Vol 151:  Galbitter, dis ek!

Die week het ek my vir myself geskaam. Kla met die witbrood onder die arm.

Op ‘n stadium het ek gewonder of die swart hond nie besig is om lêplek te kry hier so voor die 50’s nie. Ek het darem net eenvoudig té teen die grond gevoel. #pityparty

Om sake te vererger het ek omtrent een hele dag om geslaap en toe kom die volgende een verby, en daar vang ek toe ‘n middagRUS en nie ‘n russie nie. Sommer so op die mat, in ‘n kolletjie son. Soos die dood lê ek daar en ek wil nie op nie!

Moet byvoeg dat hierdie vlak 6 beurt krag ook fokkol help, want dis net nog ‘n verskoning om toe sommer die einste aand saam met die hoenders, weer in die bed te klim. Raak daai volgende oggend wakker, oë lyk of ek vir dae en nagte aaneen gehuil het. Sulke klein muis ogies. Kanselleer sommer die gym ook. Maar sleep myself darem teen ligdag by die voordeur uit, want oefen moet daar geoefen word om hierdie mistroostige, selfbejammering onder beheer te kry. #pityparty moet stop!

#pityparty

Wat de donner gaan met my aan?

Vir die wat nog nie weet nie, ‘n goeie draf sessie(of dan stap of kruip as dit moet) is die beste metode om van al jou muisneste ontslae te raak.  Ek stem heelhartig met hierdie artikel, How physical exercise makes your brain work better saam. Of dit nou my gym sessie of my hardloop of my perdry is, dit bring helderheid, ‘n skoon kop. Meestal die enigste terapie wat ek nodig het. Partymaal, so in die hol, al kliphard met myself gepraat ~  die verbygangers seker gedink ek is effe van lotjie getik! (Ver was hulle dalk nie verkeerd nie!)

Moet sê die draffie nou die oggend wou ek, desondanks die moeë bene, net verder en verder uitrek. Want die skoon kop wou nie kom nie! Op ‘n stadium het ek gevoel nou lus ek vir sommer in trane uitbars.

Maar stelselmatig het ek agtergekom, daar is iets in  How Does Your Environment Affect Your Mental Health? Ek is gatvol vir al die slegte nuus op die TV, in die koerante, oral waar mens kyk. Ek wil nie hoor van nog ‘n brandstof verhoging of donners kar wat breek, of lek in ‘n dak nie. Ek lus nie meer vir wag op ‘n student se uitslae of ‘n kind wat depressief en verlore voel nie. Ek wil nie meer dink aan huise wat moet verkoop, of ‘n getrek of vriende wat ek moet verloor nie. Ek wil nie hoor van perde en honde wat doodgaan nie. Ek soek nie meer hartseer, verlore familie nie. Ek wil net hê alles moet regkom. Alles moet ligter kom. 

En as ek nou doodeerlik met myself is, moet ek verkieslike Junie-vakansies alle sosiale media vermy! Want as ek nog een stel foto’s van gelukkige gesinne, op toer êrens in die Griekse eilande of Turkye of Londen, of sommer die hele donnerse Europa vol moet sien toer, gaan ek my polse afkou. Ek weet soms skep sosiale media ‘n Social media & self image wat heel onrealisties is. Want sien, niemand vertel jou hoe bekommerd hulle dalk oor hulle bankbalans is, of hoe hard hulle nog moet werk vir die volgende 100 jaar om hierdie vakansie te kan bekostig nie. Maar ek is groen van jaloesie. En ek kry myself BITTER JAMMER, want die jare van familie vakansies is vir goed verby vir my. My eie inkomste dek die student se geleerdheid en my lekkertes so net-net! Manlief is mos afgetree, so ons moet nou die kapitaal bewaar vir die onvoorspelbare wat nog moontlik kan voorlê. Geen geld bymekaar maak so seer meer nie, nou is dit net bewaar, bewaar en spaar. (Jip, witbrood onder die arm!!!) #pityparty nou op sy hoogtepunt

So in die draf, vang ek myself, dat ek verby twee dames met platinum koppe hardloop en so stilweg wens…as ek so oud was reeds, dan hoef ek nie oor al hierdie jare vorentoe nog te hoef getop het nie. (Sies, kan nie glo ek sê dit hardop nie!)

