Die afgelope week lees ek ‘n inskrywing op ‘n ander Facebook blad. Dis ‘n inskrywing wat spreek van ‘n desperate vrees.
En die vrees? Hierdie is ‘n vrou wat op die drumpel van haar 50ste verjaarsdag staan. Sy gee ‘n opsomming van haar lewe en so ver ek verstaan, was die lewe wat sy tot op hede geleef het, taamlik gebeurtenisvol. Daar was verseker woeste trôe en paar hoogtes(aangehelp party deur middele wat liefs nie geneem moet word nie.) Maar daar was ook vele triomfe. Nou staan sy hier op ‘n drumpel wat iets anders aankondig. Eensklaps moes sy Confronting Personal Mortality.
Die mens vrees die dood. Die Perspectives on the Fears of Death & Dying, want ons vrees die onbekende, ons vrees dat daar pyn betrokke gaan wees en ek dink tog ook diep hier binne, vrees ons dat ons nie al ons drome gaan bewaarheid nie. Ek dink altyd aan die fliek, As Good As It Gets ~ die karakter vertolk deur Jack Nicholson, vertoef in die wagkamer van ‘n sielkundige saam met ander pasiënte. Duidelik almal daar omdat hulle êrens ‘n donker wolk probeer ontsnap. Die karakter kyk so na almal van hulle en vra: “What if this is as good as it gets?”
Skytbang vir gogga, want gogga maak vir baba bang
Laat ons maar sê die genre van Netflix waarmee ek my meestal vermaak, as daar geen kind of kraai tuis is nie, sal nou nie juis die Oscars of Emmy ’s inryg nie. Vir spookasem en seker nog die romantikus, ewige dromer hier binne my, kyk ek dan die soort liefdesverhaal wat ‘n Hallmark kaartjie sou haal. Ek besef elke keer wat ek dit kyk, dis die tipe liefdesverhaal wat ons almal na gesmag het op ‘n stadium. Wat ons glo net vir die jeug beskore is. En meestal is ons eintlik al so skepties en weet ons daar is meer sakke sout as romanties etes wat saam genuttig word. En daardie blote besef, dat daardie deel van ‘n mens se lewe ~ die verlief weer raak, heel moontlik(as mens gelukkig is om lank en gelukkig nog saam met jou maat te wees,) vir ewig en altyd verby is.
Ek kom ook die afgelope tyd agter, mans bo so 55 is geweldig gefrustreerd. Dis asof daar so ‘n woede borrel onder die oppervlak. Dis die regering wat nie hulle werk doen nie, dis die bure se hond wat permanent blaf, dis die mense wat vertraag ry, dis die stoof wat nie reg skoongemaak word nie. Alles irriteer hulle. Natuurlik het hulle nog nooit PMS beleef nie, want vir die van ons wat dit al beleef het ~ dis daai gevoel wat ek toe bespeur. Ek lees die raak…The reasons behind Grumpy Old Man syndrome.
Dit blyk ons almal sukkel na ‘n sekere ouderdom om hierdie “nuwe fase” van ons lewens in te gaan. Of jy nou man of vrou is, ons is almal heeltemal platgeslaan, bevrees en voel om die naaste ding te skop.
Want ons is besig om ons jeug te verloor. En boonop loop die uurglas leeg. #whatifthisisasgoodasitgets
Die paradoks van die lewe
Al wat ons nou almal weet is dat ons moet voluit leef. Dat ons moet sekermaak ons die meeste uit hierdie lewe kry, terwyl ons nog kan beweeg. Die lewe bied ons dus twee tipes geleenthede ~ daar is dié tipe ervarings wat waarskynlik net so eenkeer in ‘n leeftyd verbykom. Daardie goed wat ons tipies op ons “bucket list” (What is a Bucket List) sit. Soos reis na ver af plekke, of om ‘n bekende persoon te ontmoet, of dalk daardie top posisie by die werk te kry. Met ander woorde, daardie goed wat net eenmaal in ‘n leeftyd hulle opwagting maak.

Dan, aan die anderkant, is daar die alledaagse ervarings. Daardie dinge wat elke dag net gebeur. Soos wakker word, jou tande borsel, werk toe ry, TV kyk in die aand, kosmaak, eet. Ons noem dit soms roetine.
Die aantreklikheid van die “eenmaal-in-‘n-leeftyd” geleenthede is natuurlik, dat hulle inherent so skaars soos hoendertande is. En ons weet hoe die mens graag daardie dinge wat hulle nie kan kry nie, wil hê! Why Do We Want What We Can’t Have? (According to 9 Experts) is die vraag? Ek reken hierdie tipe geleenthede is so aanloklik, want dis raar. En die mens is bitter bang om uit te mis. Bang daar is nie genoeg vir almal nie. Want ons het ‘n geneigdheid om die dinge wat skaars is, as meer waardevol te ag.
Ek vermoed, hier in ons “ouer dae” begin ons al meer waarde heg aan hierdie “eenmaal-in-‘n-leeftyd” ervaringe. Of altans ons reken ons moet. Ons glo dat ons die lewe nou moet lei, nes ons hom wil lei. En oral om ons word ons aangemoedig om net dit te doen.
Maar ek is bevrees, as ons die hele tyd net hierdie tipe ervarings gaan jaag soos ‘n hond ‘n kar. En dit boonop waardevol ag, mag ons dalk lewens lei wat ‘n wye spektrum dek, maar wat diepe kort.
Die vraag is #whatifthisisasgoodasitgets
Want as ‘n mens dag in en dag uit, hierdie “eenmaal-in-‘n-leeftyd” ervarings jaag, dit heeltyd op die brein het en as die alfa en omega van ‘n goeie lewe sien, begin die alledaagse doelloos word.
En ek reken maar ook net, dat te veel van ‘n goeie ding, is mos glad nie goed nie?
Dis geen wonder dat stories soos, Elvis Presley dies gebeur het nie. Daardie tipe lewe van hoogtepunte en die ewige roem jaag, eindig so baie maal tragies op.
So wat maak dit saak?
Kom ons wees nou maar eerlik, ons almal word in die wip gevang. Veral as ons so effe aan die ouer kant raak. Op sosiale media(en al is ons net op Facebook) sien ons net hoe al die ander afgetredenes alte lekker rondrits. Dit terwyl jy dalk elke sent moet omdraai en wonder of dit nou is hoe jy die laaste jare van jou lewe moet lei. #whatifthisisasgoodasitgets
Maar sien, die ding is mos dat niemand hulle vuil wasgoed of geswelde enkels of die kakkerige akkommodasie op sosiale media uitsaai nie. Nee, daardie platforms word net vir die “eenmaal-in-‘n-leeftyd” oomblikke gelos. Dus word die illusie so maklik geskep dat almal anders hierdie goue jare ten volle geniet. Met geen bekommernis in sig nie. Ek het al verskeie kere gehoor…”ander mense doen sulke lekker goed, hoekom nie ons nie?”
Ek dink dis ook maar wat met die meeste beroepsmense gebeur. Hier net voor aftrede, het menige die leer geklim. Daar is wonderlike etes, besigheid besoeke, hotelverblyf…die een wonderlike buitengewone geleentheid op ‘n ander. Later is dit so opgestapel, dat dit deel van die lewe word. Dan eensklaps is dit weg. Poef…alles net weg. En nou is die alledaagse sielsdodend. Ons voel vasgevang en wil hol vir die berge. #whatifthisisasgoodasitgets
Sien die paradoks is dit, as daar te veel sulke oomblik in jou lewe is, raak dit later die norm. Dit raak ook maar doodgewoon en soos ‘n verslaafde bly mens soek na nog en nog.
Hoe pas ons dan aan?
Die realiteit is dat ouderdom nie vir sissies is nie. Die geld moet mooi opgepas word, die pille rekening is deur die dak, die liggaam is nie meer wat dit was nie. Jy lus ‘n middagslapie…die gees is super gewillig, maar die vlees nie meer nie.
Partymaal dink ek terug aan my ouers en hulle lewe. Hulle leefstyl en hoekom hulle so dolgelukkig was. Dit raak al duideliker, dat hulle geheim ’n eenvoudige leefstyl was. Hulle eie weergawe van ‘n eenvoudige lewe natuurlik ~ dis nie ‘n ding wat een mens vir ‘n ander kan voorskryf nie. #whatifthisisasgoodasitgets

Ek soek toe rond, en kry die siening ~ SIMPLE LIVING: HOW TO BEGIN + WHAT TO EXPECT
Is dit nie waar die geheim lê nie? Dat ‘n mens jou lewe so ‘n bietjie van die oordadigheid moet stroop nie? Dat ‘n mens nie hierdie gejaag na die uitsonderlike hoef te hê nie. Maar bloot die noodsaaklike moet behou. Nou vir my is noodsaaklik definitief ‘n warm stort, skoon beddegoed en goeie kos. Vir ander is dit ‘n tent en om van Eskom se netwerk af te kom.
Die wagwoord is eintlik…doelbewus lewe. Om opsetlik te kies waarop jy gaan fokus, wat jy gaan geniet van jou alledaagse lewe. Wat jy gaan waardeer. Want wie weet, môre kom die dag dalk wat jy smag na ‘n aand voor die TV saam met jou wederhelfte.

So wat is die “klein dingetjies in die lewe?” Vir party is dit bloot om ‘n boek te lees, om tyd te hê om met hulle vriende te gaan koffie drink, om dalk in die tuin te werk. Vir ander is dit om in die aand om ‘n vuur te sit en ‘n glas wyn te geniet.
Ek het ‘n vermoede dat ons op die ou einde gaan terugkyk op ons lewens en dit gaan die “klein dingetjies” in die lewe wees wat ons die meeste waarde aan gaan heg. Die dinge wat ons die meeste gaan mis as dit dalk verdwyn.
So die geheime resep
Balans noem hulle dit🤪. Natuurlik moet ‘n mens se lewe gevul wees met ‘n paar “eenmaal-in-‘n-leeftyd” ervarings. Maar waak teen die gewoonte om onvergenoegd met jou lewe te raak. Om vasgevang te raak in ‘n web van “die lewe moet mos meer opwindend wees” en te vrees #whatifthisisasgoodasitgets
Maak ‘n lys van al die klein alledaagse goedjies wat jou lewe ‘n plesier maak…die reuk van roosterbrood of koffie, die gawe om buite te stap en die bloeisels en lenteblomme te ruik, om jou wederhelf of kind te hoor lag(of dan snork😝,) die reuk van ‘n gunsteling badolie of die mooi uitsig op jou tuin.
Vir my hoog op die lysie is die lees van ‘n boek, elke aand ‘n iets op die kassie te kyk, om te gaan draf en dan natuurlik die avonture van ‘n ruiter.
Mag jou #whatifthisisasgoodasitgets vir jou vreugde en innerlike rustigheid bring. Mag jy met die wete leef dat “eens-in-‘n-leeftyd” presies dit moet wees.
Die pelgrimstog van die lewe moet hoogte en laagtepunte hê en die stukke tussenin.
Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com. Dalk het jy al rus gevind. Dalk veg jy verbete voort! Ons almal het ‘n resep en ‘n storie.
Hallo Wynvlieg1! Ek is ook een!!
Ek is nou amper 78 en wonder baie oor die dinge wat jy geskryf het. As ek so sit en terugdink, dan wonder ek of ek darem iewers my merk gemaak het. Ek het nie naskoolse opleiding gehad nie, ons was te veel kinders😕 Ek het myself geleer om baie dinge te doen. Ek was haarkapster, naaldwerkster, bakster, skilder(nog steeds)tuine uitgelê, ‘n besige kok, en nog vele ander. Ek was redelik goed in alles, baie skilderye verkoop. Top bakster by Tuisbedryf, bàie kliënte gehad vir modes en hare. Ek het 4 baie oulike kinders, almal natuurlik groot en getroud met hulle eie families, waarbei ek baie betrokke is.👏
Nou die vraag: Was, is dit nou genoeg? Is dit nou wat dit is?
Mag ek nou maar net sit en slegwees (lui is die woord) of moet ek nog steeds spook en spartel, om wat te bereik?
Op die oomblik ‘cruise’ ek so deur die dae. Vroetel in die tuin, maak so nou en dan vir my ‘n kledingstuk, skilder so af en toe, ook meer af as toe!😣 Bak vir die bure pannekoek of koek, en hekel vir die bejaardes kniekombersies. (Ek het nognooit een gekry nie!😀)En sien elke aand vreeslik daarna uit om onder die komberse te kom.
Terwyl ek nou hier met jou gesels, kom die wete tot my, maar dis mos genoeg!!
Groetnis uit die pragtige George, waarheen ek onlangs verhuis het. Ek, 78 jarige vrou alleen. Anette.
Oh liefste Anette, hoe wens ek ons kon in persoon ontmoet!Jy klink absoluut heeltemal soos die tipe mens wat my dierbare Ma was. Ek dink jy het goed gedoen hoor! My ma het nie geglo aan stil sit nie, maar sy het darem ook elke middag so ‘n ligte slapie gevang. Jy laat my sommer vandag na haar verlang en glo my daar is min van julle soort op die aarde. Mag die Outeniqua jou vanaand goed hanteer en ek is nou al elke aand dankbaar vir skoon lakens en ‘n lekker nagrus!