. Al sit haar eie doelskieter ver oor die waters en mis sy nou uit, weet ek sy sal my geluk deel. Dis wat vriendskap is. Gedeelde lewens.  Dis in die boodskap van ‘n suster wat laat weet sy dank die Here dat hy ‘n engel soos jy vir haar gestuur het. 

Ek weet dat as my verhoudings gesond is, kan ek my stres deel. Ek kan maar afpak êrens, want daar is ‘n gewillige oor om te luister. Ek weet ook ek kan iets teruggee. Hetsy of dit ‘n oor is om te luister, ‘n blom wat afgelewer is, of dalk net ‘n boodskap om seker te maak alles is nog wel. Ek het ‘n doel! 

En daar is seker niks lekkerder in die lewe as ‘n Sondagmiddag oproep van jou man en julle kan saam skaterlag oor die foon nie. 

Boonop bewys navorsing ~ Social networks, host resistance, and mortality: a nine-year follow-up study of Alameda County residents ~ dat mense met goeie verhoudinge ‘n baie langer lewe kan geniet. #happinesscomesfromwithin

#happinesscomesfromwithin

Nooit te oud om te leer nie

Ai soms dink ek die lesse kan nou maar regtig stop. Ek dink ek het genoeg geleer, kan alles nie sommer net in plek val nie. Maar ek is bevrees die dag as mens ophou leer, dan is jy seker maar tien voet onder die grond. 

Al wat ek nou weet is dit ~ ek moet seker maak ek doen my deel om my verhoudings te beskerm. Ek moet hulle voed en ek moet myself beskerm. Dit wat ek van myself glo, is wat ander gaan sien. Blaam sal my nêrens kry nie en die meeste mense voel ‘n veer.  

En suffer, gaan ek nog suffer. Want die son kan slegs elke oggend kop uitsteek as daar ‘n nag was. 

As jy iets te sê het, skryf na vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com.

7 thoughts on “Vol 143: Wens ek het dié vroeër geweet”

  1. En elke keer kan ek iets saamvat wat jy se. (My meisiekind se mens begin nie ‘n sin met en nie)
    Ek gaan probeer daai blaam skip, as jy ouer word leer jy makliker, fix eerder dadelik los die blaam.

    1. Toemaar ek hoor elke taal en skryf les wat Ek ooit op skool of universiteit geleer het in my kop as en skryf!! Maaaaaar Ek het ook nou al so soort van die perfeksionis afgeskud. Taalfoute, spelfoute (wat gaan mense dink🙈??) probeer Ek nou maar as kreatiewe skryfwerk sien!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *