Vol 162:  Ons houding staan nou einde se kant toe

Alle goeie dinge kom mos maar tot ‘n einde.

Nou ja wel, hierdie aflewering van ‘n mens se houding en ingesteldheid jeens die lewe staan nou einde se kant toe. Die feit dat ek wel enige iets nog kan navors so tussen al die kragonderbrekings en werk en weereens voorberei vir ‘n lekker ver uithou rit die naweek, is een gods wonderwerk.

O ja en dan was daar nog die Kweenie se begrafnis. Manlief is nie juis wat mens sal sê geneë om vir ‘n hele dag na die fanfare te kyk nie, so ek het die ook so tussen-in skelmpies na die kassie geloer. Of daar nou nog rede is vir al hierdie gedoentes en ‘n koningshuis, wel dis natuurlik debatteerbaar. Maar dis darem maar mooi om ‘n weermag te sien wat nog sulke passies kan uitvoer. En daai musiek en katedrale! #allthegoodthingscometoandend


Opsommende gewys….

Daar was reeds vier aflewerings in hierdie reeks ~ jy is vry om elkeen weer te gaan lees. (Of vir die eerste keer jou oë daarop te lê😜) ! #allthegoodthingscometoandend

Daar was die eerste aflewering Vol 158:  Hoe Lyk Jou Houding wat die saak afgeskop het. Gekyk na hoe jou houding teenoor die lewe dinge kan maak of breek. En dat ons menige maal te veel klem en tyd afstaan aan die “dringende” dinge, i.p.v. die “belangrike” dinge in die lewe. 

Aflewering twee, Vol 159:  Waarheen Is Jy En Jou Houding Oppad was weer oor nuwe dinge aanpak en dat jy mooi moet besin waaroor jy regtig beheer wil hê in hierdie lewe. Daar is dinge waaroor mens geen beheer het nie, maar dit waaroor jy wel beheer het, is hoe jy reageer. 

#allthegoodthingscometoandend

Die derde een, Vol 160:  Nou Begin Ons Houdings Spoed Kry het gekyk na drome droom. En daardie einste drome in aksie te sien. Want dit wat jy water gee groei mos, dan nie!

En dan die voorlaaste een, Vol 161:  Kyk Net So ‘N Houding, was effe sterker met die aanmanings. Verskonings, blaam en om agter ons sogenaamde tekortkoming weg te kruip, gaan nie juis die pad na geluk en sukses teer nie. En om by die tema aan te sluit – kermkouse kom nêrens in die lewe nie. Ek kan nie vir julle sê hoeveel boodskappe ek nog kry van mense wat hulle lot betreur nie. Jissie mense, party van ons het dit swaar in hierdie lewe, maar ons het almal ons ou stukkie bagasie om te dra. Dis die uitkyk op die lewe wat saak maak. ! 

So dus, hier is die laaste paar dinge wat ek oor ‘n houding te sê het! ! #allthegoodthingscometoandend

Les nommer 7: Raak oopkop!

Kyk mense hierdie is ‘n ding wat ons almal maar meer van kan doen. Ek ag myself as iemand wat oopkop is, wat altyd geïnteresseerd is in ‘n ander se siening van ‘n saak. Om eerlik te wees ~ ander kulture, gelowe en maniere van doen interesseer my geweldig. Maar dan het ek ook maar my eie How Does Implicit Bias Influence Behavior

Want al wil ek glo ek het nie vooroordele nie, gebeur hierdie op so ‘n What Is the Unconscious dat mens nie eens altyd bewus daarvan is nie. Die brein se werk is om alles so gou as moontlik te kategoriseer. Dit te vereenvoudig. Om dit reg te kry, val die brein bitter vinnig terug op patrone wat deur ons omgewing op ons afgedwing is. 

Maar natuurlik, EN HIER IS DIE PUNT, ‘n mens kan wel meer bewus raak van al hierdie vooroordele. Want sien as mens dalk net jou oë oopmaak, jou voordele so bietjie opsy skuif ~ is daar dalk baie om te sien, te leer, te hoor by ander. Wie weet wat hulle tot jou lewe kan toevoeg. So maak ek byvoorbeeld ‘n punt om my jonger Zulu, Xhosa of Venda vriende uit te vra. Ek vra oor hulle gebruike, rituele en alles en nog wat. Want ek is net duskant 50 en spierwit. Grootgeword in apartheid Suid-Afrika. Maar ek is ‘n reënboog kind. Ek wil graag leer, meer weet en nie voorgee ek is net so polities korrek nie. Dit interesseer my. Dit maak dat my wêreld groter en ryker is. 

So wat het dit met jou houding teenoor die lewe te doen. Hoe op aarde gaan dit nou juis vir jou geluk en sukses bring. Want after all is dit waarvoor ons hier is dan nie? Tensy ons die barmhartige samaritaan wou speel. 

Die ding staan so, as jy so vinnig jou skanse opsit, so vinnig is om ander se idees af te skiet…wel dan leer jy eintlik niks. En daar is meer as een manier om by die eindpunt uit te kom. Wie weet, dalk is die ander persoon se manier minder pynlik. Verg dit minder harde werk en is dit dalk nog prettig ook. 

So hoe herken jy ‘n oopkop mens?

