Onthou julle nog die kinderliedjie, doer uit ons sorgelose kinderdae(of was dit daarna?)
Tjoeke tjoeke paf, tjoeke tjoeke paf paf
Kyk hoe ry ons in die baba trein
Opdraend op, afdraend af
Tjoeke paffe paffe op ‘n stywe draf
Wel dis hoe ek verlede week gevoel het. Tjoeke paffe paffe op ‘n stywe draf, om alle drade bymekaar te hou. Want die ou wekie het ek so vol geprop en ek het geweet as ek balle gaan laat val, gaan daar baie glas splinters oral heen spat. En julle ken ‘n glassplinter, hy het ‘n verdomde gewoonte om mos in ‘n kaalvoet te steek.
Ongelukkig moet ek erken ek was toe nie heeltemal so goed met al die glas balle in die lug hou nie. Ek het ongelukkig party lelik afgeskeep en hulle laat val. Ek beoog om soos die Japanese Kintsugi ~ How the Japanese art of Kintsugi can help you deal with stressful situations ~ daardie balle weer mooi aanmekaar te las. Jammer my man, jy was ongelukkig een van die glas balle wat in die slag gebly het, terwyl ek besig was om perd en werk en ‘n een-en-twintigste joligheid uit te sorteer.
Maar dis nie die enigste les wat ek geleer het nie. Ek het ook weereens besef, ek koester nog maar vele gewoontes, aan eie boesem, wat vir my glad nie van waarde is nie. #selflovefirst
Om stil te bly, is nie altyd die beste antwoord nie
Daar is uit die aard van die saak vele redes hoekom ‘n mens nie jou opinie op almal hoef af te dwing nie. Of dan wat die hart van vol is by die mond te laat oorloop nie.
Maar ek weet nie, my generasie en een daarvoor het so goed geraak daarmee om eerder stil te bly. Dalk waar ons die pot missit, is dat ons nie noodwendig elke liewe opinie en gedagte hoef te deel nie, maar eerder ons harte met mekaar moet deel.
Ek weet dis nie juis die gewilde Calvinistiese opinie nie, maar ek reken ons is goed gedril, om eerder stil te bly as die toorn te ontlok. Wie se donners toorn in elk geval? Deurlopend hou ons, ons eie begeertes en gevoelens onder ‘n kombers toegewikkel, en is ons besig om onsself te distansieer van mense, gebeure en omstandighede. Dissociation and dissociative disorders ~ het gewoonlik te doen met erge trauma, maar ons almal was al in ‘n situasie waar ons eerder sal afskakel, teenwoordig in vlees maar nie gees.
En om nie te sê wat in jou hart en binneste aangaan nie, is ‘n mate van ontkoppel van die wêreld en die mense naaste aan jou. Ek dink soms weet ons net nie hoe om dit wat ons bekommer, of beangs maak voor die voete van die wat moet omgee te gaan neerlê nie. Dalk vrees ons ‘n reaksie, dalk is ons geleer dis beter om alles binne te hou. My grootste uitdaging voel ek, is om Speaking Your Mind Without Being Hurtful . Want ek hou my kaarte so na aan die bors, dat niemand eers weet wat in my hand aangaan nie. Maar in die proses verloor ek myself en verwag ander moet neuse soos spoorsnyer honde hê. En dalk is ek ook heeltemal te veel gepla met ander se gevoelens of reaksie. En dan as hulle eerste tot die podium toetree en hulle eie versugtinge kom uitspoeg, voel ek ingedoen. Maar hoe moes hulle dit ruik? Hoekom voel ek dan ingedoen en geïgnoreer? #selflovefirst
Hier so op my eentjie
Weer terug by daai distansieer van ander. Wat eintlik maar in my geval hand-aan-hand gaan met die woorde binnehou. Ek kan nie enige ernstige trauma kom pleit vir my stilbly nie. Wel dalk op my eie grootgeword, dalk so onafhanklik grootgemaak, dalk geleer dat net ek vir my eie dinge verantwoordelik is of dat as ek op my eie is, kan ek nie seerkry nie. Is ek nie verantwoordelik vir ander se gevoelens nie.
Daar is meer as een voordeel om jouself af te sonder. Don’t Underestimate the Power of Silence , want in hierdie wêreld vol jaag en opinies, kan dit jou op koers hou. Dit gee jou die geleentheid om net weer al die varke op hok te jaag, om energie bymekaar te skraap om die lewe in al sy glorie te beleef.
Ek was mos die laatlam wat ure en dae op my eie op ‘n plaas moes spandeer. Vandaar my ewige vrees vir afgeleë plekke, of afsondering. So al asof ek bang is die verveling gaan my verswelg. Maar elke Yin het mos sy Yan ~ Yin-yang. Want net soos ek daardie alleenheid vermy, so verwelkom ek dit ook. Dit geen my ‘n spasie om asem in te skep. Maar hoe ouer ek raak, hoe minder soek ek ook nou weer daai spasie. Hoe meer soek ek weer geselskap en mense en dinge om te doen.
Maar sê ek dit, doen ek iets daaromtrent? Nee, ek kruip eerder soos ‘n grotbewoner weg, of vind een verskoning op die ander om nie tyd te maak vir vriende wat ek lanklaas gesien het nie. En ek wonder so by myself, wanneer dink ek nou eintlik gaan ek genoeg tyd hê? Wat is nou eintlik belangrik in die lewe? #selflovefirst
Stagnant
Gister het ek ‘n droom van jare-der-jare laat waar word. Ek en my perd het ‘n 40km uithou rit gedoen. Om te sê ek was poep bang, bevrees dat my waagmoed groter as my vermoë was, is lig gestel. Maar ek het ‘n klompie ander waaghalse oorreed om saam met my te gaan. Hierdie is vroue waarmee ek die Drakensberge sou kon oor as ons moet ~ so op ons perde en al.
Die grootmoedigheid, die kameraderie, die hulp en werklike opwinding vir mekaar se drome is aansteeklik. Die omgee kan ek aan niemand beskryf nie. Ons was tot in ons beendere moeg, want nie een van ons is meer kuikens nie. Maar sjoe was dit nou lekker!
Gisteraand, styf soos ‘n snaar en so uitgeput, kon ek weereens beaam: Daar is niks in die lewe wat mens so goed doen soos om jou liggaam te beweeg nie.
Ek is nou maar eenmaal een van daai wat van ‘n uitdaging hou. 3 reasons why you want to keep challenging yourself som my so goed op. ‘n Uitdaging bring vir my ‘n tevredenheid wat alle verstand te bowe gaan. Veral een waar ek my spiere moes inspan. Dit bring natuurlik vir my persoonlike groei ~ gister was so ‘n goeie voorbeeld weereens. Ja ek weet nou, ek hoef nie uithou ritte te vrees nie. Maar belangriker nog, elke keer wat ek voor ‘n uitdaging staan, groot of klein, kan ek myself herinner dat ek verseker die ou probleempie of situasie sal kan hanteer. En gisteraand was die genoegdoening so groot en die rus daarna nog beter.
Ek weet ek klink soos ‘n vas gehaakte plaat. Ek is omring met mense wat nie te gek oor oefening is nie, wat dink ek is effe manies oor oefening. So ek gaan myself probeer inhou, en dalk eerder hierdie stukkie by julle los ~ Mental Health Is…Moving Your Body. Want dit gee ‘n gebalanseerde uitkyk op die saak. Ek het in die verlede ‘n geneigdheid gehad om oor te hel na die verste kant toe. Nou gaan dit bloot vir my om goed te doen wat my laat goed voel.
Maar stilsit gaan jy my nie gesit laat kry nie! #selflovefirst
Jou opinie tel ook
Elke saak het mos twee kante dan nie? Elke mens se opinie of gevoelens tel. Baie maal is die een wat die hardste skree, of sy of haar stem verhef, mos die een wat met die louere wegstap.
Dalk voel ons, ons is te gebroke of te dom of nie goed genoeg ingelig om ook ons opinie te laat geld nie. Ek weet dis dalk so bietjie te akademies of filosofies, maar Spiral of silence wil hê dat mense eerder hulle eie opinie sal wegsteek, as hulle voel dis nie in lyn met die van die meerderheid nie.
Hoeveel keer in my lewe moes ek nie al aanhoor: “Die meeste mense sal xy of z,” nie. En daardie sin word net gebruik, as ek waag om ‘n ander uitgangspunt of benadering te hê. Dit word slegs die wapen om my te isoleer. Om ‘n argument te wen.
Ek voel weer, mens moet omgee wat in jou lewe aangaan. Omgee vir dit wat vir jou belangrik is. En ten minste in die kryt te tree daarvoor! #selflovefirst
Want om na jouself en jou eie belange om te sien is nie selfsugtig nie. En daar is een moerse verskil om mense by te staan wat jou regtig nodig het en aan die anderkant om soos ‘n sweeftuig rond te hang net vir ingeval mense jou dalk, miskien kan nodig hê. Laasgenoemde doen ons gewoonlik om eerder iets vir onsself daaruit te kry, as om die barmhartige Samaritaan te wees. Verder is ons bang as ons standpunt inneem, gaan ons mense wegdryf ~ buite ons grense druk en met die gevolg alleen opeindig. Eerder gewild as alleen! Of erger nog, partykeer meen ons dis selfsugtig om enige iets in ruil te verwag– ons is mos geleer om onbaatsugtig te wees. Glo die goeie ding om te doen. En dan laaste, maar definitief nie die minste nie ~ ons plooi onsself na ander se menings en opinies, omdat ons glo ons is nie waardig genoeg om ook ‘n standpunt te mag hê nie.
Maar weet julle wat…ek reken dis baie meer produktief om wel standpunt in te neem. Al is dit hoe belaglik, hoe emosioneel, hoe eensydig. Want dit skep ‘n eie waarde, ‘n identiteit en is stukke beter vir ons geestelike gesondheid.
So uit daarmee!#selflovefirst
Dus…onthou
Jy verdien om liefgehê te word, vir presies wie of wat jy is. Hoe gebroke ook al. Maar vir ander om jou lief te kan hê, moet jy eers jou eie huiswerk doen.
Jy moet glo…jou woorde, jou begeertes, jou hart dra gewig. Is waardevol genoeg. En wees passievol daaroor.
En rol al daai struikelblokke uit die pad, moet nie vasval in die modder van ander se opinie, of verstrengel raak in die rol los draad van “almal anders sê so” nie.
Of my gunsteling….”ander mense sou hulle ou skoene agterna gooi om dit of dat te ervaar/doen, jy is net ondankbaar.”
Wel ek is nie ander mense nie. En jy ook nie liewe leser.
Speaking Your Mind Without Being Hurtful is net dalkies iets wat ons kan oorweeg!
Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com. Ek wil ook graag jou opinie hoor.