My hele lewe wens ek al, ek was nie een van daardie alles-of-niks tipe mense nie.
Dat ek ook net matigheid voor oë kon hou. So bietjie hier peusel, so bietjie daar teug aan iets. Die meeste van die tyd vat dit ‘n magdom wilskrag. En my krag raak op! #whenisenoughgoodenough
Hier aan die vooraand van ‘n nog ‘n week kom daardie ou spook nesskop. Daardie spook is die een wat ‘n vaste plek in my lewe en gedrag kom kry het gedurende my 12 jare van verpligte koshuislewe.
Die Scarcity Mindset noem ‘n mens dit. Sien as ‘n mens lank genoeg blootgestel word aan ‘n skaarste aan iets, dan die aand voor jy weer daardie lot betree, vreet jy ‘n poort deur alles wat daar in die huis is. Hoërskool dae was dit sommer so twee aartappels in skyfies op gesny en diepgebraai. Tot vandag toe, kry ek so ‘n onrustigheid hier oor my op ‘n Sondag. Want Maandag begin die skaarste mos weer ~ in die hier en nou, is dit verbloem as ‘n “dieet.” Maar op ‘n Sondagaand wil ek elke keer daardie “fokkit-emmer” skop dat hy doer trek! So my skaarste was duidelik die toegang tot kos en keuses oor kos. In die koshuis moes jy gryp wat jy kon kry. Daar was nie ‘n yskas of koskas om rond in te krap nie, nee. Dit was eet wat jy kry, op ‘n tyd wat geleë is vir die roetine.
Die gemors is daardie slegte gewoonte bly sy kop uitsteek. Bly my op ‘n Sondag gefrustreerd al in die rondte laat draai en die groot vraag bly vra….hoekom kan ek nie hierdie gematigdheid storie regkry nie? Want orals beloof die wat weet…Living in Moderation: The Underlying Secret to A Blissful Life.
Hoekom is dit so moeilik?
Die wortel van die kwaad is natuurlik soos ‘n boom in die Karoo. Ongeag jare se droogte, klou daardie wortelstelsel verbete vas. Hou dit daardie einste dorre boom regop. Lankal tyd om te laat gaan, maar nee, ‘n diepgewortelde stelsel daai.
Dit wil my voorkom asof my brein die saak heeltemal uit verband ruk. Natuurlik is hierdie “alles-of-niks” ingesteldheid van my, ‘n twee snydende swaard. Want die NIKS deel is daardie diepgewortelde vrees dat ek seker nooit weer kos gaan sien nie.🤪 Of dat keuses van my weggeneem word. Dis ‘n ongelooflike gevoel van oorwinning en mag om te voel of ek kan doen NET WAT EK WIL. Sonder om voorgesê te word. Maar die ander kant van hierdie nare munt is natuurlik dat ek dan met die perfeksionisme, van ‘n ALLES ingesteldheid geslaan raak. Want sien die ALLES deel wil hê alles moet perfek wees, die standaarde is onmenslik hoog en die kritiek nog hoër. ‘n Rojale fokkoppie as jy my vra.
Nou laat ek ABSOLUUT eerlik met julle wees. Ek is nie die tipe perfeksionis in wie se huis jy van die vloer gaan wil af eet nie. Ek is nie die tipe perfeksionis wie se klere kas die manne in die weermag sal skaam maak nie. Vermoedelik dra daardie dinge nie vir my veel waarde nie. Maar as ek hierdie artikel so bekyk is ek waarskynlik een en vier van die ~ There Are Three Types of Perfectionist. Which One Are You?! Die “self georiënteerde perfeksionis” het redelike hoë verwagtinge van hulleself en dan vermeng met die “ideale perfeksionis.” Laasgenoemde dink te veel aan hierdie idee van die “ideale” persoon/lewe/dieet/liggaamsbou wat daar gestel is deur die samelewing.
Goeie hemel, ek is amper 50! Wat de donner maak dit nou regtig saak wat enige iemand dink?? #whenisenoughgoodenough
Vooraand van nog ‘n week – kom ons probeer weer
My lewe voel soms so bietjie soos ‘n slangetjies-en-leertjies speletjie. Net mooi as ek op koers is, hard gewerk het aan hierdie gematigde, gebalanseerde lewe, woeps daar land ek in daai slang se gulsige bek en gly ek weer REG TERUG. Geen vordering nie!
Die knaende vraag bly ~ WAT IS DAN FOUT MET MY? Dalk wil ek nie so ‘n lewe graag genoeg hê nie? Maar dan moet ek mos gelukkig wees met die rondings, die skaarstes, die leegtes. Die antwoord is natuurlik, op die aarde niks is verkeerd inherent met my of my samestelling nie. Dis eerder hierdie ou geloofies oor myself, die samelewing en hoe hierdie perfekte lewe moet lyk kwansuis, wat my kniehalter.
