Die son is besig om water te trek op hierdie jaar. Skaars ‘n beter tyd om ‘n slag weer ‘n bietjie bestekopname te doen. #takingstockoflife
Ek sweer, elke jaar die tyd, besluit ek HIERDIE was nou my Annus horribilis, net om dieselfde ‘n jaar later te herhaal. Vermoedelik is my tenkie effe leeg die tyd van die jaar en sien ek met hope hoop en opwinding uit na ‘n vars, nuwe begin. Is dit nie maar hoekom ons voornemens maak nie ~ vir die hoop op ‘n nuwe begin. Solank ons tog onmiddellik, tot daadwerklike aksie hoef oor te gaan nie!🤣. So bietjie uitstel het niemand mos nog skade gedoen nie, of wat praat ek alles!
Oscar Wild het hoeka gesê: “Good resolutions are simply checks that men draw on a bank where they have no account. “
Kyk as ek by elke voorneme om in daardie gegewe jaar 5kg ligter te raak gehou het, wel, wel, wel, dan sou ek nou al so dun gewees het dat ek reg deur my ander dinges geval het. En ek tik nog, so ek is nog nie daardeur nie!
Maar vir eers moet die voornemens wag, dis laat Desember se storie, wanneer al my klere span, ek uitgerus genoeg is om vol bravade een of ander ambisieuse projek te wil aanpak.
Die bagasie los ek agter
Vir nou, moet ek eers hierdie jaar in oënskou neem. #takingstockoflife
En ek dog toe ek sleep julle ook saam. Ek vind ons dra net te swaar aan al die bagasie, die verwagtinge, ons eie vooroordele en ook vele ander onsinnighede!
So hier gaat ons!
1. Hou op om jou liggie onder die maatemmer weg te steek. Vaderland, ek hoor en sien en ervaar te veel sosiale media inskrywings en sommer net haarsalon gesprekke waar mense vertel hoe hulle, hulle eie liggies verdoof, net om ‘n ander sin te laat skyn! Want weet julle wat? As mens bereid is om jou eie vlammetjie hoog te laat brand, stuur jy ‘n duidelike boodskap aan ander, dat dit okaai is vir hulle om ook soos die Aandster te skyn!
2. Beter kon ek dit seker nie gesê het nie, maar Why We Need to Put Ourselves First and Prioritize Our Own Happiness bied goeie raad! Ek het die afgelope twee of drie jaar besef, as ek nie my eie geluk eerste gaan stel nie, is ek maar ‘n bra power voorbeeld vir ander. Hoekom dan so? Wel dis my verpligting om ander te wys hoe ek begeer hulle my moet hanteer. En as ek nie eers my eie geluk belangrik ag nie, hoekom sal enige iemand anders?
3. Om in ongesonde, ongebalanseerde verhoudings te bly doen absoluut niemand ‘n guns nie. Jy is nie ‘n held of heldin nie. Ek weet dis nie maklik nie, ek weet dis nie net sommer vir handdoek ingooi nie. Ek verstaan ~ “tot die dood ons skei.” Maar glo my vry, en ek praat van ondervinding, geen verhouding sterf net ‘n natuurlike dood nie. Verhoudings word vermoor, geslag deur houding, gedrag, ego en arrogansie. Mense draai die ander wang, gooi ‘n blinde oog. Almal, maar almal WEET as daar iets giftig in die lug rondhang. Ons kies net om dit te ignoreer. Vir die van julle wat op daardie drumpel staan en wat wonder en vrees..lees hierdie artikel, Why People Stay in Toxic Relationships. Ek was al daar, het so ‘n T-hemp en nog vele ander dinge om te wys daarvoor. Ek vind die raad in hierdie artikel, nugter en behulpsaam.
4. Gepraat van verhoudings ~ die soort wat in huwelike uitloop, of die soort wat jy met jou kinders het. Daar behoort geen, een oomblik te wees wat enige iemand in enige verhouding hulle waarde hoef te moet bewys nie. Ek het onlangs dit weer hier in my eie geledere sien uitspeel. Waar ‘n Pa onwetend(of so pleit hy in elk geval) sy kind elke liewe keer aan sy eie waarde laat twyfel. En dan wonder mens, VIR WAT? 5 Quick Ways to Recognize Your Self-Worth gee so ‘n vinnige wegneem-sessie, as jy wonder hoe om jou eie waarde weer te loop terugvat. Al wat ek weet is, dat as ons nie elkeen presies geskape was soos ons is nie, dan was die plekkie nog ‘n groter gemors as wat dit reeds is. Ek geen nie om wie of wat jy is nie, maar elke een van ons voel êrens of ons tekort skiet. En tensy jy ‘n absolute boks probeer wees, is ek seker jou asem, jou teenwoordigheid het ‘n doel in hierdie wêreld.