  • Hulle is gewoonlik geïnteresseerd in wat ander mense dink
  • Voel nie geaffronteer as iemand hulle idees uitdaag nie
  • Gooi nie ‘n vloermoer as hulle dalk verkeerd bewys word nie
  • Het empatie met ander mense
  • Oorweeg wat ander moontlik kan dink oor ‘n saak
  • Is nie grootpraterig oor hulle eie ervaring nie
  • Glo vas ander het ook die reg om hulle idees te opper
  • Wil regtig hoor wat ander te sê het

Eina, wel ek dink ek het darem ‘n 80% en hoër telling hier gekry. Ek is wel deeglik bewus van watter ek nog aan kan werk. ! #allthegoodthingscometoandend

Want die voordele van ‘n oopkop lewe is so baie en so opwindend dat ek nie juis kan kleinkry hoekom mens dit nie ‘n kans sal wil gun nie! Daar is persoonlike groei hier ter sprake, daar is nuwe ervarings op die koop toe en nog vele, vele meer voordele. 

Waar staan jy op die skaal?

Les nommer 8: Dankbaarheid vir selfs die doodgewone

Hier is nou ‘n lekker uitdaging. Daai ding oor Giving thanks can make you happier

Ek skryf gereeld daaroor. Ek probeer myself elke môre oppad gym toe drie dinge vind om voor dankbaar te wees. Daar moet die een ding wees waaroor ek opgewonde is, die een ding wat regtig fundamenteel is en dan moet ek ook dankbaarheid vind in iets wat ek teen opsien in daardie dag. 

Daar is soveel goed in elke liewe dag wat ons “moet doen.” Wat daarvan as jy al daardie “moet doen” goed omskakel in “wil doen” goed. Die doodgewone soos…

  • Jy hoef nie te kook nie
  • Jy hoef nie die kinders te gaan optel nie
  • Jy hoef nie werk toe te gaan nie
  • Jy hoef nie die huis skoon te maak nie 
  • Jy hoef nie te gaan oefen nie
  • Jy hoef nie gesond te eet of op te hou rook nie

(Jy kan natuurlik kies om hierdie goed glad nie te doen nie…)

Maar wat daarvan as jy dit as ‘n voorreg sien. ‘n Voorreg om wel nog te kan kook, kinders het om op te tel, ‘n werk het om na toe te gaan, ‘n huis het om skoon te maak, ‘n gesonde liggaam het om te beweeg, te voed en gif van af weg te hou. Wat as jy besef dat jy hierdie doen omdat jy kan en wil?

Snaaks genoeg as mens die lewe uit daardie oogpunt bekyk, raak dinge soveel ligter. Soveel beter en meer positief. 

Probeer dit gerus en laat my weet of dit werk.

Les nommer 9: Wees uitmuntend 

Keeping it awkward, brave, and kind. het geen bekendstelling nodig nie. Wel nie as jy al verskeie van my blogs gelees het nie. Die vrou het skille van my oë laat afval. Sy het my nie alleenlik laat besef dat dit goed is om ook kwesbaar te wees nie. Dat ons krag in ons swakhede lê en nie in perfeksionisme nie. Maar ook dat om ‘n “perfekte” lewe na te streef, die grootste klug is. 

Ek was vir ‘n oomblik bekommerd dat ek dat ‘n streep van perfeksionisme weg het, maar het toe met groot verligting agtergekom ek vind eintlik aanklank by haar siening van…How to Strive for Excellence Not Perfection. Lank terug toe ek nog ‘n ordentlik bestuurspos by ‘n groot maatskappy gehad het, was daar ‘n groterig span onder my. Eendag vra ek van hulle of ek vreeslik krities is? Die antwoord was: “Nee, jou standaarde is net hoog.” 

Nou ja, daardie hoë standaarde moet ek teen waak, want dit kan voorkom of ek net altyd fout soek en nog en meer en beter van mense wil hê. ! #allthegoodthingscometoandend

So wat is die verskil…die ding van perfeksionisme is dit:

#allthegoodthingscometoandend

Die groot verskil is dat mense wat strewe na uitmuntendheid, wel gefokus is op die toekoms. Hulle het ideale, drome en ‘n visie. Maar hulle het die vermoë om ook op die hier en nou te fokus. Hulle is nie gedrewe deur dit wat ander mense mag sê of dink van hulle nie. Hulle weet dat wat hulle nou doen, hulle na die beste van hulle vermoë moet doen. Dat wat hulle nou doen die hoekstene is vir die toekoms. Dat die toekoms niks is sonder die hede nie.

#allthegoodthingscometoandend

En dis die einde van my verhaal

Ek het verseker iets geleer. En dit wat nie nuwe nuus was nie, het my ten minste in my spore laat vassteek en weer ‘n bietjie selfondersoek teweeg gebring.

Mag jou houding jou nog vêr in die lewe kry. Onthou om so elke nou en dan jou houding te diens, want nes ‘n kar kort ‘n mense se ingesteldheid ook so af en toe ‘n verstelling of twee. ! #allthegoodthingscometoandend

Asb. laat weet of julle iets hier geleer het. Of daar ‘n verskuiwing êrens was.  Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com. 

2 thoughts on “Vol 162:  Ons houding staan nou einde se kant toe”

  1. Dit was vir my so goed om hierdie skrywes oor houding te lees. Ek het weer besef omdat so baie dinge in ons land verkeerd loop, sal ek my negatiewe houding moet verander. Daar is nog so baie om voor dankbaar te wees. Anders verander ek ook in n Jannie Jammergat!!!! Baie dankie.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *