Die vraag van alle tye – die vraag van jou jeug, die vraag van jou middeljare en die vraag van jou goue jaar.
En soos manlief altyd sê…en dan gaan jy dood. Erg morbied, maar tog ook so waar. Ons struikel en worstel gedurig deur met hierdie een groot vraag. Wie is ek nou eintlik? Wat definieer my? #whoamI
Ek ag myself gelukkig dat ek nie alleenlik met my eie “grootword” en “groei” worstel nie, want nie net het ek ‘n uitgebreide familie wat elke spektrum van die mensdom se vreemdgeit en probleme verteenwoordig nie. Maar ook het ek te doen met lekker baie mense, jonk en oud, uit verskillende agtergronde, kulture en opvoedings. En raai wat, ons almal worstel met dieselfde vraag.
Die ding wat my soos ‘n nat snoek deur die gesig geslaan het, is dat die meeste van ons sukkel met die lewe omdat ons of nie weet wie ons regtig is nie. Of ons het nie vrede met al die dele van onsself nie.
So van waar Gahasi?
So, What Factors Really Influence Identity? Aan die eenkant van die muntstuk gaan dit oor hoe ons onsself sien en aan die ander kant hoe ander ons sien. En die meeste van die tyd is daar een moerse groot verskil tussen die twee!
Manlief byvoorbeeld vertel my gereeld hoe goed ek op ‘n juiste oomblik lyk(lyf gewys meen ek.) Juistement op die dae wat ek weer dink ek is nou regtig op my dikste en lyk meer soos ‘n verdwaalde seekoei as ‘n nimf. (Dalk is hy ‘n man wat werk met ‘n plan😝..) Maar ter illustrasie, wys dit jou hoe die twee hemelsbreed van mekaar kan verskil. En slegs as ons soos die nare koningin van Sneeuwitjie die spieël nader, kan dié vir ons die reine waarheid vertel. #whoamI

Nou dat ek al ouer is, meer dinge beleef het en so stadig maar seker begin timmer het aan wie en wat ek is, raak dinge al duideliker. Dis baie duidelik dat ons vir ‘n groot deel van ons lewe nie regtig veel beheer het oor ons eie identiteit nie. Want dit word grootliks gevorm deur ons ouers en samelewing. Ons word groot met sekere waardes en gelowe – en die hartseer ding wat ek om my sien uitspeel, is dat dié van ons wat van vroeg af worstel met ons identiteit en of ons pas, binne ‘n identiteit vasgevang is wat nie stook met ons ware self nie. #whoamI
Daar is ‘n sielkundige denkrigting wat aanvoer dat ons onsself “vind” as ons, ons talente en potensiaal as ‘n individue kan laat pas in die Social Roles wat tot ons beskikking is. Soos akteurs op ‘n verhoog…al is jy net ‘n boom, dis ‘n massa deelname tipe konsert hierdie!

Soos How to Tell the Difference Between Your True Self and Your Everyday Self dit so mooi stel, is jou ware self daardie deel van jou wat jou siel verteenwoordig.
Hoe lyk my ware self?
As ek jou vandag op straat raak geloop en gevra het wie jy is….om my so bietjie van jouself te vertel. Wat sou jou antwoord dan wees? Ek kan met gemak my tande op die spel sit dat jou antwoord jou naam, wat jy met jou tyd aanvang en moontlik waar jy bly sou insluit. Dalk hoeveel kinders jy het en wat jou huwelikstatus is of waar jy vandaan kom.
Stel jou dan voor, ek druk ‘n knoppie om die hele film rol wat jou lewe en identiteit gevorm het, terug te draai. Alles wat tot op dag en datum met jou gebeur het verdwyn soos mis voor die son en ons eindig op met net die klein selletjie wat jy word. Wat gebeur as ons weer die knoppie druk en die spel van die lewe begin. Hoeveel beïnvloed jou gene poel en hoeveel jou omstandighede jou identiteit? Stel jou voor jou lewens bootjie vaar in ‘n ander stroompie af – hoeveel van jou identiteit sal dieselfde bly en hoeveel sal anders wees?
“Unlike a drop of water which loses its identity when it joins the ocean, people do not lose their being in the society in which they live. A person’s life is independent, born not for the development of society alone, but for the development of his self.” — Bhimrao Ramji Ambedkar
As ons met alle mag aan daardie ware, outentieke self kan vashou, hoeveel te meer sal ons nie ons rolle in die lewe kan vervul met gemak nie.
Ek is met ‘n vreeslike sterk identiteit grootgemaak – maar ek is ook ‘n groot verlengstuk van my Ma. Of dit die feit was dat ek ‘n laatlam was, of dat ek vroeg koshuis toe gestuur was of dat my ma ons ongelooflik onafhanklik grootgemaak het, weet ek nie. Maar van kindsbeen af het ek hierdie rebelsheid op my gehad. Ek was altyd besig om dinge te bevraagteken. My tienerjare en vroeë volwasse jare was eintlik effe hel. Want ek het hierdie balans probeer handhaaf tussen wat die samelewing waarin ek was verwag het, die rolle wat daar gespeel is…waarby ek graag wou inpas. Maar dan het ek hierdie dringende gevoel binne my gehad dat ek nie pas nie. Dat ek op die verkeerde plek geplaas is, dat ek net moes UIT! #whoamI
Nou besef ek, die oorlog wat binne my gewoed het was die ware self wat besig was om te baklei met daardie ego…die een wat wou inpas, maar by wie se rolle ek nie so lekker gepas het nie.
‘n Nadere kykie
Daar was ‘n Duits-Amerikaanse sielkundige, ene Biography of Erik Erikson (1902-1994) wat ‘n hele teorie ontwikkel het rondom die ontwikkeling van ‘n persoon se identiteit. Daar is ‘n hele 8 fases en jy is meer as welkom om ‘n studie daarvan te gaan maak.
Maar die ding wat my die meeste fassineer het, is die feit dat hy geglo het die mens ‘n konflik beleef in elke liewe fase van ontwikkeling. En dis daardie konflik wat ‘n draaipunt in ons identiteit ontwikkeling meebring. M.a.w, dis die oomblik wat ons insig ontwikkel en daarop kan bou – verandering kan aanbring en ‘n gelukkiger lewe kan lei. Of dis ook ‘n oomblik waarin ons die pot heeltemal kan missit en die geleentheid vir groei verloor.
Self gesentreerd soos die mens maar is, gaan bekyk ek toe net die fase wat op my lewe van toepassing is van naderby:
Glo is ek en manlief in die middel van ons volwasse fase – dis nou die ouderdomsgroep van 41 – 65 jaar oud. Die konflik in hierdie fase lê tussen stagnasie en ‘n drang om die volgende generasie op hulle voete te kry.
Die dinge wat belangrik in hierdie fase van ‘n mense se lewe is, en wat so te sê bydra tot jou identiteit is om kinders te hê, hulle groot te maak en te sien hoe hulle in suksesvolle, gelukkige volwassenes ontluik. Dis om ook ‘n band met jou lewensmaat te smee. Om ‘n sukses van jou gekose rol in die ekonomie te maak.
Kom aftrede jou in die gesig staar is daar natuurlik groot vrae wat gevra raak oor ‘n mens se identiteit. As die kinders die nes verlaat of nou nie heeltemal uitdraai soos jy gehoop en voor gewerk het nie, is daardie sin van prestasie ook pad af. Of as ‘n paartjie met ‘n verskillende identiteit van verhoudings en rolle daarbinne grootgemaak is, kan dit ook daardie sin van samehorigheid ‘n lelike knou gee. En dan is die vraag #whoamI weer op jou lippe.
‘n Krisis op hande
Ek sê altyd, skud net die lewens bootjie goed, rol ‘n groot verandering in die pad en ‘n mens se ware identiteit word tot die uiterste getoets. En dis dan wanneer ‘n mens What Is an Identity Crisis beleef.
Dink maar aan daardie nuwe verhouding wat ‘n mens aanknoop. Die eerste paar weke is dit maanskyn en rose, elkeen sit sy beste voetjie voor en daar word nie voor mekaar winde van enige aarde gelos nie. Paar jaar in en dis ‘n hele ander storie.
Die goeie ou egskeiding of dan ‘n verhouding wat op die rotse loop. Ewe skielik is jy nie meer ‘n mevrou nie. Genade ek het nooit gedink daai kleine titel se afstaan sal ‘n mens so slaan nie. Ewe skielik is jy alleen, behoort jy nie meer nie. In daardie een titel is vasgevang ‘n aanname van ‘n veilige toekoms, ‘n gelukkige gesin, ‘n goed-genoeg-wees-om-man-te-vang. Belaglik maar tog, dis wat die rol in die samelewing beteken.
Die geboorte van ‘n kind. Kyk as hulle sê die lewe gaan nooit weer dieselfde wees nie, dan lieg daai hulle soos in GLAD NIE. Ewe skielik gaan ‘n mens van ‘n jong, vrye wese met tyd vir jouself en die anderhelfte na ‘n kluisenaar en koei. Niks wat ‘n mens se identiteit so kan gooi nie.
Die dood. Of dit van ‘n ouer, ‘n maat, ‘n kind is. Dit verander jou onherroeplik.
Om te verhuis, ‘n nuwe wêreld te begin verken. Weer jou eiesoortigheid in ‘n nuwe sosiale omgewing, met ander rol beskrywings te gaan inpas.
Of om af te tree. Dit groot wat nou? Waarmee om ‘n dag te vul.
So, wie is ek?
Laat ek maar net sê, ek dink ek is “in aanbou.” Nes ek dink ek het ‘n houvas op sekere dinge, word ek so effe gekonfronteer met ‘n nuwe perspektief. #whoamI

Dalk het jy, liewe leser al ‘n beter begrip. Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com.