Vol 166: AS DIE LEWE JOU DRUK

Sjoe ek was effe uit die veld geslaan met die reaksie op Wynvlieg Ek was oorweldig deur die magdom van ondersteuning wat daar uit heinde en verre vir my ingestroom het ~ wat my ‘n traan of twee laat pik het, daaroor sal ek nie lieg nie!

Maar ek moet ook net sê, dit het my so effe droewig gelaat om te weet soveel van ons sukkel en so min van ons is bereid om dit te erken. #guidetodealingwithlife

Waarom het ons tog ‘n mensdom geword wat net altyd probeer oorleef, wat maar eerder ons seer sal wegsteek, of wat dink ons verdien nie ook ‘n bietjie simpatie, liefde en ‘n sagte oor of woord nie. So uit die diepte van my hart, dankie aan elke liewe een wat oor grense heen net sommer gaaf was. Ons ou Afrikanertjies is tog plesierig en ons is nou maar eenmaal die mense by wie ons hoort.

Vir die van julle wat ‘n ondraaglike pyn saamdra, waarteen myne lyk soos ‘n molshoop, weet net dit: Op hierdie pelgrimstog is ons almal daar om ‘n bietjie balsem te smeer en soms die kruis vir jou te dra. Al ken ons mekaar nie. Ons het dieselfde hart, dieselfde seer, dieselfde vrees. En ons sien jou. Ek hoop dat wie julle ook al mag wees, dat julle ook vriende soos myne het. Want The Importance of Friends in Grief kan nooit onderskat word nie.  Lees net hierdie aanhaling….

“ As Alfred Lord Tennyson wrote, “Be near me when my light is low/ when the blood creeps, and the nerves prick/ and tingle, and the heart is sick,/ and all the wheels of being slow.”


Dankie my dierbare vriendin, my “sister from another mister,” my PR, my reddingsboei…jy weet presies wie jy is!  Met jou “toemaar ek kom saam om alles mooi te maak,” met jou bekendstellings, met jou etes reël. Dankie, dankie, dankie!!

Aan my eie suster wat ‘n Saterdag om huil oor ek trek. Wat kom bokse pak. Jy maak my hart hoort! 

Nou moet ons voorwaarts, mars

Soos ek graag dit uitbasuin, S*&$ HAPPENS THIS TOO SHALL PASS. Wat sê hulle: woorde wek, maar dade trek. So ek moes my houding goed aanspreek. Soos hulle in goeie Afrikaans sê, ek moes my gat in rat kry en uit ‘n krul! #guidetodealingwithlife

So wees my genadig maar die volgende paar wenke het ek my gewone humorsin probeer opplak. Soos my geluksgod, of sal ons sê die ou wat my elke keer herinner, dat ek net eerlik en reguit met myself moet wees sê: A Practical Guide to Happiness. Geluk is nie ‘n bestemming of dan ‘n dorp of ‘n huis nie, nee dis ‘n spasie wat jy beset. Jy maak die ruimte vol met geluk. Jy neem beheer. #guidetodealingwithlife

Dus…hier volg my raad vir as die donkerte jou kom pak. Vir as die lewe lyk of dit net in een rigting in donner en dis nie die regte rigting nie.  Of dan nie juis die een wat op jou padkaart was nie. #guidetodealingwithlife

Kortom, hier is ‘n paar wenke om al die mishope van die lewe te probeer omseil, of dan noodgedwonge te probeer oor!

1. Gaan maak ‘n draai in jou tuin, die naaste park of kyk by die venters uit. Kyk of die voëls enigsins omgee oor al die nonsens of onreg wat in die lewe aangaan. Kanse is dat hulle net aangaan met die vlieg storie, met die kos soek vir hulle kuikens en natuurlik om uit die kloue van ‘n kat of gedierte te bly.  Dalk as ons aan Self-preservation moes dink, sou ons nie so baie gestres het oor dinge wat eintlik nie regtig ons bestaan bedreig nie. Dalk as ons net bietjie meer geloof het en minder wil beheer, sal ons minder wakker lê. 

#guidetodealingwithlife  

2. Sit jou oorfone in, of as jy daai nie het nie skakel die grammafoon aan, die draadloos of iets met jou gunsteling musiek en speel dit teen ‘n oorverdowende volume. Soos ek nou hier sit, is my oorfone in. Ek het The Cello Song – (Bach is back with 7 more cellos) – The Piano Guys soos in erg hard aan….verbeel my ek slaan weer daardie klawers soos van ouds. (Dis wat so lekker is van droom….kon in my dag des lewens nooit SO GOED die klavier bespeel nie, maar nou mag ek maar voorgee ek kon!) Daar is niks in die lewe wat mens so kan wegvoer na ander plekke, wat mens kan troos as jy ontroosbaar is nie. Wat jou op die wieke van die wind kan sit nie.

#guidetodealingwithlife  

3. Bel ‘n vriend of vriendin….dalk meer as een, as jy gelukkig is om heel paar van hulle te hê.  Praat, sê wat op jou hart is. Of as jy gelukkig is, dan het jy ‘n blog en daar is honderde mense wat jou struwelinge deel. Wat ‘n mens gerusstel dat alles ok sal wees. Dat die lewe weer eendag meer rooskleurig daar sal uitsien, of wat dalk net kan sê…dis super kak, ek was ook hier, is nog daar…ek sukkel, maar jy is nie alleen nie. Soos hierdie artikel, 10 Reasons why talking about your feelings is important dit so mooi stel, dit help nie jy ignoreer al jou emosies nie, dit sal nie weggaan of beter raak net omdat jy jouself soos ‘n volstruis gedra nie. 

4. Huil as jy moet. Ek is nou ‘n groot voorstander van die pik-‘n-traantjie brigade. Voorheen was dit so bietjie van ‘n swakheid in my oë…iets wat jy vir jou binnekamer bewaar het. Daar waar jy snot en trane kon huil, sonder dat enige iemand jou sien. Maar een ding is waar, as die verlies net so groot is, dan wil daai krane net nie toebly nie. En dis ook goed so, want 9 Ways Crying May Benefit Your Health ~ dis soos ‘n kombersie wat oor jou gevou word. Dit stel allerhande wonderlike chemikalieë vry, dit laat jou ontspan en na ‘n goeie tjank sessie voel mens mos sommer net veel beter. Maar daar kom ‘n punt wat mens nou ook maar vir jouself moet sê, te veel van ‘n goeie ding is ook nie goed nie. Tensy jy met sulke pofferige oë die heel dag wil rondloop. So my raad is dit, huil, maar huil konstruktief. Kry dit uit, maar dan moet jy darem ook weer ‘n slag buitelug sien, asem skep en jouself so bietjie in die oë kyk en herinner aan die goeie wat nog daarbuite is. Of dan net jou doel op hierdie aarde. 

5. Kry genoeg slaap  ~ kyk as jy my wil martel moet jy my min laat slaap. My onlangse rou proses het my elke nag wakker gemaak hier om en by 3 uur in die oggend. Was ‘n gerond rol en paniek saaiery van die eerste waters. Die volgende dag het ek soos ‘n zombie gevoel en was my tenkie leër as leeg! En dis ‘n gemors want dan kan mens net mooi geen molshoop tegemoet gaan nie. Hulle stel dit so elegant in hierdie artikel, How to cope with sleep problems (net soos die Britte kan 🤪)..There’s a close relationship between sleep and mental health. Living with a mental health problem can affect how well you sleep …no ** Sherlock! Ek vind ‘n gesonde manier om dit te probeer bemeester is Meditation for sleep. As dit so bietjie hola-hoop vir jou is…probeer maar net asemhaal en na rustige musiek te luister. Of bid…dit help ook. 

6. Probeer die les te leer. Ek weet hierdie is makliker gesê as gedoen. Baie maal wil ons ten hemele skree, is ons woedend want daar is party lesse wat geeneen van ons ooit wil leer nie. Wie wil ‘n les leer deur ‘n kind aan die dood te moet afstaan, wie wil ‘n les leer deur ‘n man wat jy vertrou het, maar jou sonder ‘n sent agterlaat? Wie wil ‘n les leer deur in ‘n ongeluk te wees en ‘n ledemaat te verloor? Wie wil ‘n les leer deur ‘n werk te verloor en dan sommer ook alles. Partymaal wil ek ook op ‘n berg gaan staan en skree….DIS NOU GENOEG!! Hoeveel lesse nou nog??? Maar ek weet ook teen die tyd  dis ‘n geskree in die wind. Want as ek nie ‘n les uit die swaar probeer kry nie, dan voel alles so bietjie verniet. Voel die verlies nog erger, nog meer pynlik. 

7. Vergewe.  Nie om so ‘n wonderbaarlike mens te wees nie. Nie om Mandela na ‘n liggewig te laat lyk nie. Nie om enige iemand vry te spreek nie. Maar om jouself ‘n kans op die lewe te gun. Ek staan tot vandag toe nog in verwondering oor Nelson Mandela’s Inspiring Mindset to Forgive 27 Years of Imprisonment. Ek weet nie of ek dieselfde sou kon doen nie. Daar is soveel mense wat die allervreeslikste goed aan die hand van ander mense oorgekom het. En wat nóg steeds dit kon regkry om te vergeef. Deur die bank bly die boodskap, die vergifnis gedeelte maak die een wat vergewe vry. Nie die anderkant om nie. Moet jouself nie in ‘n sel opsluit vir iemand anders se swakhede nie. 

#guidetodealingwithlife  
#guidetodealingwithlife  

8. Doen iets moerse nice vir jouself. Wat ook ál in jou begroting val. Gaan koop ‘n stuk koek, gaan op ‘n reis, hang met vriende uit. Dit hoef nou ook nie altyd aan geld gekoppel te wees nie, weier sommer ook net om vanaand kos te maak. Skink eerder ‘n glasie wyn, of maak ‘n koppie tee en gaan sit met ‘n kers onder ‘n boom. Herinner jouself dat jy ook waardig is. Dat jy ook tel. Jy sal verbaas wees hoe graag jy van jouself wil hoor!

As jy al daai gedoen het

#guidetodealingwithlife  

Bel weer daardie vriende en vertel hulle hoe waardevol hulle vir jou is. Vra vir nog ‘n koffie, nog ‘n stappie, nog ‘n huil sessie. Vra of jy weereens êrens sag by hulle kan kom land. Dwing hulle om allerhande beloftes te maak, wat hulle nooit sal kan hou nie. Maar later sal dit nie meer saak maak nie, nou kort jy dalk net ‘n anker op die woeste see van die lewe. 

En dan….begin vir jouself ‘n prentjie te skilder van hierdie nuwe toekoms. Van daardie plek, al die moontlikhede, al die drome, al die mooi wat moontlik is as jy net die hartseer, die verlede, die vashougoed kan laat gaan. Hulle onder ‘n boom sitmaak op hierdie plek waar jy nou is, met genoeg kos en water sodat hulle die hiernamaals kan in. 

En dan met ‘n oop gemoed en mooi herinneringe die volgende deel van die pelgrimstog te kan aanpak. 

Sien julle op die roete. #guidetodealingwithlife  

Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com. 

4 thoughts on “Vol 166: AS DIE LEWE JOU DRUK”

  1. En hier sit ek 2.14 in die more en lees jou waar woorde. Die lewe is maar vol dinge en soms hanteer ons dit wat gebeur beter as ander kere. Soms byt jou positiewe uitlatings jou in die gat. Soos nie elke knop is kanker nie, en dan het jou kind stage 4 ” fast spreading, aggressive cancer” of as jou meisiekind se jy gaan uiteindelik n ouma word, maar dis n geheim tot ek weet als is ok, en jy se ai kind mens dink nie so nie natuurlik sal als ok wees. En dan n week later is dit nie so en sy gaan vir n noodoperasie, en nog voor dit gaan staan haar hartjie. Maar nes haar boetie is sy ook n surviver, en laat dit my besin oor wat weereens belangrik is…die lewe! Dat als ander soos jy se sal verby gaan, maar dat ons mooi na ons self moet kyk. Meer kuier, meer die mooi geniet. Wees dankbaar, en van nou af tel ek maar bietjie my woorde. Eks tog so gou om te wil voorgee als is ok.

    1. Ja nee kyk my positiewe uitlatings byt my meer male as wat ek wil erken in die gat! Is jou kind ok? Ai man, dis sekerlike elke ouer se grootste seer en vrees. Ek stuur vir jou net ‘n gedagte en liefde, want wat meer kan ek tog doen. Weet net dit, ek dink aan jou. Aan al daai vrees en al die nie ok en die 2:14 wakkerlê in die nag. As ek vannag weer van 1vm af begin rondrol, sal ek aan jou dink.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *