Vol 156:  Lag ‘n slag

Twee feite ~ taamlik voor die hand liggend ~ maar net verlede week steek dit so ‘n liggie by my op.

Feit nommer een ~ die mens lag voor hy kan praat(wel huil ook meestal, maar ons los dit nou eers daar.) Feit twee ~ alle mense op aarde lag(en huil weereens, maar ons los dit ook maar eers daar,) ongeag van kultuur, taal of stand. Selfs Do Animals Laugh? Tickle Experiments Suggest They Do, seker omdat ons naby familie is😄.

Wie kan hierdie spontane gelag weerstaan….doen jouself ‘n guns en maak hierdie greep oop. #laughteristhebestmedicine


Ek het al voorheen geskryf oor hoe ons vrese of die gedagte aan ‘n beloning baie van ons gedrag bepaal. Maar as lag(en dan huil) reeds so vroeg en spontaan in ‘n mens se lewe ‘n opwagting maak, veronderstel dit dat daar ‘n wetenskaplike rede vir lag is. Lag moet tog dan een van ons oorlewings meganismes wees?

Wat sê die geleerdes?

Die ou filosowe ~ Plato on Laughter and Moral Harm ~ was nie so gek oor ‘n gelag nie, hulle het gereken dit maak die mens oppervlakkig. Klink so ‘n bietjie soos die vroeë kerk dae toe daar nie gedans mag geword het nie, want julle weet mos waartoe dans kan lei! 😛

As ek so rondkyk is daar maar heelwat suurpruime wat ook lyk of hulle nog met Plato en die manne ‘n tafel deel. Maar nou moet ek darem ook ruiterlik vandag erken, ek is nie juis  ʼn liefhebber van slapstick humor nie. Daar moet darem ietsie slim agter die opmerkings wees. 

Terug by die sielkundige waarneming. So alhoewel ons ‘n gelag meestal met humor verbind, is daar ook vele ander redes waarom die mens lag. 

Laughter verduidelik dat ons meestal lag om ‘n sosiale konneksie met die groep om ons te vorm. Daar is neurologiese redes vir ons om te lag, aldus die gelag van ‘n klein babatjie. Alles in ‘n poging om met die versorger ‘n band te smee. Want Attachment is een van die belangrikste menslike drange. Om te behoort. 

Maar dan het ons ook al almal daardie verleë laggie gehad. Die een waar ons effen in die verleentheid was en so ‘n oppervlakkige gegiggel losgelaat het. Nie regtig ‘n lag nie, maar eerder een wat die verleentheid so ‘n bietjie moet versteek. 

Die voordele is legio

Natuurlik wil ons almal inpas, ons is mense. Ons is kuddediere en hoort in groepe. Ons is ook bitter naby aan die aap familie, en hulle lag alte lekker. 

As ons ‘n bietjie dieper grawe, Stress management, weet ons ook dat ‘n goeie lag sessie alle sorge kan laat verdwyn. Dis iets wat in ons familie nogal ‘n groot ding is. Ongeag die kakkerige situasie waarin ons ons bevind, daar is altyd ‘n skuins opmerking om die druk so ‘n bietjie te verlig. Om die son weer so ‘n klein bietjie te kan laat skyn. Soms dink mense seker ek neem dinge te ligtelik op – ek het nuus vir julle, ek neem dinge eintlik heeltemal te ernstig op. Maar die humor verskans die stres. 

Die oomblik as jy aan de lag gaan, stroom die suurstof by jou neusgate in. Alle noodsaaklike organe juig, want hulle word vol gepomp. ‘n Skaterlag laat ook jou bloeddruk op gaan en dan weer val ~ wat ‘n wonderlike ontspanne gevoel nalaat. En op die koop toe laat dit sommer jou spiere ook ontspan.

#laughteristhebestmedicine
#laughteristhebestmedicine

Die beter nuus nog, is dat gereelde lag(soos gereelde oefening) oor die langer termyn vir jou tot voordeel kan wees. Want sien, mense wat konstant negatief is, het ‘n chemiese reaksie in hulle liggame wat hulle immuunstelsel aantas. So as jy skeutjies humor kan ingooi elke liewe dag, sal die peste en plae hopelik nie vatplek kry nie. Lag laat glo ook jou liggaam natuurlike pynstillers produseer. #laughteristhebestmedicine

En ai, deesdae is daar so min dinge om oor te lag. Ons hang almal aan ‘n rotswand, met geen harnas en net aan ons vingerpunte voel dit my. Is daar ooit redding?

‘n Nadere kykie

Goed so nou het julle ‘n oorsig, maar soos altyd is daar ‘n paar van hierdie voordele wat my meer interesseer as ander. En dan moet ek grawe. 

Dit is baie duidelik dat humor en dan ook lag wat daaruit voortspruit, ‘n groot rol speel in ons sosialisering. Die mens kan eenvoudig nie oorleef in hierdie wêreld sonder om met ander ‘n band te smee nie ~ The Importance of Connection. Dis hoekom afsondering as een van die grootste martelings tegnieke in die wêreld gebruik word. 

En die oomblik as ‘n mens saam en nie vir iemand anders lag nie, bou jy ‘n brug. En alle aarde in hierdie land van ons het ons nodig om brûe te bou. Ek moet sê dis een van die dinge wat my die trotse maak van hierdie mengelmoes van ‘n nasie van ons. Ons mag verskillende kulture hê, tonne verskillende tale praat, maar ons kan altyd ‘n grappie maak met mekaar. Ek kyk maar by die petrolpomp, in die winkels, by die restaurante, op straat en ook in raadsale…daar is altyd ‘n kwinkslag, altyd ‘n stukkie humor. Gebeur daar iets op die nuus front, wat ons eintlik in ons skoene moet laat sidder…en in ‘n oogwink is daar een of ander grappie uitgedink daaroor. Gesamentlik oorleef ons op lag!

Het julle geweet dat die kanse groter is dat ons in a groep sal lag, aldus a laughing matter. Al ooit gewonder hoekom dit lekkerder en snaakser is om ‘n komedie op TV of in die teater saam met ‘n groep mense te kyk? Want lag is aansteeklik, dis beter in ‘n groep en laat ons behoort. #laughteristhebestmedicine

En hier is nou ‘n baie oulike en interessante ontdekking. Sien ons is mos maar eintlik ape, net meer gevorderde so met die evolusie saam. Dit wil voorkom hoe groter ons groepe geraak het, hoe minder tyd het ons gehad om mekaar fisies te versorg. So om saam te lag, vir mekaar simpel grappies met ons fone aan te stuur, het ons mekaar emosioneel begin versorg. Begin sê ons hoort! Jy is myne en ek sal jou versorg. 

Hierdie feit hieronder het my so ‘n bietjie bekommerd gelaat…

The Health Benefits of Laughter

Al agtergekom hoe ons heeltemal in ‘n spin gaan as iets ons bekommer? Dis asof ons net nie uit die maalkolk van ons eie angstigheid kan kom nie. En die rede meestal hiervoor is natuurlik dat ons breine ons probeer red van ‘n “gewisse” dood. Maar eintlik al wat ons nodig het is ‘n ander perspektief. En lag kan daardie ander perspektief bring, want die oomblik as jy begin lag, kan jy nie meer kwaad wees, of gestres, of enige ander negatiewe emosie ervaar nie. Probeer dit! Dis amper soos om te begin hik, jy kan dit nie stop nie. 

Hoe lag ons meer?

Vorige skywe het gefokus op Self-care. Nou ja, daar is natuurlik ‘n duisend en een maniere om na jouself om te sien. Maar wat ‘n lekker vooruitsig om “lag” deel van jou selfsorg roetines te maak. Dis meestal gratis en verniet, of as jy dan ‘n paar sente moet uithaal, definitief goedkoper as om iets in jou gesig te laat inspuit of op een of ander eksotiese vakansie te gaan. #laughteristhebestmedicine

Wanneer laas het jy…

  • Na ‘n komediant gaan kyk? My gunsteling is natuurlik Marc Lottering . Omdat ek maar ‘n Kaapse meisie is, geniet ek die humor en die kultuur. Ek gee regtig nie om wie jy na gaan kyk nie, maar knyp ‘n geldjie af en gaan woon ‘n konsert by. Jy sal my later bedank!
  • As jy sukkel om te lag, maar van nature effe aan die negatiewe kant is. Begin met ‘n glimlag. Soos hulle sê ~ fake it until you make it! Kort voor lank sal jy weldra iets kry om oor te lag. Oefen daai spiere!
  • Maak dit ‘n gewoonte, vind ‘n vriend met dieselfde humor sin as jy en deel gereeld simpel grappies met mekaar. 
  • Vind ‘n kind, enige kind en vat hulle na ‘n park. Luister na die gelag van kinders…of gaan staan naby ‘n speelgrond gedurende pouse. En maak jou oë toe. Luister na die sorgelose gelag. 
  • As jy vir die duisendste maal iets simpel aanvang, lag vir jouself. Vind die humor in die hele situasie en probeer die ligter kant daarvan sien. As jy eers vir jouself kan lag, sal jy ook minder krities teenoor jouself staan.
  • Nooi vriende oor, of dit nou vir ‘n groot maaltyd of ‘n vinnige koffie is. Probeer om die geskinder te verminder en die humor te vermeerder. Lag sommer oor enige iets wat opkom. 

Maak dit ‘n gewoonte

‘n Ruk terug het ek iets op hierdie blad gepubliseer. Dit het min of meer so gegaan…

#laughteristhebestmedicine

Hoekom wei ons, ons nie toe daaraan om elke liewe dag ‘n lag dag te maak nie. Jy hoef nie uit jou maag te lag of soos ‘n mal mens met ‘n glimlag die hele dag rond te loop nie. Maar glimlag ten minste vir elke Jan Rap en sy maat. 

Maak die deure van jou hart oop, kry nuwe perspektief en pomp jou longe vol suurstof. Lag ‘n slag. #laughteristhebestmedicine

Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com. Ek wil ook graag jou opinie hoor. 

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *