Kyk daar is niks wat my so opgewonde maak as om terugvoering op een van my skrywes te kry nie.
Mens sal sweer dis ‘n liefdesbrief wat die posduif kom aflewer en dat ek nog ‘n bakvissie is. Maar helaas, mens bly maar mens nè! #attitudetakesyouplaces
En so, kry ek toe wraggies ‘n stukkie pos, na my eerste aflewering van Vol 158: Hoe Lyk Jou Houding? En dis verblydend, want hierdie mede pelgrim is sommer oppit. Sy verstaan presies waar hierdie lesse oor ‘n mens se houding oppad heen is.
Sy skryf die volgende….
“Ek het nie die eentonige doodgewone bestaan gekies nie want doodgewoon vir my is presies wat dit sê. Dood. As daar nie magic is nie is dit vaal en nie my gunsteling kleur nie.” #attitudetakesyouplaces
En dis nou net die inleiding wat ek nodig het, om my skryf aan te skryf. Maar soos hulle sê op die kassie: In die vorige episode….. (sien 👆🏼die skakel vir die hele blog – maar vir die wat te lui is om te lees, ‘n opsomming om julle op dieselfde bladsy te kry!)
Ek het so bietjie gekyk hoe ‘n mens se ingesteldheid ‘n hele bondel oortuigings is wat jy saamdra. Bagasie om sin uit die lewe en vir jouself te maak. En hoe daai einste houding ‘n invloed het op alles wat ‘n mens dink, hoe jy voel en optree in enige gegewe oomblik en situasie.
En toe begin die preek🤭😝…die eerste voorstel was dat jy dalk moet gaan besin oor wat werklik belangrik vir jou is. In plaas daarvan om die dringende goed altyd eerste te stel. Ek wonder sommer…enige iemand ‘n oomblik van helderheid of ‘n deurbraak gehad?
So terug by my pos…sy was doodreg. Vir ons om ‘n positiewe houding jeens die lewe te hê, is daar so ‘n paar beginsels wat ons moet nader hark. #attitudetakesyouplaces
Les nommer twee: Moet nooit ophou groei nie
Wees soos Jan en die boontjie rank, bly net groei, op-en-op-en-op. Of soos wyle Bles Bridges so minlik gesing het
Al agtergekom hoe ouer mense word, hoe meer glo ons as ‘n samelewing hulle kan nie regtig meer verander nie? Is dit nie waar hierdie 👇🏼 uitdrukking juis sy oorsprong het nie?
En glo my vry, hoe ouer ‘n mens raak, hoe meer skop daardie lelike “default settings” in. So gemaak en so laat staan!
Maar dit is natuurlik ‘n hele bol stront, want soos Carol Dweck: A Summary of Growth and Fixed Mindsets dit so goed verkondig. Dit is dié gene wat bereid is om vas te byt en nuwe dinge aan te leer, wat in van die donkerste of mees verlate tye in hulle lewens floreer. #attitudetakesyouplaces
Ons word almal groot met die idee dat ons “goed” is in sommige dinge en minder goed of selfs totaal en al kakkerig in ander. So byvoorbeeld het ek altyd geglo ek is nie ‘n atleet nie. Want sien “atleet” op skool het mos bedoel jy moet soos ‘n springhaas hol, of moet kan swem soos ‘n seekoei of die eerste span haal. Slegs dan was jy ‘n atleet. Maar laat ek maar vir julle ‘n ding of twee vertel…al daai sogenaamde atlete van hoërskool is nou bank sitters. (Darem nou nie almal nie, maar daar is ‘n lelike tendens!) Eers diep in my 30’s het ek agtergekom ek kan tog hardloop, al is dit soos ‘n skilpad, maar skillie wen vir haas. Dit het oefening en deursettingsvermoë gevat ja, maar dit het gewerk.
Wanneer laas het jy ‘n splinternuwe vaardigheid aangeleer? Die boek Beginners: The Joy and Transformative Power of Lifelong Learning praat van “grootmense beginner.” Dink bietjie terug, toe jou kinders nog jonk was, of dalk is hulle nogsteeds. Ons ry hulle rond, elke kwartaal word daar iets nuuts probeer. Ons stel hulle aan soveel moontlik goed bloot – dat hulle kan groei, dalk ‘n verskuilde talent kan ontwikkel. Ons spandeer derduisende rande en ure van ons tyd langs ‘n veld, in ‘n gemeenskap saal…op die kantlyn of teen ‘n muur…selfoon in die hand. Want om “te leer” hoort by kinders, jong mense. Nie ons oueres van dae nie.
Julle weet reeds waarheen hierdie les oppad is nè? 😝 Daar is soveel The mind-body benefits of learning a new skill. Ek self het al geleer dat om ‘n nuwe vaardigheid aan te leer, gee mens weer motivering om die doodgewone aan te pak. Dit verlos ons van die doodloopstraat van ‘n lewe vol roetine en dringende goed om te doen. Dis uitstekend om die brein wakker en helder te hou. Dit laat jou weer soos ‘n tiener voel. #attitudetakesyouplaces
Watter nuwe vaardigheid het jy onlangs aangeleer? Wat is volgende op jou lys?
Les nommer drie: Fokus op dit wat Jy Kan Beheer
Wat ‘n lekker een vir dies van ons wat hou van ‘n stukkie beheer! Kyk genoeg van ons vrouens(veral) hou daarvan om die hele huishouding te beheer, die kinders se skedules uit ons koppe te ken, soos ‘n wafferse dieetkundige die hele spulletjie se nuutste dieet geite en giere te bevredig in ‘n kosblik of aan tafel.
Maar o wee, dan gebeur daar natuurlik gereeld dinge wat buite ons beheer is. Ongeag ons goeie intensies, ons goeie beplanning en ons goeie hart. Ek erken sommer ruiterlik dat ek van my dinge georden hou. Word einste laas naweek beskuldig dat ek niks spontaan doen nie. En wragtag die beskuldiging is reg!! Ek kan nie voorgee ek is spontaan nie. Nee, want dit sal beteken dat ek so bietjie moet laat gaan. En ek hou van my dinge NET Só.
Maar is dit nie juis die ding nie? Daar is soveel dinge in die wêreld wat ons nie kan beheer nie. Ons kan nie beheer hoe die weer dit gedra nie, ons kan nie siekte voorkom nie, ons kan nie slegte verkeer altyd voorspel of mis nie. Ons kan ons gatte afwerk, ons afsloof vir ‘n werk ~ maar as daar afgelê moet word, moet daar afgelê word. En is die petrolprys nie ‘n wonderlike ding om jou te leer dinge is buite jou beheer nie, maar ry wil ons ry!
Wat ons wel kan beheer, is die hoeveelheid moeite wat ons insit en hoe ons reageer teenoor ons medemens. Kyk so bietjie rond in Suid-Afrika. Ons nuus en die politiek waarmee ons op ‘n daaglikse basis gekonfronteer word is grootliks iets wat ons nie kan beheer nie. Ja, natuurlik kan ons stem en ons steun voeg by diegene wat ons dink werklik ‘n verskil kan maak. Maar die meeste van die tyd het die nuus klaar gebeur, was politiek nog altyd vuil. So ons kan kies, hierdie nuus en die gemors wat op vele vlakke aangevang word ~ deur mense wat veronderstel is om die publiek se belange op die hart te dra. Ons kan ons dit aantrek, ons kan nog meer negatief word, dit kan ons so ontstel dat ons dit op die arme sot by die verkeerslig of die ou omie agter die stuur uithaal. #attitudetakesyouplaces
En as jy regtig sukkel om die buite wêreld altyd deur ‘n rooskleurige bril te betrag. Of as jou wêreld meer soos ‘n slagveld as ‘n veld vol lente blomme lyk, onthou daar is ‘n paar ander goed wat jy wel in die oomblik kan beheer. Die skrywer gee ‘n paar handige wenke ~ This Is Mine: The Only 7 Things You Can Control in Life.
Goed wat mens in enige situasie kan toepas – of soos Nataniel sê, as die lewe effe deurmekaar raak, moet mens net êrens gaan lê en weer rustig raak!
Tot ‘n volgende keer
Hier is ‘n staaltjie uit my eie boek. Vandag moes ons die perde êrens heen karwei. Ek agter die stuur, met die boks agter my. Ek is amper 50 en hierdie is ‘n nuutjie vir my. Gisternag lê en beplan ek al die roete deur die dorp. Maar toe dink ek so hier by myself…dis alles deel van ‘n nuwe vaardigheid aanleer. Net omdat jy al aan die ouer kant is, hoef jy mos nie vir jou soos een te gedra nie.
Wat hierdie perde ding my geleer het, help vorm het oor die afgelope jaar is, Why Showing Vulnerability Actually Proves Your Strength. Skielik was ek permanent in ‘n kwesbare situasie. En dit het my sterker gemaak as vele ander dinge in die lewe. En tot vandag met hierdie boks en om die ding gedraai te kry, terwyl jy agteruitry, sit nie sommer in my broek nie. Maar dis alles deel van probeer, iets nuuts aanleer en sodoende my lewe te verbreed.
Daar is baie goed in my lewe waaroor ek beheer het. Ek het beheer oor hoe ek na my liggaam en siel omsien. Ek het beheer oor spontaniteit en of ek soms die tou so bietjie sal los.
Want ‘n mens is nooit te oud om te leer nie! En soos die leser tereg gesê het ~ die lewe is betowerend. Dis veronderstel om te wees! Laat ons dit met beide hande aangryp, die magic gaan soek! #attitudetakesyouplaces
Enige iets nuuts aangeleer of beplan jy iets? Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com.
Ek dink dit is n lekker challenge vir ons almal…ipv wegskram van die dinge wat ons uit ons Comfort zone druk…probeer n slag iets nuuts…ek kan kook maar vertel myself ek kan nie bak🤦♀️kan dalk bak maar nie versier🤦♀️ dalk kan ek maar bak en iemand anders kan mooi versier?🤣🤣
Aitsa, wel ek val dan die naweek in, of sommer môre vir iets gebak! Ek doen goed met flourless chocolate koek – geen versiering nodig nie😝
Nou daar het ek dit nou.
Ek het myself wysgemaak dat ek nie meer lus is om nuwe vaardighede aan te leer nie, want ek is in my “happy place” en heel tevrede met my (valerige) roetine soos dit tans daar uitsien. Wat is die punt om op amper 52 nuwe vaardighede te wil aanleer?
Ek het hopelik nog ‘n hele klompie jare van die lewe oor en as ek en manlief wil aftree binne so 4 jaar, soos ons beplan, kan ons mos nie iewers gaan lê dat die lewe verbygaan nie. Hier inspireer jy my nou om te gaan soek na nuwe dinge wat ons kan aanpak, veral as ons so baie tyd op hande gaan hê.
Kyk daai naderende niksdoen, wat vir my ook voorlê is effe vreesaanjaend om die minste te sê. Nee kom nou suster, dink iets uit en laat my weet hoe daai drome van jou nou daarna uitsien. Ek wag met groot opwinding!