Die komende week sou my ma haar 89ste verjaarsdag gevier het. Dis daar op my webblad, dis oral in die skrywes…hierdie is ‘n vrou wat een massiewe impak op my lewe gehad het. #anodetomymother
So ek dink ‘n ode aan hierdie vrou, sal gepas wees. Maar eintlik moet ‘n ode mos rym dan nie? En vir rymelary was sy bekend, ek is al effe geroes in daardie afdeling, so ek sal maar ‘n lofrede vir haar skryf. Of dalk ‘n brief, wie weet, dalk kry sy dit daar in die hemel. #anodetomymother
Vir die wat dit nog nie agtergekom het nie🤭🤪, jou ouers het een reuse impak op jou lewe. Melissa Stanger wys seker die vier grootste areas van invloed uit in hierdie artikel…4 Effects Your Parents’ Relationship Has On You. Van ‘n mens se verhoudings, jou vermoë om kwesbaar te wees, hoe ‘n mens konflik hanteer, tot en met hoe jy jou emosies uitdruk, word alles deur jou ouers bepaal. Ek kyk mense soms so en dink, ai jou arme ding, ‘n ouer het jou êrens langs die pad goed opgefêk. En dis natuurlik ‘n vermaning vir dies van ons wat wel die vreugde van ouerskap smaak….wees versigtig, want wat jy saai, sal jou kinders maai.
‘n Brief aan my Ma
So hier gaan ons…. #anodetomymother
Liefste Mammatjie van my
(daar is ‘n storie agter die “mammatjie” ~ my ma het uit die Sandveld gekom. Daar was g’n niks water nie. Sy kon dus nie swem nie. So besluit die ouer susters, ma moet leer swem in die plaasdam. So ‘n sement affêre, wat bitter diep vir ‘n 5-jarige gelyk het. Ek het daar op die rand gesit en huil, want my “mammatjie” moes asb. net nie verdrink nie. Weet nie wie was banger nie, ek of sy!)
Nou ja, daar is jy nou ook al amper twee jaar weg van ons. Wel so bietjie langer, met die vergeetsiekte wat jou onthou en jou taal so kom steel het. Maar deur dit alles, was JY daar. Jy met jou onblusbare siel.
Ai en hoe ouer ek raak, hoe meer raak ek ook soos jy. Dink hier het die appel nie ver van die boom geval nie. Vermoedelik het jy die oorgrote meerderheid van jou eienskappe gehou vir die laatlam. En as ek dit sê, moet ek erken ek het ál jou eienskappe gekry…die minder aangenames het my ook kom beset😜. Gepraat van my geboortereg, ek wou hierdie vir ma aanstuur, The sibling bond want die een ding wat jy uitsonderlik reg gekry het, is om ons vier se verhouding só dig te smee, dat niemand dit kan breek nie. Want al aard ons nie heeltemal na mekaar nie, is jy voorwaar in elk een van ons ingemessel.
As ek jou aan mense moet beskryf, sal dit sekerlik wees dat jy van positiwiteit aanmekaar gesit was. Dat jou hande nooit vir iets verkeerd gestaan het nie. Dat jy super reguit kon wees, partykeer so effe té as jy my vra🤣. Jy jou alles vir ons opgeoffer het, maar jy het geglo ons moes ons eie koppe stamp. Hoe jou hart nie in ‘n duisend stukke gebreek het, met elke ses jaaroud kind wat jy moes aflaai by die koshuis nie, sal ons nooit weet nie. Jy het ons geleer deursettingsvermoë, harde werk en lojaliteit is belangrik. Jy het gehou daarvan om reg te wees. (Nou ja, my boom dra dalk ook daai appel😬!)
Laat ek ma ‘n staaltjie vertel. Nou die dag gaan ek toe mos vir ‘n Mammogram. Daar in die ou klein kleedkamertjie hoor ek Ma toe met my praat…”vou jou klere netjies op my kind, mense moet darem sien jy is ordentlik grootgemaak. 😝” Ek waarsku die seunskind hy gaan my stem nog in sy kop saamdra eendag. Hy dink ek praat snert, maar nou ja. Ek weet mos nou al van beter!
Dan het ek ook nou hierdie nare gewoonte aangeleer om met alles en almal te praat. Ek kon my morsdood skaam vir jou toe ek ‘n tiener was. Het elke moontlike winkel uitstappie met jou vermy, want as iemand net dalkies te naby ons gekom het, of dalk gelyk het of hulle oor die aankoop van ‘n item wonder, dan het jy nader gestaan met raad en daad. Ek is gelukkig nie heeltemal so erg nie, maar ek praat tog met wild vreemdes. Sommer so daar in die kasregister se ry.
Jou leuse was altyd: Vriendelikheid kos niks. So het die hele dorp, van watter kant van die spoorlyn hulle ook al mag gekom het, jou gegroet. Geselsies gemaak. Shoprite se pakkers, trollie stoters, bestuur…noem dit op, het jou op die naam geken. Altyd van die vriendelike tannie gepraat. Jy sal trots wees, my Rasta vriend hier onder by die verkeerslig, hy sê hoeka nou die dag vir my: ” M ’lady is altyd so vriendelik, of jy nou hier verby ry of hardloop…altyd dieselfde. Altyd ‘n smile op die gesig.” So M ’lady wil net vir Ma sê, ek onthou.
Maar die ding waarvoor ek Ma die meeste moet bedank, is sekerlik vir my deursettingsvermoë. En om kreatiewe maniere te vind om probleme op te los. Daar is altyd ‘n uitweg. Ek dink Ma sal dalk van hierdie artikel ook hou, The Power of Defeat: How to Raise a Kid With Grit. Ek weet Ma het nie opleiding gehad in die sielkunde nie, was net ‘n onderwyseres. Maar jy het wragtag ‘n ding of twee van die mens en veral kinders verstaan.
Jy was nie een wat klippe uit die pad gerol het vir ons nie. Jy het geglo ons moes ons eie keuses maak, maar o wee…as mens besluit het jy wil aan ‘n aktiwiteit deelneem, dan moes ‘n mens maar vasbyt. Ek was gelukkig vir jou een van daai wat ALLES ONDER DIE SON wou probeer. En jy het dit toegelaat, aangemoedig…maar ek was op my ys. As ek sou kom kla oor iets, wou jy altyd weet, wat ek daaromtrent gaan doen. Daar was nie ‘n ding soos sommer net opgee of iemand anders blameer nie. Nope, daai kite het nooit gevlieg nie!
Jou verwagtinge was hoog. Bietjie van ‘n fokkop uitgedraai vir my in sekere areas. Want ek reken dit het ook my alles-of-niks houding gesement. Maar kom ons fokus op die positiewe. Ek lag nou nog oor jy altyd gevra het wat dan van die verlore punte in ‘n toets geword het. My ook goed genoeg geken om te weet wanneer ek slap gelê het. Jy kan jou sterre dank dat ek van leer en presteer gehou het😝. Ek dink net, ek het nie daai strategie so goed toegepas op hierdie seunskind van my nie. My geteem gaan by die een oor in en die ander uit. Vermoedelik omdat ek te veel wou help!
My kleintyd opwinding was om saam met jou dorp toe te ry ~ dink jy het dit gevrees, want ek wou net lekkers koop by elke liewe plek waar ons gestop het😃 ~ want dan kon ons saam sing. Gesang 5 om spesifiek te wees. Ek sing hom tot vandag nog. Toe ek die tienerjare slaan, toe gaan jy die menopouse in. Laat ek maar net vandag hier sê, daai selfde ding het my oorgekom. Dis so goed mens trek ‘n vuurhoutjie naby ‘n petrolkan. Die twee meng nie, dis net een groot ontploffing meer kere as nie. Maar desondanks was jy my grootste ondersteuner en ook my grootste steun pilaar.
Ek wens soms jy kon langer onthou. Ek wens soms jy kon vir ewig bly. Maar nou ja, jy leef voort in elkeen van ons. Die oudste het die meeste van jou gewoontes, is ook by elke ding by die kerk en gemeenskap betrokke. Die tweede een trek op ‘n haar na, na jou. Sy kan brei en bêre alles mooi in bakkies in die yskas. Die derde een, sy kan weer glad nie stilsit nie…daai is jy. Ek, wel ja dan is daar ek. Reguit verby, ‘n opvoeder eerder as een wat koester en ek dink ek het my kreatiewe streep by jou gekry.
Ek hoop dit gaan goed daar in die hemel en dat hulle byhou by jou.
Lief jou vir ewig en altyd.
Jou Baba
#anodetomymother
Wie het jou gesaai?
Ek besef ek was oneindig bevoorreg om ‘n ma soos myne te hê. Ons almal is nie so gelukkig nie. En desondanks die feit dat sy my geanker het teen baie storms, het sy ook dinge gedoen wat sy gedink het “reg en goed” was, maar wat my so effe opgemors het.
Ek wil dus net sê, ons het elkeen ons storie. Waar jy gesaai is, dis vermoedelik geluk of genade. Kies jy maar self. Maar wat ons met hierdie stories in die langtermyn doen, is dalk van meer belang.
Dalk het jy ‘n What Is the Mother Wound and How Do You Heal? En ek is jammer daaroor. Weet net dit, jy kan die goeie behou en die slegte kwaad oor wees, dit wegbêre en net sekermaak jy herhaal nie dieselfde met jou eie kinders nie.
Dankie aan elke Ma daarbuite. Dankie vir dit wat julle doen.
#anodetomymother
As jy graag ‘n brief aan jou Ma wil skryf, stuur vir my. Ek sal so graag lees. Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com.
Dis so mooi Wynvliegie.
Het ook my Moeder so 3 jaar gelede afgestaan aan die ewigheid. Wens ek kon jou brief vir haar lees, want dit is wat ek vir haar ook sou wou sê.
Ai ek is jammer, maar hoe n groot voorreg was dit nie sulke ouers te hê nie!! Ek ‘praat’ daagliks nog met myne. Maar wonder ook gister of ek haar ooit spesiaal genoeg laat voel het met elke verjaarsdag wat sy wel hier was!