Wynvlieg Vol 168

Vol 168: Desember 2022 ~ Joernaal inskrywings

Die jaar het uitgerafel hier teen die einde. Soos ‘n sleg gestikte rok uit een of ander land waar die kinders vir twee sent ‘n dag werk. Alles wat my gewoonlik staande hou en die siel en liggaam voed het begin wegsyfer. #letstryagain

Daar is mos goed wat ‘n mens WEET, maar desondanks ignoreer jy dit soos ‘n stopstraat. Een van hierdie waarhede is dat “Small disciplines repeated with consistency every day lead to great achievements gained slowly over time.”. John C. Maxwell

Ek weet vir ‘n feit dat ek my roetine moet behou as dit by die oefenry kom. Maar so het die drie keer ‘n week, twee keer geword. Die hardloop het van twee na dalk eenkeer ‘n week vervaag. Die joga is na die skouer probleempie en verandering in skedule pad af. Die perdry het ek darem so getrou moontlik probeer doen. 

Die skrywery het skipbreuk gelei, want die werk het net te veel geword. Ons almal weet in hierdie tye wat dit druk, is Plutus (die Griekse God van geld!) op die troon.

En as ou Plato’tjie nie hoogty vier nie, dan aanbid ek met ‘n ysere wil Dionysus. Wel ten minste dan nou die deel wat gaan oor die plesierigheid rondom kuier. 


Vorder tot by die begin

Êrens kom daar ‘n goedbedoelde vraag van die jonge man wat my met die meer tegniese dele van hierdie blogs uithelp. “Beplan jy om weer ten minste een keer ‘n week te skryf?” Vreeslik ordentlik en ja ek weet, ek weet daar is mense wat nogal hou van hierdie klompie snert wat ek herhaaldelik neerpen. Daar is dalk mense wat wag om een weer oop te maak en hulleself raak te lees.(Mens kan mos maar droom nè🤪)

Maar belangriker as dit nog, ek weet voor my siel, hierdie geskrywe is vir MY BELANGRIK! Dit orden, die maak my siel skoon, dit bring vir my ongekende vreugde en die navorsing dele maak my oë weer oper! #letstryagain

Dus, soos enige een wat effe onfiks geraak het, besluit ek toe dat hierdie Desember, nou dat ek die werk skoene opgehang het, gebruik MOET WORD om die wysers van my lewens klok weer reg te stel. Maar nou ja, voor ek spiere trek wat nie getrek moet word nie, reken ek die beste strategie is om baba treetjies te neem na sukses.  6 reasons why small steps are the best way to tackle big goals, stel dit so mooi..(ek vertaal!). Baba treetjies verhoed dat ons te veel afdwaal, te maklik ons aandag kan verskuif. #letstryagain

“The secret of getting ahead is getting started.” Mark Twain

Lang storie kort

As ek nou moet eerlik wees kom ek elke jaar hier aan die einde en glo, VOLGENDE jaar gaan definitief my jaar wees. Maar toe ek noudie dag hierdie 👇🏼 lees toe moes ek lag…want wragtag dis nou waar!

#letstryagain - Wynvlieg Vol 168
#letstryagain

Die tyd is nou, die tyd is ryp, gryp hom gou! Basta met nog uitstel en hoop en glo na twee weke vakansie en ‘n dag met die datum 31ste Desember, gaan alles skielik beter raak. 

Dus, hierdie Desember nooi ek jou uit om dalk die klein baba treetjies saam met my te neem. Kies iets, net iets wat jy weet jou siel en liggaam voed. En doen dit elke liewe dag. Dis so bietjie soos ‘n uitdaging, want Why Are Challenges Important In Life? ~ dit bring die beste in ons uit. Wys ons, ons kan. #letstryagain

So my uitdaging aan jou is om elke liewe dag ‘n stukkie te skryf – soos in die outydse dagboek. Jy kan ‘n mooi skoon boek vir jou vandag gaan koop, ‘n fênsie pen en net elke dag iets skryf. Of jy kan sommer soos ek dit tik. Ek sal dit natuurlik SOOOOOOOOOO geniet as jy jou dagboek inskrywings sommer hier op Wynvlieg vir my gaan los. Dit help natuurlik ook Developing Personal Accountability

As jy meer wil lees oor die voordele van dagboek hou, lees gerus ~ Top Evidence-Based Benefits of Journaling for Mental Health.

Dagboek inskrywing: 19 Desember 2022

Vandag kies ek om uit dankbaarheid te skryf. Vroegoggend wakker geword, na ek my nagrus gekoester het en uit die gedeelde bed, na die gastekamer getrek het om die lokomotief langs my te vermy! 🤪 Ek was so dankbaar, vir nog ‘n dag. Nog ‘n einde van ‘n jaar. Dat ek oorleef het, dat my mense oorleef het. 

Baba tree nommer een geneem en gaan draf. Draf fiks is my eerste doelwit vir hierdie Desember. Slap gelê die jaar, weens besering op besering en toe ‘n hoop ander verskonings. Die seelug en ligte mis wat oor die see lê is altyd ‘n balsem vir die siel. Die vroegoggend swemmers wat die koue waters trotseer, herinner my altyd dat die lewe vars en vroeg geleef moet word. Ek het dit gemaak, soos ‘n slak, maar ou slakkie het met ‘n lied in die hart by die huis opgedaag. 

Desember dink ek kom met te veel verwagtinge. Dis so ‘n groot “hype” en dan op die ou einde is daar meer stres en familie krapperigheid as wat daar vreugde is. So ‘n saamdrom van almal is ‘n resep vir ‘n gemors. Dis asof ons dink as ons almal op een plek hoop jaag vir ‘n paar dae, met ‘n boom met goedkoop liggies en tonne geskenke daaronder, gaan ons opmaak vir die jaar se gemis. Ek wonder sommer, hoekom doen ons dan nie meer moeite deur die jaar om saam te kuier, bymekaar te kom en mekaar te waardeer nie? Maar aan die donker wolk moet ek mos ook ‘n dankbaarheid kransie hang…dus is ek dankbaar vir die geleentheid om ook my grense te stel. Dankbaar dat ek met ‘n nugter gemoed die tyd kan ingaan en dankbaar dat ek my ook uit die voete kan maak as ek wil. Want dit is hoe ek my ordentlikheid gaan behou. 

#letstryagain - Wynvlieg Vol 168

Ek is dankbaar dat ek myself nog kaduks kan vreet. Dat my yskaste nog oorloop en dat my bekommernis eerder gaan oor die te veel eet as geen kos op die tafel hê nie. Ek is dankbaar dat ek vandag vir iemand anders iets kan gee om te eet. Dat ek dalk na ‘n restaurant toe kan gaan(ag asb. laat ek tog net die slaai en nie die vis en chips bestel nie!😳) en sodoende vir iemand ‘n werk kan skep. En ‘n ordentlike fooitjie kan los. 

#letstryagain - Wynvlieg Vol 168

Ek is dankbaar dat ek die Desember met ‘n ekstra kg ingaan. Dat ek nie erns ‘n gevreesde siekte opgetel het hierdie jaar en nou net vel en been en moeg tot in die murg is nie. Dankie Here, dankie daarvoor en asb. bewaar daardie wat nie so gelukkig is nie. 

Ek gaat nou hierdie dag begin, ek wonder wat jou joernaal vandag bring? #letstryagain

Pos hom hier of skryf by my by vryheid@wynvlieg.com . Jy kan ook ‘n boodskap los op www.wynvlieg.com.

2 thoughts on “Vol 168: Desember 2022 ~ Joernaal inskrywings”

  1. Ek het so drie maande gelede op n sober journey begin , want alkohol was definitief nie Viry nie. So die challenge is net wat ek nodig het. Ek is een van daai persone wat vol entoesiasme wegspring en Dan Gaan dit net daarvandaan. So dankie day ek my journey met julle Kan deel en Weet day ek dit nie alleen doen

    1. Dis seker een van die bevrydendste dinge te besef…as iets net nie meer waarde tot jou lewe toevoeg nie! Daar is n ongelooflike lekker GRATIS en VERNIET program wat jy kan doen. Annie Grace se 30 Day Alcohol Experiment. As daar een guns is wat jy jouself kan doen is dit om die 30 dae te doen. Laat my weet hoe dinge vorder!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *