Vol 161:  Kyk net so ‘n houding!

Was so bietjie mos van Eskom se netwerk af die naweek – maar toe verdwyn my hele netwerk sommer.

Ek meen nou die mense een, die een wat vir my toegang gee tot navorsing en ook die lekkerte van skryf. En my houding wou-wou so bietjie skeeftrek. #offthegrid

So nou ’s ek terug op allerhande netwerke, my brein se netwerk skop weer in en tyd vir ‘n volgende aflewering oor die mens en sy houding. Oftewel die mens se ingesteldheid teenoor die lewe en hoe dit ons kan maak of breek. Die naweek van die netwerk af, was ‘n bitter goeie toets vir my houding en sy dinge.

Ek kry ook maar soms so ‘n geneigdheid oor my om negatief te wees oor dinge wat ek nou nie heeltemal so ‘n huppel in my stap voor het nie. Een so ‘n ding is om van die “beskawing”  afgesluit te word.  En met beskawing meen ek nou goed soos warm water, ‘n netwerk wat werk(effe verslaaf aan internet toegang🤪) en dan ook so af en toe ‘n liggie byderhand(laasgenoemde is iets wat ek nog onder die maatemmer kan sit.) O ja, en dan wil mens darem ook nou nie soos Saartjie-gaan-weeshuis toe lyk as jy na ‘n kliënt toe oppad is nie. Soos julle aan die skets van my kan sien – die koppie val maar plat of wip in allerhande rigtings sonder ‘n haardroër byderhand. 


#offthegrid

Maar helaas, die naweek het ek my voorgeneem om my eie raad te volg en my houding mooi positief te hou. En EK HET DIT WRAGTAG REGGEKRY! En weet julle wat, ek het dit geniet. #offthegrid het ek toe my ingehou

Goed, so daar het julle dit. My naweek in ‘n neutedop. Maar nou is ek terug. Dis aflewering nommer vier hierdie. Vir die wat gelees het tot dusver, ek bedank julle en vier julle deursettingsvermoë.  

Vir die wat nou eers die voorreg het😂  ~ ons het al drie vorige aflewerings gehad. Die eerste aflewering Vol 158:  Hoe Lyk Jou Houding het jou houding in oënskou geneem en die invloed wat dit op alles wat jy dink, hoe jy voel en optree in enige gegewe oomblik en situasie het. En dan ook hoe belangrike sake meer belangrik vir jou welstand is as dringende sake is. (Gaan lees gerus as dit jou interesseer.)

Aflewering twee,  Vol 159:  Waarheen Is Jy En Jou Houding Oppad was oor oudword en hoe mens altyd ‘n nuwe perd moet opklim.  Dit hou mens jonk. En dat beheer ‘n lelike woord is, en jou gaan laat struikel. Dat sit en wag vir die wondere van die wêreld om jou te kom toevou, eintlik afhang van die hoeveelheid moeite wat jy insit en nie die geluksgodin nie. 

Die vorige een, Vol 160:  Nou Begin Ons Houdings Spoed Kry het vermaan dat mens nooit te oud is om te droom nie. ‘n Gedroom alleen is ongelukkig nie genoeg nie, mens moet darem ook jou deel doen. Want deursettingsvermoë is die ding wat drome waarmaak. En dan vriende, waak waar jy jou aandag vestig. Want dit wat jy water gee, sal groei. 

Soos ek al voorheen gesê het, die reeksie het ‘n paar senuwee punte raak gekrap. Daar is duidelik stof tot nadenke hier. En ek is bly….mag die res ook as inspirasie dien. En asb. voel vry om ook jou paar sente by te voeg. Ek luister graag! #offthegrid ofte nie

Les nommer vyf: Hou op verskonings maak

Ons is ook maar mens. Daag daar ‘n uitdaging op, is daar iets wat dalkies net so ‘n bietjie meer van ons verg, kyk dan dink ons darem sommer gou ‘n verskoning uit. Ek moet sê die opskrif van hierdie blog, beskryf dit so goed: The Enemy Within: How to Overcome Self-Limiting Beliefs. Daardie vyand hier binne ons, wat ons probeer pootjie om elke hoek en draai. Wat ons laat glo dat ons is nie in staat tot meer, of beter is nie om vorentoe te gaan nie. Alles onder die dekmantel van …veiligheid. #offthegrid raak ons sommer dan!

Don’t let limiting beliefs hold you back. Learn to overcome yours gee nogal stof tot nadenke. Die beperkings wat ons op onsselwers sit, het êrens in die kinderdae begin. Heel moontlik is dit maar daai goed wat ons ouers ook so bietjie gevrees het. Die dinge wat hulle ons teen wou beskerm. Hulle wou jou teen goed gewaarsku het wat geen waarskuwing nodig gehad het nie. Hulle het jou dalk te veel beskerm teen die aanslae van die lewe. Ek en my eie spruit byvoorbeeld, met die obsessiewe kompulsiewe gedragsteuring wat sy kop uitgesteek het so in die vroeë tienerjare. Ek het in daardie maniese tyd die kruk geword. Die een wat moes sê alles is ok. Later raak mens so gewoond aan die rol, aan red, aan keer, aan die anker wees. Dat jy vergeet die einste kind begin dalk glo hy of sy kan nie op hulle self staatmaak nie. 

Dan in daardie tienerjare word al die vooropgestelde idees wat ‘n mens van jouself en jou vermoëns het, mooi vasgemessel. Daar gebeur ‘n paar dinge, wat terloops aan jou bevestig dat wat jy glo die reine waarheid is. #offthegrid, jy sal nooit weer ‘n netwerk maak nie. 