5. Bly VER weg van ander mense se dramas. Kyk ons almal hou so bietjie van verhoog-verhoog speel soms. Of ‘n goeie skinner sessies, net om beter oor ons eie dramas te voel. Maar as daar nou een lewensles is om te leer is dit sekerlik om nie raad uit te deel aan mense wat ieg dit gaan verwerp nie. Vir sommige mense is drama soos ‘n verslawende middel, Some People Love Conflict and Drama. As hulle graag met die sirkus wil wegloop, pak hulle tasse vir hulle. Al wat ek weet, is dat ek, vandat ek nie meer ander mense se arena betree nie, oneindige hoeveelheid vrede begin ervaar het.
6. Ons moet eenvoudig ophou om onsself so te verknies. Laat ons nou nie vir mekaar lieg nie, daar is bitter baie dinge die afgelope paar jare om onsself oor te bekommer. Maar die The Facts About Worry en ook my eie ondervinding bevestig net een ding: bekommernis het absoluut geen positiewe doel nie. Want meeste van die goed waaroor ek lê en rondrol in die middel van die nag gebeur nooit nie. As dit wel gebeur, het enige nagrus wat ek daaroor verloor het, my net nog minder produktief gemaak. Dit het absoluut glad nie die situasie verander nie. Solank ek nog ‘n plan kan maak, is daar net mooi niks om myself oor te bekommer nie. As die rede tot my kommer, wel waar word, wel dan is die ander slegte nuus, dat al die wakkerlê ook bokkerol daaraan verander het.
7. As jy vir een oomblik dink jy verdien minder as ander, dat jou behoeftes altyd op die lange baan geskuif moet word. Dat jy nooit mag rus, of doen net wat jy wil nie. Draai in jou spore om, begin om jou plekke vol te staan. Kyk na jouself! #takingstockoflife
As almal ore gehad het
Dan wil ek so effe prekerig nou raak ~ as daar ‘n manier was wat ek elke liewe mens in die heelal na my opinie kon laat luister, dan sou ek graag hierdie vir hulle wou sê:
- Probeer ‘n slag om nie altyd “reg” te wil wees nie. Die oomblik wanneer jy begin erken jy het ook foute, jy sit ook die pot mis, sal jy sommer gou agterkom hoe vry en verlig ‘n mens so aan die “verkeerde” kant voel. Dis nie ‘n teken van swakheid nie, dis ‘n teken van volwassenheid. Van tuis wees in jou eie vel.
- Niemand gee om oor die Cellulite op jou bene en boude nie. Trek daai kort gym-broekie aan, ten minste is jy in die gym! En vrek jy nie van die hitte nie!
- As jou eerste probeerslag nie so suksesvol is nie, stof jouself af en klim daai perd weer en weer. Dis die ure in die saal wat tel, wat jou meer ervaring gee! Nie jou perfeksie nie!
- As jy die wêreld wil verander, moenie met jou oudoos familielid en sy vooroordele loop bodder nie. Begin maar eerder in jou eie huis, met jou eie kinders. Maak hulle ordentlik groot. Nee nie ordentlik nie, maak hulle groot om meer bedagsaam te wees, meer empatie te hê en elkeen sy plekkie in die son te gun. Om nie vir veroordeling en boelies terug te staan nie.
- Tradisies en daai “moet” doen goed, is net druk uit die verlede. Skep jou eie tradisies, volg jou eie kop. Leer uit die verlede en doen beter. Jy hoef nie die baba met die badwater uit te gooi nie. Maar probeer net beter en doen wat goed is vir jou en jou mense. Basta met die samelewing en wat oupa en ouma glo.
- Wees soos dr. Sooliman, Our Inspiration. Glo dat elkeen van ons ‘n verskil kan maak. Dat ons vervloeking van die regering, net mooi niks verander aan die situasie in hierdie land nie. Dis in die een goeie daad per dag, waar die verskil lê. Maak iemand anders se lewe beter. Baklei vir iemand anders.
- En kan ons asb. vir ons kinders se part, nie die planeet so opdonner nie?
Die feestyd lê nog voor
Vir die wat al aan die koekies bak is, stuur vir my ‘n paar toe! Vir die wat tot die dood toe moeg is, byt vas, ons is in die pylvak.
Vir die wat geskenke moet koop en nie ‘n dooie sent in die bank het nie, onthou al wat ons gaan saamneem volgende jaar is die goeie herinneringe. Niemand gaan teen volgende jaar die tyd eintlik meer onthou van die vragte geskenke wat hulle oopgeskeur het nie.
Mense daar is minder as ‘n maand tot Kersdag. Leef voluit! #takingstockoflife
Stuur solank alle Kerswense en goeie raad aan my by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com.