Oor My
Ek is ek…hier is ‘n paar dinge wat jy dalk van my wil weet:
Ek het op die platteland grootgeword as ‘n plaaskind. Ek was ‘n laatlammetjie, geliefd en soms bitter alleen. My eerste liefde was my ma. Sy was my noord, my suid, my alles. Sy was die hoeksteen vir die goeie in my en óók die beginpunt van my grootste struikelblokke.
My Storie
Ek was ‘n koshuisbrak van die ouderdom van 6 jaar oud. Dit was terselfdetyd die beste en die slegste ding wat met my kon gebeur.
Ek was nie gewild genoeg, mooi genoeg, sportief genoeg, maer genoeg of hulpeloos genoeg om die eerste span se kaptein of enige noemenswaardige tienerseun in die skool se aandag te trek nie
Ek was leerlingraad, akademies sterk genoeg, êrens ‘n hoofdogter en ‘n skoolkoerantredaktrise. Ek kon sing en drama doen – maar diè goed tel nie as jy ‘n tiener is nie. Gewildheid tel.
Het die universiteitsding gedoen, verlief geraak, gesettle….soos in moes. Advertensiewese geswot – my dam se eende ontmoet. Die verpligte jaar oorsee gedoen, miljoene kg’e opgetel…soos ‘n walvis en ‘n tweederangse burger gevoel. Nou nie juis die “Vergeet my Nie” ervaring nie.
Advertensiewese betree – beste tyd van my lewe. Ek het behoort…alles was vinnig, lekker en ek het iets beteken, was gewild. Getroud, kind gekry(beste produk van my hele bestaan), geskei, impossible verhouding gehad en toe weer getrou met nog ‘n Ram.
Suksesvolle, wonderlike beroep in die wynbedryf gehad en nogsteeds. My lewe is gewoon, my lewe is bo-gemiddeld goed. So wat het ek om te bied wat nou juis so anders is, so asemrowend en lewensveranderend?
Niks, behalwe my storie.