Ek voel ook soos ‘n middeljarige rebel. Ek is nie van plan om ‘n optog te gaan aanblaas of lei nie, ek het nog nie vlamgevat om soos die rubriekskrywer ons graag wil aanpor nie ~  Why aren’t middle-aged women the face of angry protest? Ek is te moeg. Te moeg aan my eie lewe gedink en gedink en gedink. Te moeg van my opwinding soek in uiteet, drink en TV kyk. Te moeg van bekommer oor die dag van môre. En die blinkkant bo hou.

#pityparty

Dus is ek goed geskroef. #pityparty, dis myne en ek sal huil as ek wil!

Is daar lig?

Wat sê hulle altyd…solank dit net nie die trein is wat aankom nie. En as dit is, mag dit tog asb. die Eurostar wees🤪😆!

#pityparty

Alle grappies op ‘n stokkie, so halfpad deur die drawwery begin daar toe darem weer ‘n liggie van hoop skyn. So ‘n ligte flikkertjie …maar hy’s daar. 

Want as die wêreld so bietjie donker begin word en ek myself eers moeg geslaap of getjank het, dan probeer ek maar die verfkwassie van hoop optel en ‘n silwer randjie êrens te skilder.  Ek probeer my oë en ore oophou vir die mooi en die goeie. Ek weet ek het al verskeie blogs oor dankbaarheid geskryf, maar gaan lees gerus hierdie een 6 Proven Benefits of Gratitude. Dit sal nooit oud raak nie, want as ek in ‘n put van selfbejammering val, wag ek nie soos Josef met sy fênsie jas om gered te word nie. Ek moet myself daar uitkry, al moet ek my hande rou grawe. En dankbaarheid het ‘n gewoonte om die trapleer te verskaf. 

Dus, ek neem toe die dag so by die horings(veel ligter na die draf sessie) en besluit om elke ding op my pad met dankbaarheid te bejeën. #pityparty is besig om stoom te verloor

  • Eers was ek diep dankbaar dat die student sy alie uit die bed gelig het en gaan fietsry het. Goed vir die gemoed. En saam kon ons ontbyt. Wat ‘n voorreg is dit nie.
  • Ek en die minister van huishoudelike sake hier by ons(huishulp vir die wat dit nie snap nie,) het sommer gou weer die hele politieke landskap uitgepluis. Altyd goed om herinner te word, ons twee deel so baie. Ons kinders, ons drome vir hulle, ons eie toekoms en ‘n hoop vir hierdie land wat groter is as korrupsie. Maar ons is beide gatvol, dis verseker. 
  • Beurt krag kom maak toe mos sy draai, oor-en-oor-en-oor. Net daar besluit ek dis nartjies vir middagete en sommer afsit na die plaas. Heeltemal te vroeg vir my les, maar ek kon in die veld stap. Ek kon net rustig wees en uit my maag lekker lag. Die dinge wat ‘n middeljarige vrou oor opgewonde kan raak ~ ‘n suksesvolle les op die rug van jou perd. 
  • Die kar, die kar, die stukkende kar. Moes middel van die week soos ‘n nuwe sikspens wees, reg uit die werkswinkel, na amper 3 weke van herstelwerk. Maar beurt krag het so ‘n bietjie van ‘n speek in die wiel gesteek. (Darem net letterlik nie!) Gou plan gemaak om die volgende dag se vervoerprobleme uit te sorteer.  Sou weliswaar reg rondom die Wes-Kaap moes gaan, maar nou ja, ten minste hoef ek nie in die spitsverkeer te gesit het nie. 
  • Ek en die student besluit, ons moet ‘n daadwerklike plan maak as ons nie net die hele dag tuis wil sit of ons genot moet vind in ‘n uitetery nie. So ons het ‘n plan beraam, begin sommer die week reeds met ‘n uitstappie. Met die klem op “stap.”
  • En die lekkerste van alle lekkers is dat die eksamen my ‘n kind tuis gee, een wat nou ewe skielik in die aande wil saamkook! 
  • Dankbaar vir die ou-tannie Kindle wat ek het, want as beurt krag al teen 8 uur die aand ingestel word, kan ek ‘n slag in die bed lê en lees!
  • En vir kerslig en daai reuk as die vlammetjie doodgeblaas word. Dis een van daardie onthou geure wat ek uit kindsbeen met my saamgedra het. 