Klink van hierdie dalk bekend…

  • Ek kan nie goed doen op skool nie, want ek is nie akademies nie.
  • Ek kan niemand vertrou nie.
  • Ek kan nie so ‘n snit rok of broek dra nie, want ek is nie maer genoeg nie.
  • Ek kan nie hardloop nie.
  • Ek kan nie regtig skryf nie.
  • Ek kan nie gesonder eet nie, dis te duur.

Die interessante ding is, as jy hierdie stellings net so bietjie anders stel…as jy “kan” met “wil”    vervang…dan lyk dinge heelwat anders nè! Want sien die “kan nie” deel gee ‘n lekker houvasplek vir ‘n Victim mentality. Ja, ek weet dis jou eie groot vyand daar binne jou kop, maar dis ‘n lekker wegkruip plek. Vasgevang in #thegrid, nevermind #offthegrid

Kom ons draai dit op sy kop…

  • Ek wil nie akademies goed vaar  nie…want wat as ek faal en ek wil tog nie so hard leer nie!
  • Ek wil niemand vertrou nie…want daar is ‘n bietjie risiko hier.
  • Ek wil nie daardie rok of broek dra nie…..want net nou praat mense van my. 
  • Ek wil nie hardloop nie…want ek is nie lus vir die uithou en aanhou nie.
  • Ek wil nie skryf nie….want dit vat tyd en dissipline en ek het tog so baie ander dinge om te doen.
  • Ek wil nie gesonder eet nie….want dis makliker om gemorskos te verorber. 

Vir elke een van daardie verskonings, is daar natuurlik die teenkant te bewys. Jy kan akademies presteer…dalk nie die dux leerling wees nie, maar as jy hard werk, kan jy tog goed doen. Jy kan mense vertrou, hulle gedrag het geen impak op jou nie. Dis oor jy nie wil seerkry nie. En so kan ek seker aangaan nè!

So waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg. Ons moet ophou om die minste van onsself te glo. Ons moet ophou om te skuil agter ons sogenaamde tekortkominge. Dis alles blote verskonings. 

Les nommer ses: Kermkouse kom nêrens in die lewe nie


My pa het so ‘n gewoonte gehad om ‘n berg van ‘n molshoop te maak. Die ou mense het seker nie regtig ‘n woord daarvoor gehad nie, maar die man het vermoedelik die depressie geen gedra. Met ‘n goeie skeut angs daarby. Boonop was sy arme moeder definitief depressief en is hulle nie juis geleer hoe om te “cope” nie.

Laat ons maar net sê, my pa het goed getrou. 😝. My ma kon ‘n gekerm en gekla nie verdra nie. Menige dag as hy so daar in die kombuis om haar kom hang het en net wou-wou kla oor iets in die boerdery, het sy hom vinnig uitgejaag met ‘n: “Lyk my jy is verveeld dat jy so baie nonsens kan uitdink om oor te kla. Gaan werk, dan voel jy ook beter!” Nou ja, effe ongenaakbaar en ons kinders het ook vroegdag geleer, kla jy, word jy in die werk gesteek. #offthegrid ofte nie

Sien as mens eers aan de kerm gaan, as jy begin blameer, of ‘n verskoning soek ~ dan is jy besig om tou op te gooi. Dis net die maklike weg. Want jy hoef nie verantwoordelikheid vir jou lewe te neem nie. 

Soos hierdie artikel… How to Change Your Mindset to See Problems as Opportunities dit stel, party mense raak so vasgevang in die uitdaging voor hulle, dat dit hulle heel uit stres en onproduktief maak. Met ‘n gekerm, blameerdery of ‘n  permanente verskoning gesoekery…raak jy so gefokus op die uitdaging, dat jy glad nie die verskeidenheid oplossings aan die ander kant kan sien nie. Die paaie om die uitdaging. 

#offthegrid
#offthegrid

Enige mens kan hulleself aanleer om positief te wees. Die les te leer, dat  Positive Visualization: Priming the Mind for Performance

As jy jouself dalk net verby daardie skaal kan kyk, ‘n weergawe van jouself sien wat gesond is. Wat energie het, wat met gemak op die strand kan baljaar in Desember. Dalk dan, is dit nie so ‘n stryd om die roomys in die vrieskas te los of die pak skyfies vir die kinders nie. As jy jouself kan visualiseer as ‘n hardloper, wel, wie weet…dalk kan jy een van die dae ‘n blok ver loop, i.p.v. op jou alie voor die TV sit. 

As jy jouself kan visualiseer as hierdie reisiger, iemand wat sommer elke maand ‘n ander bestemming besoek. Wel dalk is daar dan minder verskonings van te besig wees, of ‘n eggenoot wat jou vasklou of so iets. Ek sê mos maar net. #offthegrid is dan ook ‘n opsie🤭

Dis dit…

Ek mag so positief groot gemaak geword het, maar glo my vry. Ek het ook baie werk aan my houding in daardie opsig. Is effe hardkoppig. Maar dan raak ek ook sommer moerig vir myself, want sal ook allerhande verskonings uitdink om my eerder by ander mense se wil en weë te laat insleep. Dan waai positiwiteit by die agterdeur uit en raak ek knorrig. 

Maar ‘n gekerm en geteem kan ek nie vat nie. Verskonings van wind wat te veel waai om te oefen, of dis te koud, laat my ook sommer koud. Dis eintlik maar net ‘n verskoning, ‘n EK WIL NIE. 

#offthegrid

So wat van ons is net eerlik met onsself en ander – sê wanneer jy nie wil nie. Dis ook ok. Maar moet nie jouself bluf om te dink van sit en staan kom iets gedaan nie. Sien julle dalk #offthegrid


Laat hoor van julle. Wat is jy bereid om voor op te daag? Skryf vir my by vryheid@wynvlieg.com of los vir my ‘n boodskap by www.wynvlieg.com.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *