Verbeel ons ons dit, of bring die einde van die jaar baie male groot hartseer mee? Ek bevind my op verskeie sosiale media blaaie, waar dit duidelik is deur die desperate inskrywings, die hulpkrete van sommiges, te veel mense eintlik. Mense kry swaar. Die lewe is swaar. Die swart hond loop wild en snuffel tussen die ruïnes van mense se lewens rond. #kindnesscostsnothing
Ek het self so ‘n verdomde hond wat rondsnuffel in my huis. Die vrees lê maar vlak hierrond, dat dit dalk eendag net te donker kan raak. Mens probeer dit toeplak met ‘n: “Ek is lief vir jou.” Of ‘n, “ons sal ‘n plan maak.” Maar net laas week herinner die onverwagse nuus ~ Stephen ‘tWitch’ Boss, DJ for ‘Ellen DeGeneres Show,’ dead at 40 ~ dat ongeag die vrolikheid op die oppervlak, ongeag die roem, die wonderlike gesin, die ooglopende “perfekte” lewe, hierdie siekte net te veel kan raak.
En ek weet weereens, die lewe is oneindig moeilik vir die meeste van ons. So dis regtig ongevraagd en onnodig van ons om dit nog moeiliker vir mekaar te maak. As mense iets doen wat hulle gelukkig maak, as hulle die lewe leef soos hulle wil…wie is ons om te oordeel? Wie is ons om die eerste klip te gooi?
Pak maar al daai klippe op ‘n hoop, al die vooroordele, al die voorwaardes. En wees net gawer met mense. Oordoen dit as dit moet, maar wees tog net gawer! #kindnesscostsnothing
Dagboekinskrywing: 21 Desember 2022
Op hierdie pragtige dag ~ wat ook December Solstice: Longest and Shortest Day of the Year ~ die langste dag van ons jaar is, is daar iets gewigtig op my hart. #kindnesscostsnothing
Nie een van ons spring hierdie vry nie. Nie een van ons kan ons hande in onskuld was nie. Ons moet die vooroordeel mooi in die oë kyk en eerlik wees oor die voorwaardes wat ons stel.
Ons is maar almal geneig om meer vergewensgesind, meer verdraagsaam en net plein weg gawer te wees met mense wat nes ons is!
Sit ‘n rukkie met daardie waarheid. Sluk ‘n koffietjie af, doop daai beskuitjie en dan laat jy jou gedagtes gaan.
Pas iemand mooi in ons boksie, dan verdien hulle die gawe kant van ons.
Nou wil ek weet ~ wie de donner gee om of iemand in jou boksie inpas? Vir wat moet almal soos ons lyk en doen? Wat traak dit jou en my as iemand nie rietskraal is, of dalk meer ronde kante het? Mense saai haat en nydigheid waar hulle ook al gaan, oor ras, oor immigrante, oor seksualiteit, oor menseregte, of iemand “cool” genoeg is al dan nie. Boksies, boksies, boksies! So word almal oor dieselfde kam geskeer. #kindnesscostsnothing
800 000 (SUICIDE STATISTICS) mense sterf wêreld wyd elke liewe jaar deur hulle eie lewens te neem. Ja ek weet, daar is baie redes daarvoor en nie elkeen van hierdie mense sterf tragies en laat ‘n golf van hartseer agter, net omdat mense naar met hulle was nie. Maar tog, hoeveel dra ons, met ons boksies en ons vooroordele by tot ander se hartseer? Ander se minderwaardigheidsgevoel.
So hier is my wens vir vandag ~ kom ons maak ons impak op die mensdom groter, beter en leef uit plekke van GROTER LIEFDE!
~ As ons iemand sien swaarkry, wees ‘n oor om te luister. Wees net daar.
~ As ons sien iemand is ‘n buitestander, nooi hulle in. Dit vat net ‘n glimlag, net ‘n geselsie soms.
~ As iemand nie soos jy lyk, of soos jy stem, of van jou land af kom nie…mense, mense, mense. Stap in daardie persoon se skoene. Probeer ‘n slag verstaan waar hulle vandaan kom. Pak jou vrese in ‘n skoendoos en reik uit!
Dit breek my hart as ons so naar is met mekaar. Dat ons as mense, met al ons pragtige “waardes” eintlik graag vir mekaar gate wil grawe om die ander een in te begrawe.
Mag jy, ek, ons nie vandag die rede wees dat iemand minderwaardig voel, se hart ‘n bietjie inkrimp en hulle laat ophou dans nie.
Vandag is die dag wat ek my hart wawyd oop maak, soos ‘n waenhuisdeur. Vandag is ook die dag dat ek bietjie sit en dink oor my eie boksies, my eie vooroordele en voorwaardes. Mens moet maar skoonvee. #kindnesscostsnothing
Ek hoop julle voel daarna om dieselfde te doen.
As jy wou, stuur jou joernaal inskrywing vandag na vryheid@wynvlieg.com . Jy kan ook ‘n boodskap los op www.wynvlieg.com.
Love jou stukkies
Ag baie dankie!!