#pityparty totsiens, hallo dankbaarheid.

Buiten vir die dankbaarheid, is daar ook nog…

Het mos verlede week geskryf oor my alles-of-niks houding. Dat ek nie een vir die middelmatige is nie…grys en kleurvol is ek in baie opsigte, maar in die ander is daar maar ‘n groot Cognitive Distortions: All-or-Nothing Thinking

En hand-aan-hand daarmee kom die geneigdheid om ‘n fiksasie ~ fixation met seker dinge te hê. In plaas van om bevryding te smaak. Dit werk so, ek raak so vasgevang met of in iets, dat ek glad nie die grys areas kan sien nie. Dis net die een uiterste tot die ander. Daar is nie die moontlik vir vryheid tussen-in nie. Die vryheid om gematig op te tree, of ok te wees met nie net die perfekte prentjie in my kop nie. Freud het met die teorie begin…syne was natuurlik weer gepla met die onderdele, maar ek dink mens ontwikkel dit in enige iets wat dalk vir jou genot kan verskaf. Kos, drank, die los lewe, dobbel, oefen, rook, dwelms, werk.  

Hoe dit ook al sy…ek weet ek raak heeltemal obsessief oor goed partykeer. Oorboord is wat ek gaan en ek vermoed dis omdat ek myself wysgemaak het die lewe moet in die oortreffende trap geleef word. 

#pityparty se ligte is nou afgesit…vir die oomblik. Nou moet ek net my kerse kan kry en nie ‘n kleintoontjie moer toe skop teen ‘n stoel nie. Dan gaan die #pityparty nou eers spoed optel!!!


Hoe gaan dinge daar by jou?  Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com.

4 thoughts on “Vol 151:  Galbitter, dis ek!”

  1. Hallo Wynvliegie, ek deel jou sentiment.
    Sosiale Media is ‘n onding en ek glo dat hy op eie houtjie verantwoordelik is vir depressie en die algemene miserabelheid onder die mensdom … maar ek kan nie wegbly van die nuusblaaie nie. Ek is net TE nuuskierig om my neus uit die nuus te hou.
    Soms wens ek dat ek ‘n towerstaffie kon swaai en daar geen rommel enige plek sal wees nie en dat elke mens volgens die Bybel se maatstawwe kon lewe en dat elke liewe dier gelukkig en versorgd sou wees.
    Dan besef ek dat ek net een mens is en dat ek net my eie bietjie bydrae kan lewer om hopelik my eie kringetjie mens, dier en omgewing kan versorg.
    Sterkte met die oppe en die affe; ‘n glasie (of drie) wyn help altyd om mens se oë bietjie te verdof en dinge anders te sien 😉

    1. Hallo Juanita, ja nee ai sou so ‘n towerstaffie nou nie ‘n wonderlike ding gewees het nie. Maar nou ja, hier is ons nou!! Ek dink tog dat jy ‘n verskil maak, want as jy daar in jou eie omgewing ‘n verskil maak moet dit tog mos soos ‘n klippie op die water gegooi, uitkring!

  2. Ek join sommer jou pityparty. Niks rêrig om oor te kla nie, nettie lus nie. Ek wil net lê of TV kyk of lees. Ek wil nie dink nie. Ek wil nie wees nie. Los my net en moenie met my praat nie. Eskom, die petrol prys, die oorlog in die Oekraïne, geen lig in my tonnel nie. Maar eintlik lieg ek, want ek het sò baie om voor dankbaar te wees, en ek ìs, règtig, maar ook nie eintlik vreeslik entoesiasties nie. Ek voel bleh… hoekom?

    1. Nee hemel weet alleen wat nou weer aangaan. Iets in die water en jy kla verniet – jy was net bietjie tyd ten minste oor die waters. Iets anders gebruik en gesien!!!! So jammer vir jou, maar dink jy eentje voor my..ha.ha.ha!!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *