Nou begin dinge spoed optel ~ wil my voorkom of hierdie huidige aflewering van ingesteldheid oor die lewe ‘n aar raak geboor het by vele.
Dalk is ons moeg vir ons houdings wat so stink, of dalk soek ons almal net ‘n bietjie hoop, vernuwing. Of dalk is dit die naderende lente en somer wat ons laat hunker na groei en vernuwing. #ifyoucandreamit
Hoe dit ook al sy…vir die wat gelees het tot dusver, knap gedaan, julle vorder mooi. Vir die wat vandag eers op die wyshede afkom ~ ons het al twee vorige aflewerings gehad. En die storie pas so bietjie soos ‘n legkaart in mekaar. Die eerste aflewering Vol 158: Hoe Lyk Jou Houding het gekyk na ‘n mens se ingesteldheid en al die oortuigings wat jy saamdra. En hoe daai einste houding ‘n invloed het op alles wat ‘n mens dink, hoe jy voel en optree in enige gegewe oomblik en situasie. Die versoek was om te besin oor die lewe en wat jy werklik daaruit wil hê. En hoe belangrike sake meer belangrik vir jou welstand is as dringende sake.
Die daaropvolgende aflewering, Vol 159: Waarheen Is Jy En Jou Houding Oppad het vermaan dat ons nooit te oud is om nuwe dinge aan te leer nie. En hoe dit weer ekstra fut in ons lewens kan blaas. Ag en dat ons tog moet laat gaan dit wat ons nie kan beheer nie, maar ook moet besef wat wil binne ons beheer is, is die hoeveelheid moeite wat ons insit en hoe ons reageer teenoor ons medemens.
So, weer boekevat tyd ~ het jy al begin droom van nuwe dinge om aan te pak. Iets nuuts om te leer. (Ek sê maar net, vir daai vriendin wat my laat weet het sy gaan nou in ‘n bakster ontpop, ek is oppad vir ‘n stukkie gebak😜)
Nou vir nog ‘n tweetjies, dames en here. Hier gaat ons! Laat ons houding kry!
Les nommer vier: Byt vas
Ek lees nou die dag hierdie mooie stukkie: “The idea behind grit is passion and perseverance over a long period of time.” (Kan nie onthou waar nie!!)
Maar eers moet mens ‘n droom hê. Ek vind dat te veel van ons ophou droom het. Ons drome is begrawe tussen die rommel van al die dringende goed wat tog gedoen moet word. Ons het dalk te oud geword, te afgestomp, terneergedruk en sommer net eenvoudig vaal en eentonig. Drome is vir jong mense, of so glo ons. Drome is nie vir mense met ‘n salaris en rekeninge en siek kinders of eggenotes nie.
Ek wil myself, soos hierdie skrywer afvra, why have people stopped dreaming? Hy is natuurlik reg as hy sê, ons verloor hierdie idee van lugkastele bou en in ‘n beter toekoms glo, omdat ons doodeenvoudig ophou glo in onsself. Die vrees vir die onbekende raak groter as die vrees vir die saai, eentonigheid waarmee ons tog te gelukkig is. Naweek, na naweek gaan verby, sonder dat ons regtig iets nuuts aanpak. Dit bly dieselfde roetine. Ons vergeet om drome en doelwitte te stel vir jare van nou, wat nog te sê van ‘n maand van nou.
So hoe keer mens dit om? Kry verdomp iets om oor te droom. En hierdie is ‘n handige wenk…lees weer les nommer twee. Begin met iets nuuts, leer ‘n nuwe vaardigheid aan. Want as jy dit kan droom, kan dit mos waar word. Wel dis wat Walt Disney geglo het en kyk waar het hy op geëindig.

Maar soos ek altyd vir my kind sê, dis wonderlik om ‘n droom te hê. Selfs maklik, maar om daardie droom ‘n werklikheid te maak, lê die wagwoord in die “werk” gedeelte. Die pad na die einde van die reënboog kan ek jou waarborg gaan besaai wees met duwweltjies en aardige opdraandes.
En dis nou net daar waar mens die kaf van die koring kan skei. Dis daar waar die groot magie lê. Want hoe het Gary Player nou weer gesê…

Ai, dis vir my so betreurenswaardig om dop te hou hoeveel mense net eenvoudig nie die deursettingsvermoë het om enige kleine struikelblok te oorkom nie. Ek wonder of mense besef dat as jy met die wandelpaadjie teen ‘n berg uitstap, gaan jy net mooi geen nuwe vaardighede aanleer nie. Maar gaan klim daardie steil rotswande uit, ja jy mag jouself dalk morsdood val, maar as jy dit tot bo maak, het jy ‘n hele nuwe uitkyk op die lewe en ook ‘n vrag nuwe goed bygeleer.
Die lewe is ook so, daar moet ‘n droom wees, maar mens moet weet dat jy die kronkelpaaie, die opdraandes en ook die gly en val nodig het om werklik die droom waar te maak. Of sal ons sê die moeite werd te maak. Want die oorwinning smaak slegs soet, as jy weet hoe bitter proe.
As jy dalk nie weet hoe om jou deursettingsvermoë spiere te oefen nie, sal ene Patrik jou dalk op die regte spoor kan kry. This is How to Grow Your Grit: 5 Secrets From Research verduidelik…
- Vind ‘n droom waarin jy belangstel. Dit help nie jy droom van ‘n lewe as ‘n branderplankryer, maar jy is nie so gek oor water nie.
- Terug by my les, oefen…oefen…oefen..
- As jy tot hoër hoogtes wil gaan, vind iets om oor te droom, wat nie net jou lewe nie, maar ook die van ander gaan verbeter.
- Glo, hoop en vertrou in jouself. Dis nie ‘n halfhartige storie die nie. Deursettingsvermoë verg ook ‘n blindelings geloof in jouself.
- Vind die regte vriendekring. Mense met dryf, vasbyt en wat vorentoe beweeg. Dit help nie jy moet heeldag uithang met lamsakke nie.
En daag net op. Daag op vir jouself, vir die lewe, vir uitdagings. Vir die goeie tye, die slegte tye, die podium posisie, maar ook die laaste kom. Alles deel van hierdie wonderlike pelgrimstog. . #ifyoucandreamit
Les nommer vyf: Daag met mening op
Dis darem seker ook nou nie meer nuwe nuus dat ons in ‘n era lewe waar ons aandag meer as verdeeld is nie.
Terug weer by een van die mense wat my die meeste inspireer. Mark Manson het iets hieroor te sê in sy blog, In the Future, Our Attention Will Be Sold . Dis pittig en dis so heeltemal waar. Ons word daagliks gemors by die hope deur sosiale media gevoer. Ons is permanent gefokus op een of ander skerm. Nou meer as ooit, reken ek moet ons ag slaan op die ou gesegde: Versigtig waarvoor jy jou ore uitleen!
Want is dit nie maar waar, dat dit waarop ons ons aandag fokus, vir ons belangrik raak nie? Moet ons nie net meer bewus raak van dit wat ons aandag opvreet nie. Meer skaars met ons tyd en nie so vrywillig slawe van ons gewoontes raak nie?
Kyk ek kan ‘n hele jaar besig bly met gewoontes en hoe ons as mense soveel dinge net doen, sonder om dit te bevraagteken, waardeer of aandag daaraan te skenk nie. Outomaties, sonder om enigsins in die oomblik te leef. Of net nuuskierig te wees oor die hoekoms en waaroms rondom ons gedrag nie. Changing Habits verduidelik dit as volg…
“According to experts with Psychology Today, habits form when new behaviors become automatic and are enacted with minimum conscious awareness.”
En hier is die geheim, sodra ‘n mens doelbewus iets aanpak, ‘n voorneme het en nuuskierig raak, dan is die lewe nie net een groot geoutomatiseerde masjien nie. The benefits of being curious verduidelik dit uitstekend…
I believe that curiosity is the vehicle used by the open minded. It takes them to different places, allowing them to explore and discover different possibilities.
Wie wil nie so ‘n lewe lei nie? Wie wil nie na nuwe plekke weggevoer raak, nuwe, opwindende dinge beleef en geleenthede by die dosyne aangebied word nie. . #ifyoucandreamit
Ek voel skoon opgewonde! Bring it on!
En nou laat ons dit eers daar
Halfpad daar! Vandag voel ek sommer heel op ‘n ander stasie – heel begeesterd. Daar is hoop in hierdie lewe, daar is vooruitsigte.
Ek gaan nou my drome neerpen! (Vir die soveelste keer🙈🤪) #ifyoucandreamit

Trek weg mense, laat hoor van julle. Wat is jy bereid om voor op te daag? Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com. #ifyoucandreamit
Dit val alles in lyn wat ñ goeie sielkundige jou sal vertel. Baie goed beskryf. Dankie.
Ah dankie Johan! In-die-kas een😃.