Hier is ‘n iets om aan te herkou…👇🏼
Opgee sal ek seker nooit opgee nie, want die soeke bly. Dalk, net dalk is die antwoord in daardie beeldskone nasie doer hoog bo op die aardbol. Dis ‘n ding genaamd, Lagom en iets wat die Swede duidelik nie net in hulle eie lewens toepas nie, maar wat ook selfs die regering en die koningshuis dryf.
Padlangs vertaal is “Lagom” = net genoeg. Om ‘n mens se tevredenheid te vind in net genoeg. #whenisenoughgoodenough
Wat is “net genoeg?”
Dis nou net hier waar die duiwel ronddraai – wat vir my genoeg is, is uit die aard van die saak nie vir ‘n ander genoeg nie. Wil my ook voorkom in sekere opsigte kan ek net mooi nie genoeg kry nie. Sit daai roomysbak se deksel terug verdomp! #whenisenoughgoodenough
Wie het nie al gedink dis ‘n goeie idee om nog ‘n stuk koek te verorber, net om ‘n mislikheid oor jou te kry nie? Wie het nie al gedink dis ‘n wonderlike idee om nog ‘n bottel wyn of skeutjie te drink as jou kop al klaar gespin het nie? Net om met ‘n moeder van ‘n nadors wakker te word nie. Wie het nie al gedink dis ‘n uitsonderlike idee om net nog een episode van ‘n Netflix reeks te verorber, ver verby middernag nie? Net om die volgende oggend met sulke poeperige klein ogies wakker te word nie? Dit terwyl jou gesonde verstand en liggaam jou gewaarsku het, om stadiger oor die klippe te gaan.
Nou ja, Lagom is die vermoë om te weet wanneer “genoeg” net mooi “genoeg” is. So bietjie soos Gouelokkies – toe sy in daai huisie was, het sy presies geweet dat sy opsoek is na “net genoeg.”
So Lagom het twee kante, die eerste een is die besef dat dit wat ons doen in ‘n samelewing ook ‘n effek op ander het. M.a.w. niemand vat meer as wat hulle regtig nodig het nie, jy gun ander ook hulle deel. Ja natuurlik kan jy ‘n absolute doos wees en voor in die ry probeer indruk, of ‘n gaping vat om “voor te kom” as die geleentheid hom voordoen. Maar in daardie samelewing sal niemand juis met agting na jou kyk nie.
Dan is daar die deel wat oor jou persoonlik gaan. Wie van ons kan nie ja antwoord op die volgende vraag nie? Are You Being Seduced by Bigger, Better, and More? En dit gaan nie altyd eintlik net oor meer geld, groter kar, groter huis, beter vakansie nie. Partymaal is dit ook maerder, fikser, slimmer en so gaan die lysie aan. Maar wanneer is genoeg, genoeg? Die Swede wil dit hê, dat mens net genoeg van alles nodig het, nie oordaad nie.
Want “net genoeg” in jou lewe van werk, geld, uiteet, pret, vakansies en oefen ~ skep eintlik die kans om jou lewe ten volle te geniet. Al agter gekom as ons die een deel in ons lewe jaag soos ‘n mal ding, dan val die wiele vir die res af?
Party weke is ek byvoorbeeld op so ‘n mallemeule by die werk en met kliënte, dat ek so moeg en geïrriteerd is as ek uiteindelik my skootrekenaar toemaak, dat ek net eenvoudig te moeg is om ‘n heerlike, ontspanne aand met my mense te geniet.
As ek probeer om 5 dae ‘n week te oefen, raak die lyf later so seer en moeg dat elke besering onder die son sy kop begin uitsteek. Wat is die punt daarvan?
As ons vir ‘n naweek lank kyk hoeveel ons kan uiteet en hoeveel sosiale geleenthede ons kan inprop, dan voel die werksweek ekstra lank en die liggaam soos ‘n ballon.
Ek dink ek maak my punt. Stel jou voor ‘n lewe waar jy “net genoeg” van alle aspekte van jou lewe inpas. Hoe salig sal dit nie wees nie?
Hokaai nou
Dus weereens, wat laat jou wêreld nie voel of dit van die aks af wentel nie? Wat laat jou voel of jy rustig kan asemhaal en nie soos ‘n verbete rot op ‘n wiel hol nie? #whenisenoughgoodenough
Wat laat jou hart sing?
Myne is groente, slaap, boeke lees, stimulerende werk, lekker kos, lag en oefen.
Kom ons kyk of ek die week net genoeg van alles kan doen! #whenisenoughgoodenough
Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com. Hoe lyk jou “net genoeg?”