Vol 154: Oudword met ‘n tikkie grasie

Hoe gaan daai sêding ~ oudword is nie vir sissies nie. Nou ja, as jy al so ‘n paar rondtes om die son gedoen het, dan weet jy.

Alles begin te pyn, uitmekaar te val, die geheue begin te gaan en verder is verandering regtig nie ‘n aangename vooruitsig nie. 

So teem ek nou al maande voort oor die groot trek, wat nog nie gebeur het nie. En eintlik is ek heel gerus daaroor, selfs opgewonde ‘n Berg van ‘n molshoop gemaak. En nou, MAAAAANDE later, met ‘n arme man wie se geduld omtrent tot die uiterste getoets is, besef ek die probleem is dat ons ouer garde nie so goed doen met verandering nie. Seker beter dat ek dit nou net hier voor die 50’s besef, want dalk kan ek nou, met die goue jare wat voorlê, bietjie minder van ‘n bangbroek wees. #aginggracefully

Laat ons nou ook maar almal eerlik met onsself wees, raak ons nie so ‘n bietjie warm onder die kraag as ons die jeug van vandag gade slaan nie? Ons is gou om te oordeel dat hulle bietjie los van sedes is, dat hulle werksetiek veel te wense laat, of dat hulle net alles nou-en-gou wil hê. Ek reken as ons so effe dieper delf is dit dalk oor ons moerig is dat ons nie daardie vryheid of moed gehad het nie. Ons is eintlik maar net bloot jaloers!


So nou is die vraag, as ons nie soos ‘n klomp klakouse wil klink nie. Of beter nog, ons Baby Boomer generasie se reputasie wil beskerm, beter ons ons sokkies optrek en ‘n beter profiel bou! (Net ‘n voetnota, ek is eintlik ‘n Generation X (Gen X) maar met die dat ek ‘n laatlammetjie is, voel ek so effe verstrengel tussen die twee🙈). 

So hoe pak ons die storie met ‘n tikkie grasie aan?

#aginggracefully

Hoe meer ek dink, hoé meer ek skryf, hoé meer ek leef, besef ek dit vat ‘n lang, lang, lang tyd om regtig uit te figure wie en wat jy is. My seunskind is tog altyd so bang ek word deur ‘n bus omgery, want wie gaan al sy probleme dan in perspektief kan sit; wie gaan dan al sy angstige oomblikke help uitsorteer? Dis die vraag wat by hom bly spook, as sy eie wiele so effe afkom.  Ek is natuurlik strategies in my stilswye, sê net mooi niks oor die feit dat ek ook geen idee op een-en-twintig gehad het nie. Ek was net so verlore en bang. Dit het my ‘n goeie paar lesse gevat om tot hier te kom. En ek is ver van die wyse Salomo af! 

Maar wat die ouderdom tog bring is ‘n groter kalmte en meer gelate aanvaarding,  Getting better with age: the relationship between age, acceptance, and negative affect. Hierdie stukkie navorsing wys wel uit, dis nie ‘n kwessie van halfpad met die voet op ‘n piesangskil staan of opgee voor jy nog jou laaste asem uitgeblaas het nie. #aginggracefully

Hierdie tipe kalmte en aanvaarding beteken verseker nie ~ 

  • Om alle pynlike ervarings of emosies van die verlede te probeer vermy soos die pes nie. Weghol is nie die aksieplan hierso nie. 
  • Aanvaarding is definitief nie opgee op die lewe nie. Dis nie gaan sit op ‘n hopie en kry jouself jammer nie. 
  • Aanvaarding is ook verseker nie blote optimisme nie. 
  • Dis die aanvaarding van emosies, maar nie noodwendig van die oorsaak daarvan nie. 

Hierdie tipe aanvaarding is ‘n aktiewe, nie-veroordelende betrokkenheid by al jou emosies, hetsy negatief of positief. 

So lyk my daardie ontwykende Self-Awareness Development and Types , raak dalk makliker om vas te trek as mens eers bietjie meer begin stilstaan. Bietjie die gejaag na alle dinge blink en beter en hoër minder aanloklik vind. Of as jou wedloop einde se kant toe staan.

Skiet myself nou minder deur die voet

Ek vind dat ek nou so 70% van die tyd nie meer my eie grootste vyand is nie. Ek is nie besig om myself doelbewus te ondermyn dag na dag nie. Ek begin al nostalgies terugkyk na die tyd in my lewe toe hierdie tipe onderwerp ~  Work-Life Balance Is a Cycle, Not an Achievement ~ my na ‘n oorpresteerder sou laat voel, maar tog ook in beheer.  Maar as die nostalgie eers sy lagie vernis verloor het, dat besef ek, ek is nou eintlik moeg van daardie presteerdery. #aginggracefully

Ek weet nou dat ek myself nie op die alter van “die goeie een” hoef te gaan neerlê nie. Want dan is ek eintlik net ‘n deurmat, en die Millennials vir wie ek meestal die grense probeer stel, is dalk glad nie so fyngevoelig soos ek nie. 

Ordentlike selfversorging is nou van kardinale belang, want dis nou absoluut noodsaaklik dat ek my kosbare tyd bewaar.  Want nou is die uurglasie besig om in die verkeerde rigting te kantel. So ek is dus nou gulhartig met myself. Ek soek die geselskap op wat ek waardeer, my voed. Tyd met Mnr G is kosbaar, want dis net ons twee se tyd. Dis ons herinneringe wat net ons twee gaan oorhê van mekaar en wat ons êrens in die(hopelik verre toekoms) gaan moet warm hou in die nag. Deurdra. 

En halleluja prys alle gode, asook die son, maan en wie ook al ‘n dans om ‘n vuur verlang. Want ek dink ek kry dit nou amper so 50% reg om na my liggaam te luister. Om gematigdheid voor oë te hou. Ek hoef nie meer iets soos ‘n senuweeagtige ruspe of sprinkaan in my keelgat af te prop nie. Ek kan eers rustig die voorneme van ‘n so ‘n aksie ondersoek, dan vir ‘n paar oomblikke aan die langtermyn gevolge dink en dan die ritueel begin. Ek kry dit so amper altyd reg om die garage deur se slotte aan te sit(onthou julle? “Hier kom die vliegtuigie, maak oop die garagedeure?”) Dan ‘n salige teug van genot te neem. Boem-bang in die oomblik geleef! #aginggracefully Maar ek weerhou my ook nie van als wat lekker is nie. Dis waarvoor die lewe daar is. 

Nou eers vir ‘n stukkie preek – mense, mense na ‘n sekere ouderdom begin die lyf so effe swaar trek. Ons ruil ons karre in vir nuwer modelle, want die onderhoudskoste raak net te veel. Tot dan, maak ons seker daardie diens rekord is op datum. Geneuk is ons liggame kan nie ingeruil raak nie, so ons beter seker maak ons doen daaglikse onderhoudswerk. So What Do We Know About Healthy Aging? Wel dat jou genepoel jou kan deurtrek, maar dat ‘n gesonde leefstyl, gereelde oefening en ‘n gereelde ondersoek deur ‘n dokter jou ‘n goeie diensrekord kan verskaf. 

Grasie beteken nie vasskop nie

#aginggracefully

Ek is voor in die koor as dit kom by gereelde haarsalon besoeke. Dis nie juis die grys hare wat my soontoe dwing nie, dis meer daai vaal aartappel kleur waarmee ek geseënd is wat onder die kleursel moet deurloop. 

Ek is ook ydel genoeg om die duurste roompies en poeiertjies wat ek kan bekostig klokslag op die gesig te smeer. Maar ek is nie juis ‘n botoks aanhanger nie. Ek glo hierdie gesig het ek verdien. Elke liewe plooi vertel ‘n storie. Ek sien my Pa en Ma hier op die legkaart van my gesig. Alle lagplooitjies ‘n oomblik van genot, elke frommel op die voorkop of om die oë ‘n oorwinning. En selfs die son vlekkies hier en daar, ‘n dag wat die asemrowende Afrika son op my geskyn het. 

En die stiefkind waarmee ek die meeste vrede gemaak het is hierdie liggaam van my. Ek het myself so in die spieël gekyk en af gevra: 

#aginggracefully
#aginggracefully

Die antwoord was klinkklaar – hel NEE!!! Hierdie belaglike idee dat ons dieselfde gewig of bou moet behou dwarsdeur ons lewens is gek. Heeltemal gekkerny sê ek vir julle. Boonop weet julle goed ek sit nie en verorber vier plakke sjokolade terwyl ek hierdie tik nie. As julle nie geweet het nie, hier is ‘n brokkie ontstellende nuus ~  Here’s how many South Africans are overweight according to Discovery . So duidelik is ek nie besig om vetsug en oormaat te promoveer nie. 

Maar regtig, hierdie liggaam het al baie vir my gedoen. Hierdie liggaam het al ‘n paar vernietigende aanslae oorleef, ‘n kind gebaar. Hierdie liggaam het fikser geword, ‘n paar peste en plae oorleef en is verseker nou sterker as in my tienerjare. En ondanks al daai wipplank ryery, slaan daai skaal se wysertjie nou effe verder vas. Wie is ek om met gravitasie te baklei? 

Ter afsluiting

Op ‘n meer ernstige noot. Die afgelope paar maande word daar nou gevaarlik naby aan my ouderdomsgroep tussen die koring gemaai. Daar is mense wat siek word, gevreesde siekte word gediagnoseer. Daar is mense wat skielik sterf, aan ‘n hart of iets anders. 

Dit kom nou gevaarlik naby verby. 

Daar is nie meer tyd om so te baklei teen alles nie. Dis nou ‘n kwessie van gelate aanvaar, doen wat goed is vir hierdie tempel van my en dan om sekere mense en feite te vermy.

Mag julle almal #aginggracefully as julle motto vorentoe uitleef. 

#aginggracefully

Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com.

2 thoughts on “Vol 154: Oudword met ‘n tikkie grasie”

Leave a Comment

Your email address will not be published.