Net in die vorige skrywe het ek gepraat oor ons eiesoortige siening van onsself. Die identiteit wat ons vir onsself skep.
Wel, wel, wel…daardie identiteit en hoe ons lewens uitspeel het natuurlik ook ‘n groot deel te doen met ons ingesteldheid teenoor die lewe. #mindsetiseverything
Volgens Carol Dweck – navorser en sielkundige met ‘n graad van Stanford..speel hierdie einste ingesteldheid, ‘n deurslaggewende rol in die suksesse en mislukkings van ons lewens.
Jou ingesteldheid is dus ‘n hele bondel oortuigings wat jy ronddra om sin uit die lewe en vir jouself te maak. Dit het in ‘n invloed op wat jy dink, hoe jy voel en optree in enige gegewe oomblik en omstandigheid.
Dalk is dit so eenvoudig as 👇🏼. #mindsetiseverything

Effe meer ingewikkeld
Maklik gesê ja, maar nie so maklik gedoen nie! Soos in die vorige skrywe uitgelig, Wie is ek is ‘n groot deel van ons identiteit en ingesteldheid jeens dinge al in moederskoot geweef. En lê ouers, skool en die samelewing waarin ons, ons bevind dit vir ons vas. Ingemessel. En om ons dan daar uit te wikkel, is nogal ‘n petalje op sy beste.
Maar ‘n mens se Mindset kan verseker verander. Ek kyk gereeld rond, en natuurlik in die spieël en besef hoe ons as ouers se ingesteldheid en dit wat ons doen en nie net predik nie, ‘n massiewe impak het op hoe ons kinders weer in ruil die lewe aanpak. In sommige gevalle het ons oor optimisme(wat soms ‘n lelike baadjie van selfkritiek om hulle help vou) die teenoorgestelde uitwerking. Want as iemand anders al die dinkwerk, die probleem oplossing, die stoor werk doen…mag mens dalk met ‘n kind opeindig wat nie in hom of haarself glo nie. Wat nie dink dis moontlik om op eie houtjie daar te kom nie. Ander is weer soos sponse, suig dit op en tree net so op. Daar is ook diegene vir wie die wêreld meestal in ‘n digte mis omvou is, wat net eenvoudig in die misbank van mismoedigheid vasval en nie daar kan uit nie.
So, dus….hoe verander ‘n mens hierdie ingesteldheid van jou jeens die lewe. Hoe op aarde beproef mens als en behou slegs die goeie? En waarom tog, is die lewe dan nie al klaar moeilik genoeg nie? Waarom tog nog harde werk moet insit – veral as mens glo wat jy ook al glo en hoe jy optree beskerm jou brose gemoed en status in hierdie wêreld.
Ek sal jou sê hoekom, want tensy jy ‘n renoster is met ‘n vel dikker as die bo-laag van die aardkors of een of ander heilige, is daar tog goed in jou lewe wat krap. En boonop is ons almal ewe groot op die jaag na geluk en sukses en voldoening. #mindsetiseverything
En wie wil nie ‘n ligter, beter, meer suksesvolle lewe hê nie? Ek het bietjie gaan sit en dink, nagevors en natuurlik is daar die beste verkoper…. 7 Habits of Highly Effective People [Summary & Takeaways]. (Kyk hoe gaaf was ek, sommer ‘n opsomming indien jy nog nooit die boek gelees het nie)
Hier volg my lys…daar is tien
So hou vas!
Weet nie van julle nie, maar male sonder tal praat ek met iemand of ervaar dit self. Voel of mens begin vashaak, of jy net soos ‘n rot al in die rondte hol op die wieletjie van die lewe. Jy staan op, jy oefen, jy probeer jou gat af om gesond te lewe, jy probeer alle toue met verhoudings bymekaar hou, jy droom van daardie studies wat jy nog wou doen…net om week, na week maar dieselfde sand trappery te doen.
Wel, wel, wel…kom ons wees doodeerlik, as ons die wyser wil aanskuif as ons daardie groot verandering wil sien, het ons dalk ‘n meer holistiese aanslag nodig. Daar is soveel faktore van ons daaglikse lewe wat ons nie beheer oor het nie. Maar daar is ook heelwat wat ons wel beheer oor het. En op een of ander manier maak ons, onsself baie keer wys ons doen ons beste, maar eintlik poer-poer ons net rond. Daar is ‘n skaal, en die ding moet balanseer. Nie soos ek wat van die goed soos oefening op ‘n slag in ekstreem gedoen het nie, net om ‘n ongesonde geëet en gefuif uit te balanseer nie. Of sommige mense is klipharde gat oor hulle leefstyl keuses, skuil agter kantoor ure of ‘n besigheid. Genoeg konteks ….hier gaat ons!
Die ding met ingesteldheid en ‘n beter, meer vervulde lewe is dat daar heelwat beginsels is wat inmekaar vloei. Dis soos ‘n groot rivier met ‘n paar sytakke, elke druppel water tel!

Nommer een: Begin by die begin
Dis nou een van die beginsels van The 7 Habits of Highly Effective People . Hoeveel van ons het nie byvoorbeeld lank gelede ‘n keuse gemaak oor ons beroep, ons huwelikstatus of ons kinders en nou jaag ons dit verbete na nie? Ons werk-en-werk om daardie beroepsleer te klim, ons byt vas en herhaal dieselfde gedragspatrone in ons verhoudings, ons doen-en-doen vir ons kinders of ons breek af sover ons gaan. Maar wanneer staan ons terug vir ‘n oomblik, skep asem en vra onsself af of ons regtig op die pad is waarop ons wil wees. Of hierdie regtig die regte muur is om teen te leun en die leer om te klim?
Dis alles harde werk, jy doen jou uiterste beste, maar jy kom nêrens – of so voel dit i.e.g vir jou.
Al ooit gehoor van die Priority Matrix? Die vraag word gevra – wat is die dringende vs. belangrike dinge wat ons doen. Dringend is goed soos, tel die kinders binne 5 min by die skool op, stuur eposse aan kliënte terwyl jy bestuur🙈, jaag om betyds by ‘n afspraak te wees, koop kos oppad huis toe…daai elke dag se rondjaag.
Natuurlik is hierdie goed dringend, want die kinders kan nie wees gelaat word nie, die koskaste moet vol(want wie anders gaan dit doen??) Die eposse moet gestuur word, anders dink die kliënte dalk hulle is nie belangrik genoeg nie en jy lê leeg. En so raak ons vasgevang in die wip van busyness.
Hoeveel keer in ons daagliks omgang, tree ons terug en vra ons af…wat is belangrik vir my persoonlik, vir my groei?
Wat is regtig my doelwitte, waar wil ek wees in my beroep, hoe moet my verhoudings lewe lyk, hoe pas ek What Is Self-Care and Why Is It So Important for Your Health toe?
Tussen al die dringende goed wat elke dag se ure, minute en sekondes opsuig, is dit moeilik. Want daardie goed moet gedoen word. Maar ai tog, voor ons ons oë uitvee het al ons dringende goed, die belangrike oorskadu. En is ons te vêr heen, te veel tyd gemors om te kan omdraai. Of sal ons sê die omdraai is meer soos ‘n groot skip as ‘n klein ski-boot! Want dis nooit te laat nie!
So vandag, staan terug en vra jouself die groot vraag, en wees bitter baie eerlik met jouself.
Hoe lyk die lewe wat jy vir jouself wil skep? Lyk dit soos dit vanoggend hier uitsien, of wil jy graag die weeg skaal so bietjie in ‘n ander rigting laat kantel? #mindsetiseverything
Kom ons maak dit bietjie meer persoonlik…
My gesondheid is vir my baie belangrik…vir liggaam en siel. Ek weet dat stilsit nie vir my ‘n opsie is – want dan haak die koppie ‘n bietjie uit. Ek raak heel omgekrap as ek nie na my eetgewoontes kyk nie en ek wil graag ‘n lang en gelukkige, gesonde lewe lei. Alhoewel die @wynvlieg en sy trawante vir my ‘n grootse lekkerte kan bied, is my liggaam heeltemal gekant. Dus is dit persoonlik vir my belangrik. Ek prioritiseer dus perdry, gym, die voggies onder beheer hou, 80% van die tyd gesond eet en ek moet bly beweeg! Inlê in ‘n bed of net eet en drink vir dae aan een, werk nie vir my nie. Dit werk nie op die korte duur nie en gaan verseker nie op die lange duur vir my werk nie.
Werk is ook belangrik ja – maar as ek keuse moet maak, dan prioritiseer ek my gesondheid eerste. My verhoudings is vir my belangrik, met my man en kind. Dit beteken ek moet vroeg oggend op om al daai beweeg werk te doen. En dit beteken ook dat die perdry soms tyd van my geliefdes wegvat, maar ek weet dis belangrik dat ek dit doen, anders is ek nie beste weergawe van myself nie. En as ek met die kakste een in ‘n verhouding inkom, dan is ek net mislik en geïrriteerd en dis ‘n resep vir ongeluk.
Word vervolg
Dames en Here, gelukkig vir julle gaan ek nie die hele 10 in een skrywe probeer kafdraf nie. Hierdie is weer ‘n vervolgverhaal. #mindsetiseverything
En die belangrike besluit vir ons almal om nou te neem is om bietjie tyd te spandeer, terug te staan en ‘n mooi prentjie te skilder van hoe ons lewens vorentoe wil lyk. Hoe lyk daai sprokie van jou?

Jy al jou droomlewe uitgepluis? Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com.
Wynvlieg, ek het daai boek van 7 habits of highly effective people laaankal, maar sowaar kan nou nie eens meer iets onthou nou nie.. ek sien baie uit na hierdie 10 te lees en het die eerste een om oor te dink want ek worstel nog elke dag self. Ek het nie die eentonige doodgewone bestaan gekies nie want doodgewoon vir my is presies wat dit sê. Dood. As daar nie magic is nie is dit vaal en nie my gunsteling kleur nie.
Gaan sit en skryf ek wil graag almal lees.
Al is ek nie n erg aktiewe faceboeker nie sal ek uitkyk. Mal oor jou skrywe en oor jou. Doen so voort.
Hallo Hannetjie, altyd so lekker om van lesers te hoor! Ek is ook maar een van daai wat altyd magic soek êrens. Eentonigheid – wat ‘n mooi woord eintlik nè! Lewe sonder ‘n deuntje!