Alles het eintlik klopdisselboom verloop tot en met vandag.
Alles was haarfyn beplan, so tussen die werk, die verhoudings lewe en ‘n lekker groot uitdaging wat ek komende naweek sou aanpak. Goeie balans…man ek was skoon trots dat dinge so lekker vlot kon verloop.
Tot vanoggend…want partykeer is dinge net te goed om waar te wees nè! #lifelessonslearned ‘n Goeie dag kan sommer blitsvinnig na ‘n kakkerige situasie omswaai. Vandag was ek vies, teleurgesteld, omge-ellie, lamgelê en verslae.
Die slegste van alles, ek kon nie juis vies wees nie. Sien die lekker uitdaging wat ek die naweek sou aanpak, was nie ‘n solo storie nie. Dit het ander ruiters(ja-ja, daar is perde betrokke) ook ingesluit. Party het kop uitgetrek, want hulle voel hulle en die perde is nog nie ‘n veilige kombinasie in ‘n plofbare omgewing nie. Dit is uit die aard van die saak die wyse besluit.
En toe kom daar boonop ‘n harde slag, ek verneem Founder and Chairman Of The Aleit Group, Aleit Swanepoel has died in sy slaap. So ‘n lamte slaan my skoon plat. Ek weet sommer, die wêreld is vandag net ‘n kakkerige plek.
Die lewe gaan aan
Die ding met kakkerige situasies is dat mens dit nie kan weg wens nie. Dis is wat dit is. Om weer kop bo water te kry, moet mens iets omtrent die saak doen. Want ten minste beweeg jy in ‘n rigting, wat nie net verlamming bring nie. #lifelessonslearned
Die meeste mense wil eintlik net ‘n klomp gif in iemand of iets se rigting spoeg. Party gaan selfs so ver as om hulle gif op sosiale media te gaan versprei. Maar dis nie juis vreeslik produktief nie en boonop voel mens vir so ‘n kleine ou rukkie beter. Ander weer probeer dit versuip of weg knibbel.
Nou ja die harde werk is natuurlik om te probeer agterkom, waarom Tough Times Teach You The Best Life Lessons.
So wat is die lesse, wat ‘n mens kan leer uit enige mislike situasie? My eerste ou lessie is natuurlik vandag daai een van👇🏼.
My onmiddellike reaksie, na al die planne deur die mat geval het, was natuurlik teleurstelling. Kort op teleurstelling se hakke was die geïrriteerde gevoel omdat ek op ander moes staatmaak. En nie sommer alles net self kon doen nie. The Fear of Losing Control, la-die-da!
Ek weet die les hier is natuurlik, dat die lewe soms maar vir ‘n mens geduld wil kom leer. Al beplan jy alles haarfyn. Al spandeer jy tonne geld om alles “net reg” te kry vir iets, beteken dit nie jy is in beheer nie. #lifelessonslearned
Ek weet ook dat hierdie vlietend is. Dat hierdie verbygaan, en môre of oor-môre is daar weer ‘n kans. Ons kan tog so vasgevang raak in ons eie web, dat ons skoon die groter prentjie miskyk. #lifelessonslearned
Ek dink aan Aleit. Hoeveel vreugde en optimisme die man altyd uitgestraal het. Hoe groots hy was. Niks was ooit op kleinskaal beplan nie. Sy omgee en liefde was grootskaals. Nou is daar ‘n gat waar hy was. Ek het nog ‘n lewe, nog kanse en al is ek moerig vir die heelal vandag, het ek nog ‘n kans. ‘n Kans om groot te gaan.
Dalk rede tot dankbaarheid
Ag ek kan dit maar erken, dalk is ek effe bygelowig of dalk is dit my Calvinisties agtergrond. Maar ek glo werklik dat alles vir ‘n rede gebeur. Daar moet tog ‘n rede wees hoekom die heelal besluit het, ongeag al my voorbereiding en rondgery en bel en gelde betaal, is dit nou nie bedoel om te gebeur nie. Dit kan tog sekerlik nie heeltemal verniet wees nie.
Maar dalk is die les hier, Let Go Of The Myth That Everything Happens For A Reason. Vermoedelik is dit net ons manier om ons self so ‘n klein bietjie te troos as die lewe effe kakkerig voel. So asof ons gered word van een of ander groot katastrofe. Maar ek dink meer belangrik is dalk dat ons moet vrede maak met die feit dat niks in die lewe gewaarborg is nie. #lifelessonslearned
“The responsibility for success is on you; so is the responsibility for creating meaning out of life’s biggest disappointments.”
Die naweek se teleurstelling is nou nie juis een van die top 10 wat my al getref het nie. Maar ek moes myself afvra: “Waarom vang dit my nog onkant? Hoekom loop dit nie soos water van ‘n eend se rug af nie? ”Dalk omdat hierdie ‘n groot droom is, dalk omdat ek van skytbang tot dapper muis gevorder het. Nou het ek nie die kans om dit aan myself te bewys nie.
Dan dink ek weer vanaand aan al die boodskappe wat op Facebook oor liefste Aleit geplaas word. Die impak wat hy gehad het. Gaan lees al sy inskrywings die afgelope jaar ~ daar was ook maar twyfel in homself soms. Daar was ook maar teleurstellings. En ek wonder wat Aleit vanaand vir my sou wou sê oor die lewe en dankbaarheid. Oor teleurstellings en hoe ons tyd verspil deur oor die minder belangrike dinge in die lewe trane te stort. En wens ek hy het ook geweet hoe kosbaar hy vir so baie mense is.
So al wat ek myself vanaand vertel is dit: Ek is dankbaar hierdie kakkerige dag het my verdag getref. Ek is seker ek sal eendag nog bly wees oor hierdie dag.
Maar dalk lieg ek nou vir myself so bietjie. Vandag was net kakkerig. En die lewe is onregverdig ~ hoekom moet die goeies eerste gaan?
Bietjie tong in die kies
Jis ek was geïrriteerd ~ dink die gevoel was in my water dat dinge nie heeltemal so goed gaan uitwerk nie. Elke epos wat ingekom het, het soos ‘n berg gevoel. Ek kan maar herwaarts of derwaarts redeneer, maar die gevoel is amper soos ‘n babelas. Van Vrydag tot Sondag het ek omtrent die naweek geniet hoor. Oordaad op sy beste. G’n een dooie duit na my liggaam geluister of dié goeie raad nie ~ Listening to your hunger cues. Mens sou sweer dit was die laaste Avondmaal…een wat ‘n hele naweek aangehou het. DUS, ek het kwaai kat wakker geword. Oordaad maak my nie gelukkig nie en ek was gatvol vir myself.
Was soos ‘n vuurspuwende berg. Gelukkig vir almal om my, het ek geen kontak vandag met werksmense of huismense gehad nie. Want dit sou ‘n bloederige storie afgegee het. Ek kan nie eers PMS blameer nie, dalk net hierdie lood gevoel in my maag!
Maar i.p.v. iemand te lyf gaan as dinge nie so jollie-patrollie uitwerk nie. Of jouself verder onder die kos toepak, moet mens net halt roep.
Dalk is daar iets hier wat jou kan help ~ Do These 20 Simple Things To Treat Yourself With Love and Kindness. Ek moes myself vanoggend doelbewus stop en elke liewe emosie voel. Ek het hom soos ‘n brander gery. Die vreeslike begeerte om iets te sê, of iets in my mond te stop of sommer net te bly lê, het ek mooi op hok gehou.
Ek het myself by daai joga klas ingesleep – al voel ek soos ‘n Oros mannetjie. Ek het doelbewus vir myself vanoggend vertel ek is lief vir myself…en dit ‘n paar maal herhaal as ek weer die wysie kwyt wou raak. Ek het my perd gaan ry, al het die bergwind my hare laat lyk soos een met ‘n vinger in ‘n muurprop! Ek het net goeie, gesonde kos in my keelgat laat af. Ek het myself sommer daar en dan vir ‘n gesigs behandeling gevat. Laatmiddag die eensame brakkie gevat vir ‘n stappie. #lifelessonslearned
En gelukkig slaap ek vanaand salig in my eie bed en nie in ‘n tronksel êrens nie. Of hoef my kop in skaamte te laat sak nie!
Kry ‘n ander perspektief
Nou dat die dag sy loop gekry het en ek ook die gedeelde hartseer en verslaenheid oor ‘n dierbare mens met ander kennisse kon deel, herinner ek myself maar weer daaraan. Alles gaan oor die perspektief.
So ok, wat maak dit saak dat ek nie die naweek hierdie offisiële wedren kan gaan ry nie? As ek dit nie beplan het nie, sou ek nie daarvoor geoefen het nie. En ek het soveel as ruiter gegroei in die tyd! Dalk was die idee i.e.g ‘n fraksie te ambisieus. Nog ‘n bietjie oefen en selfversekering kry, sal ook niemand skade doen nie! In die geval kan dit my dalk net goed doen!
Dalk beteken dit ek kan nou eerder Vrydag gebruik om saam met ‘n vriendin te gaan koffie drink. Daardie een wat ek elke keer net-net mis. Nou is daar ruimte en tyd daarvoor.
Mens wil tog so graag weet hoekom die goeies moet sterf en so vroeg. En dit terwyl daar ‘n jonge kind afhanklik is van hulle. Aan die ander kant van die wêreld is daar ‘n euwel van ‘n mens wat sinneloos lewens uitwis. Hoekom nie hy nie?
Maar dalk is die perspektief, dat ons net mooi niks goeds van ‘n Poetin kan leer nie. Maar baie mooi en goeie lesse van ‘n Aleit. Sy lewe was ‘n inspirasie, hoekom kan ons sin nie wees nie?
Ek moet myself afvra – is dit hoe ek leef. Is ek ‘n inspirasie vir ander of net ‘n klakous? #lifelessonslearned
Die wonderlike, die goeie
Voor ek die dag afsluit moet ek dink aan alles wat goed en mooi en wonderlik in my lewe is. Al die goed wat ek vandag so geïrriteerd was oor, die goed wat my so onvas op die voete vandag gehad het.
Hoe kan ek my perspektief verander. Hoe kan ek dankbaar wees.
Ek is dankbaar dat ek wel die geld, tyd en vermoë gehad het om alles uit te sorteer. Dit beteken ek funksioneer nog, my verstand het my nie in die steek gelaat nie. Dit beteken my bankbalans is nog gesond.
Ek is dankbaar daar is mense wat omgee. Daar is baie van hulle.
Ek is dankbaar ek het my nog nie aan kos en drank oorgegee nie. Ek is dankbaar my liggaam werk nog, dis goed vir my.
Ek is dankbaar vir die natuur, waarin ek my elke liewe dag kan bevind. Dat ek bevoorreg genoeg is en nie in ‘n opslaan gehuggie hoef te bly nie.
Ek is dankbaar dat ek vir Aleit geken het. Ek is dankbaar vir elke keer se lekker gesels as ek hom gesien het. (Sodat almal weet ~ ek en Aleit was nie boesemvriende nie. Ons het eers saamgewerk, toe het hy funksies gedoen waarby ek betrokke was en daarna het ons mekaar terloops raakgeloop. Maar dít was sy impak op mense.) En sy lekker, breë glimlag.
Ek is dankbaar. Kakkerige dag ofte nie.
Het jy ook sulke dae? Laat hoor gerus van jou by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com.